Table of contents
Share Post

Hierdie woordjie, afhanklikheid, bring gewoonlik negatiewe gevoelens van mislukking en moedeloosheid in ons gedagtes op. Want om hulp te vra is verkeerd – ons wil self. Ons ervaar hierdie gevoelens gewoonlik wanneer ons nie kan doen of bereik wat ons graag wil nie. So ons laat vaar ons doelwitte of drome, terwyl ‘n hand of ander perspektief van iemand net die motivering of katalisator kon wees om jou nader aan jou doel te bring.  

Toets jouself, hoe gemaklik is jy om iets van iemand te vra in ‘n heilige of eerbare saak. Hoe maklik is dit om te erken dat ek hulp nodig het. Ek bevestig net die onderskeid tussen afhanklikheid en parasitisme. As jy mense nodig het om net jou self te vereer en te verryk, is dit parasitisme (hierdie is my eie verstaan van ongesonde afhanklikheid) 

As ons sukkel om hulp op aarde te vra van mense wat eintlik ook hulp nodig het, hoe moeilik moet dit wees om die almagtige en heilige God van hemel en aarde te vra? 

Ons almal het verseker en sonder twyfel die Here nodig om te lewe vir Hom. 

“Ons is in alles van die Here afhanklik. Hy help en beskerm ons.” Psalms 33:20 (DB) 

Afhanklikheid mag dalk ‘n vloekwoord in die Westerse kultuur wees, maar in God se koninkryk is ons afhanklik van God, want sonder Hom maak ons net droog. 

“Ek is die druiwestok, julle is die lote. Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.” Johannes 15:5 (NLV) 

Dit is voordelig om te lewe in volkome afhanklikheid van die genade, liefde, vergifnis, krag, voorsiening, leiding… van God, want HY is wat ons nie kan wees nie. 

As hierdie boodskap aan jou krap, vra vir God om vir jou te wys waar jy jou vertroue plaas. Hy sal jou in die volkome liefde en genade van Sy seun Jesus Christus wys hoe om op Hom en Sy waarheid alleen te bou. (Mat 7:24-27) 

God wil jou lei en help, vertrou hom, jy het Hom nodig. 

Indien jy waarde vind in KleiTablette, maak asb ‘n donasie om dit aan die gang te hou?

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius