Table of contents
Share Post

Hoe kan ek dankie sê vir die Here. Vir die Een wat my gered het van sekere dood. Wat my vrymaak van sonde deur my aan te hou heilig soos wat ek my lewe aan Sy heerskappy onderwerp. Ek weet God wil my nie los soos ek is nie, Hy het groter en beter planne vir my voorberei. Hy ken my potensiaal.  

Hy sorg vir my dag tot dag, in die kleinste besonderhede, wanneer ek Hom vertrou, tot Sy verheerliking. Sy goedheid en guns volg my waar ek ook al gaan. Net die wete van Sy teenwoordigheid lig my gemoed en help my om voort te gaan. Hy is nog nie klaar met my nie. 

Hy gee my Sy Gees om my te lei, vertroos en te help wanneer ek dit nodig het, en ek het dit die heeltyd nodig.  

Hy belowe my ‘n erfdeel – homself, alles wat God is en het,  deel Hy met my, deur my deel te maak van sy familie. Hy gee my die voorreg om Sy beeld op aarde te vertoon. Ons is nie God nie maar ons kan soos Hy lewe. Ons kan doen wat Jesus gedoen het, en nog meer. 

Hy gee my ‘n naam en identiteit, nie dit wat ek of die wêreld sê ek is nie. Nee Hy weet, Hy het my gemaak. Hy fluister in my oor, Hy belowe dit oor en oor in Sy Woord – “ek het jou geroep, jy is Myne. Ek het myself geheel en al vir jou gegee, want Ek, die almagtige God, is lief vir jou”. 

As jy God se hart vir jou hoor, hoe kan jy anders as om in gehoorsaam te antwoord op God se roepstem met ‘n lewe van dankbaarheid. 

Getuig my lewe van dankbaarheid vir wat God gedoen, doen en gaan doen in en deur my lewe? 

As ek in nood uitroep, “Vader!” – antwoord Hy, “Hier is ek my kind”. 

“Wees heeltyd dankbaar teenoor God, wat ook al met julle gebeur. Dan stap julle op die pad wat God vir julle beplan het toe julle in Christus Jesus begin glo het.” 1 Tessalonisense 5:18 

“Wat Ek wel wil hê, is dat jy met jou lewe vir My dankie moet sê. Gee en doen vir My, die Allerhoogste, wat jy belowe het. As jy probleme het, roep My om te help en Ek sal jou help. En jy moet vir My dankie sê.” Psalms 50:14-15

Indien jy waarde vind in KleiTablette, maak asb ‘n donasie om dit aan die gang te hou?

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius