Die mis lig vanoggend sliert-sliert uit die vallei op en onthul ‘n landskap wat dig toegetrek is met ’n lappieskombers van bloekom- en denneblokke, en kaal stukke gevelde hout. Die lug ruik vars en maak energie los in my are. Ons het vir ’n paar dae weggebreek na ’n asemrowende gasteplaas hier in die hartjie van die woud, ver weg van die gejaag. Ek proe my koffie met ‘n dankbaarheid wat diep in my hart bolmakiesies maak. Ek word herinner aan die ontwakingsproses waardeur ons almal gaan. Hier in die paradys is dit nie moeilik nie, daar is nie regtig haas nie.
Nou die oggend, of moet ek sê in die onnatuurlike vroeë ure van die dag, het ek en Vroulief (my liewe Stienie) die edele besluit geneem dat ons gaan opstaan om te oefen. Julle ken mos daardie voornemens wat jy die vorige aand met soveel passie maak? Wel, toe die wekker daardie genadelose geluid maak, was die bed ’n hemelse warm nes en buitekant ’n yskoue realiteit. Ek het my bes probeer om onsigbaar te raak onder die donsduvet. Maar Stienie, geseënd is sy, het met soveel vrolikheid die komberse afgeruk dat ek skoon na my asem gesnak het. Met ’n “kom ons gaan, ou grote!” het sy my letterlik uit my gemaksone gedwing. Ons het buite in die koue gesidder, maar teen die tyd dat ons hartklop op was en die son begin loer het, was die vreugde en lewenskrag onbeskryflik. Die lewe buite die bed was oneindig beter as die oombliklike gemak daarin.
Dit laat my dink aan ’n diepgaande gedagte uit George MacDonald se boek, Thomas Wingfold, Curate. Hy skryf oor die hartseer tragedie van mense wat uit hul geestelike slaap ontwaak. Ons word bewus van die Lig, maar dan weier ons om uit die bed op te staan. Ons word wakker, maar ons bly lê.
Die Lokval van die Warm Bed
In my joernaal het ek onlangs die volgende neergepen: Gee my net Jesus. Bring my nader, ek maak my hart oop om U waarlik te KEN. Herinner my, Heilige Gees, aan die Man wat verlossing volkome voltooi het. Word wakker en STAAN OP!!! Ons bly so maklik in die bed, al te dankbaar vir redding, vol van onsself. So dankbaar dat Jesus ons red vir ons, terwyl Hy ons eintlik red vir Hom. Vir Sý doel en Sý plan.
Dit is presies die lokval waarin ons verval—die stille, gemaklike vermoë om ons eie god te wees. Die strik is ’n warm bed van gemak, lamsakkigheid (sloth) en selfsugtige oordaad. Ons is so bly Jesus het ons gered sodat óns hemel toe kan gaan, dat ons miskyk dat Hy ons gered het vir Sy epiese plan hier op aarde.
Sonder twyfel kan ek bevestig dat ek ‘n biologiese man is. Ek het al ‘n toets gedoen. Ek assosieer as ‘n man en is dankbaar vir die unieke vorm waarin God my gegiet het. Daarom praat ek in hierdie reeks met al ons manne. Ek praat ook reguit vanoggend met my eie gemaklike self. Manne, God se siening van ’n man verskil radikaal van die wêreld s’n. Die wêreld sê ’n man heers deur krag, rykdom, en om homself te dien. God se Woord sê ’n man is ten volle lewend wanneer hy dien, wanneer hy sy lewe neerlê, en wanneer hy aktief deelneem aan die herstel van God se koninkryk.
In hierdie reeks van Kleitablette gaan ons na vier dinge kyk – die 4 S’e, of skerpskutters, wat daarop gemik is om ons uit te haal sodat ons nié as manne van God lewe nie:
• Sloth (Geestelike luiheid en traagheid)
• Silver (Die verleiding van geld en rykdom)
• Self (Hoogmoed en ego)
• Seks (Seksuele onreinheid en afleiding)
Vandag skop ons af met die eerste groot sluipmoordenaar op ons lewe: Sloth.
Sloth: Die Geestelike Slaap
Luiheid (sloth) in die geestelike lewe is nie bloot om op die rusbank te lê terwyl die gras gesny moet word nie. Dit is ’n geestelike apatie. Dit is daardie gesindheid wat sê: “Ek is gered, my kaartjie is geknip, nou gaan ek net gemaklik wag tot Jesus my kom haal.”
Dink so daaraan: Jy is soos ‘n kragtige kettingsaag. Jy is robuust aanmekaargesit met ‘n baie spesifieke, hardebaard doel in God se koninkryk. Maar op jou eie, sonder brandstof of die ferm greep van die Meester op die handvatsels, is jy net ‘n swaar stuk metaal wat in die skuur lê en stof opgaar. Geestelike lamsakkigheid (sloth) is om tevrede te wees om net so op die rak te bly lê—veilig, blink, en heeltemal onaktief. Maar die oomblik as ons in ‘n lewende geloof bly, is dit soos om die enjin te laat brul. Ons laat Jesus toe om die stuur te neem en Sý krag deur ons te laat vloei. Skielik word ons in Sy hande gebruik om deur die hardste, dooie omstandighede in ons gemeenskap te sny, sodat daar weer plek is vir nuwe hoop en ware lewe.
Wanneer ons in daardie warm bed bly lê, verbeur ons die absolute vreugde en oorvloedige lewe wat Jesus vir ons bewerkstellig het. Toe ons saam met Hom gesterf het aan ons sonde, is ons saam met Hom opgewek—nie om te gaan inkruip in ‘n gemaklike posisie nie, maar om in Hom te floreer, geanker in Sy Vrede, Vreugde en Voorsiening.
Staan Op in Sy Krag
Paulus verwoord in Filippense 3:10-11 (Die Boodskap) hierdie smagting na ‘n aktiewe, opgestane lewe in die intieme eenheid om Christus waarlik te ken:
‘Een ding wil ek nou regtig graag hê, en dit is om Jesus te ken. Daardie krag wat Jesus lewend uit die graf laat uitstap het, wil ek ook hê. Ek wil nie weghardloop vir lyding soos Jesus s’n nie, al beteken dit ook dat ek soos Hy moet sterf. Ek weet tog dat ek soos Hy eendag lewendig uit die kloue van die dood sal stap.’
Daardie opstandingskrag is nie veronderstel om in ons te sluimer nie; dit móét oorvloei. Die manier hoe die wêreld sal sien dat ons werklik opgestaan het uit die dood van sonde, is in hoe ons opstaan en mekaar liefhet. Liefde is aktiewe opoffering vir ander. Ons stap oor die straat, ons dien die persoon wat ons irriteer, en ons weerspieël Sy genade in die alledaagse.
Kom ons raak vandag stil by die Heilige Gees. Laat ons in verwondering staan voor Hom wat ons deur genade vrygemaak het, deur geloof in die mees epiese reddingswerk van Jesus.
My Gebed vanuit die Woud
My gebed vandag, hier in die rustigheid van Magoebaskloof, is vir méér van Hom, in die wete dat Hy méér van my wil hê. Om te weet dat Hy Homself nie vir ons wegsteek nie, is die wonderlikste werklikheid. Begin vanoggend deur op te staan en te bid vir jou vrou of geliefde.
Here, ek bid dat Stienie U sal ken as gevolg van my—dat sy sal weet HOE baie U smag na elke stukkie van haar. Dat U by haar wil wees, saam met haar wil dans, met vreugde saam met haar wil stap en gesels oor alles wat haar bekommer. Dankie Jesus dat U my pleidooi hoor. Trek haar asseblief nader, bloot oor hoe baie U haar liefhet. Laat U liefde haar toevou soos ek opstaan en myself vir haar gee.
Gooi daardie komberse van self-beheptheid en geestelike traagheid af. Hoor Vader se uitnodiging na ‘n avontuur wat oneindig beter is as jou gemaksone.
(Volgende keer kyk ons na die tweede sluipmoordenaar van ons roeping: Silver. Tot dan, mag julle Sy genade voluit leef!)
Indien jy KleiTablette se stories geniet, maak ‘n donasie vir die volgende generasie!

