Daar is plooie en dan is daar groot plooie. Soos my ou tante van Christiana altyd gesê het, “jy lag dat die plooie oor mekaar vou”. As klowe en kranse in die aarde, die vreugde van die Skepper uitbeeld, het ek myself onlangs in die middel van God se heerlik lag bevind. Dis ‘n lag diep uit Sy maag. Alhoewel daar geen klank betrokke is nie, kan mens in die voue en frommels van duisende jare sien hoe gelukkig God was met wat hy gemaak het. Die voorreg is groot om deel te kan wees van daardie ekstase oor iets so majestueus dat mens nie ander kan as om jou oë op te slaan in nederige aanbidding nie. Daarom griffel ek weer op ‘n kleitablet en deel so bietjie ‘n ervaring wat my soos stof laat voel het.
Noudat Vroulief en ons spannetjie ons gedra soos pak donkies, wat vir opwinding ons klere, kos, eetgery, panne, potte, ketels, stowe, matrasse, tente, pleisters, flitse, koffiegemaal, stokke, stewels en toiletpapier saam dra en oor berge en dale galop, het mense van onse kerk ons genooi om saam met hulle die Visrivier te gaan stap. Sonder om daaroor te slaap het ons ingestem en van vreugde begin runnik. Na ons Otter eskapades was ons seker dat die Visrivier ‘n vulletjie gaan wees. Min het ons geweet dat hierdie Vis is gevaarliker as sy blaf.
Op die eerste dag van die koudste maand in ons Heer se jaar twintig drie-en-twintig (dis nou Julie), daag ons goeie vrinne met hulle 4×4 stasiewa hier op en gooi ons tasse in ‘n klein kattebak en ander mense se goete op die dak-rak. Die kleine kattebak is as gevolg van die sewe lywe wat al die moontlike stoele vol sit, vir ons toer na die Vis toe. Die Vis is in Namibië, die land van sand en sand.
Ons pakkasie vir die stap is reeds in ‘n bakkie saam met ander lede van ons trop oppad na die diep plooi. Ons mik wes en seil deur die weste van Transvaal, die Noordkaap tot by Upington waar ons langs die Oranje rivier oornag. Dis regtig koud langs daardie rivier, en hy is nie regtig Oranje nie.
Dis weer donker as ons in die pad val en probeer ontbyt uitsnuffel in Upington. Ons kry daardie restaurant met die groot M oop en maak ons tenks vol vir die laaste stuk tot by Ai-Ais. Ons ontmoet baie vriendelike mense wat die grens beman en betree ‘n wêreld nie veel anders as die Noordkaap nie. Die opwinding bou soos ons al nader kom aan die natuurlike skeur in die aarde. Die grondpaaie in Namibië laat Wes-Transvaal se teerpaaie pateties lyk.
Na ‘n baie lang reguit grondpad sink die aarde weg tussen ‘n paar swart ysterklip koppies en kronkel na benede. Dit is die vreemdste ervaring, om ewe skielik deur die aarde ingesuig te word en wat soos plat aarde gelyk het is nou klowe en kranse rondom ons. Ons ry verby ‘n geel padskraper wat sy drywer se huis saam sleep en dan verskyn ‘n plekkie soos ‘n cowboy dorpie. Daar is ‘n klomp klip mure en ‘n groot ‘saloon’. Dis omring met palm bome en daar staan ‘n klomp karavane en tente rondom ablusie geriewe. Ons klim uit en moet onmiddellik ontslae raak van al ons warm klere. Laaste goed word gepak. Baie ekstra goed word gestroop en gelos, want die gesoute stappers laat weet die eerste keer stappers dat onnodige gewig jou kan onderkry. Ek dink ons dra baie onnodige gemors in ons lewe saam, goed wat Jesus klaar gedra het, eens en vir altyd. Dan wonder ons hoekom is die reis hier op aarde so moeilik.
Ons slaap vir oulaas in ‘n sagte bed, waar ons nie eers die wind hoor fluister nie. Vroeg volgende oggend is ons klaar ongeduldig om aan die stap te kom. Al weet hulle ons is haastig word ontbyt eers gewone tyd uitgesit. Ons gooi gou ‘n roosterbrood, ‘n worsie en eier in die keel en klim in ‘n minibus en ry weer terug uit die kloof en om tot by die begin van die Visrivier staproete waar ons die afgrond in moet sak.
Ons teken in by Hobas en gaan gebruik die toilet geriewe vir ‘n laaste keer voor ons die natuur gaan gebruik soos in die, BAIE, ou dae. Die bussie ry tot by die rant van ‘n kloof wat uitkyk oor ‘n reuse plooi in die grond. Dis sommer ‘n klomp plooie, plooie in plooie. Diep en wyd, soos die Heer se genade. Maar voor ons lê ‘n afklim wat Tafelberg soos ‘n vratjie laat lyk.
Mense van Johannesburg staan daar en gaap van verbasing oor die dieptes voor hulle. So kom ons aangestap, elk met net ‘n rugsak en ‘n stapstok. Hulle begin sommer dadelik ‘sterktes’ en ‘voorspoede’ uitdeel. Hulle neem vir ons groepsfotos, sodat hulle weet ons was 10 wat daar af is en 10 wat anderkant moet uitkom.
Ons begin deur saam te bid, want ons weet hierdie is nie ‘n stappie by die boeremark nie, dis ‘n vallei van donkerte, waar die bobbejane nie eers ontsnap nie. As jy eers in is, moet jy deurdruk.
So sak ons na benede. Dieper en dieper die plooi in. Ons klouter af teen rotse. Elke nou en dan moet omgedraai word om vas te hou sodat ons nie afrol nie. Hoe dieper ons gaan hoe meer kom daar ‘n stilte van eerbied. ‘n Stilte van eerbied vir die grootheid wat rondom ons styg. ‘n Nederigheid vir hoe klein ons is. Ons sit gereeld en wag vir die hele geselskap om op te vang. Met tye word bewende bene gelawe deur fikse mense wat hierdie bene se sakke oorneem. Daar is van die begin ‘n kameraderie wat min mense verstaan.

Onder in die canyon vind ons ‘n groot groen poel water. Ons het nog net gesak en dis klaar middag ete. Water word gefilter en kos word verorber. Die jongste (13 jaar oud) neem ‘n vinnig dip en laat weet ons die water is yskoud. So ons stap aan, ons het nog vyf kilometer voor ons kamp opslaan.
Tent opslaan is nie moeilik nie. Dit vat 5 minute. Maar dit vat ook 5 minute om te besluit waar en watter rigting jou tent gaan staan, en dis 5 minute wat ons nie daardie eerste aand gebruik het nie. Die eerste helfte van die aand rol ons oor mekaar na die een kant toe. Die tweede helfte slaap ons in die fetus posisie dwars oor die tent. Heerlik uitgerus die volgende oggend begin ons met ontbyt en koffie, opslaan en wegpak. En daar gaan ons weer.
Dag twee word ons nog kleiner, as ons weg raak tussen rotse wat los in die rivier bedding lê. Die reuse stene is so groot soos ‘n dubbel-as Jurgens wat op sy kop staan. Ons moet mekaar mooi volg anders raak jy weg in die doolhof van steroïed belaaide rotse. Dit is asof mens net al hoe kleiner word hoe verder ons sak in hierdie grootheid van die natuur. Ons stap verby ‘n warmwater bron en swem in die poele daar naby. Dis die naaste aan ‘n bad wat ons gekom het.

Tweede aand slaap ons ver van die snorkers en neem geduldig die vyf minute om ons tent te posisioneer sodat ons reguit kan slaap. Water word gefilter en ‘bladders’ en bottels word volgemaak. Kos en koffie word gekook en met vol magies en moeë lywe kruip ons vroeg in. Ek raak bewus van hoe klein ek is hier tussen God se glorie. En dit is oukei, want ek het nie veel van ‘n keuse nie. Ek is net stof, ‘n stukkie van hierdie groot heelal, geskape om te getuig van ‘n goeie God.

Volgende oggend gaan al hoe vinniger. Vroulief en ek is nou al geolie. Sy maak die tent aan die kant en ek pak die sakke en kook die water. Ons doen alles in die natuur – en waardeer die klein goedjies by die huis soos toilette wat kan toemaak.
Dag drie is ‘n lang en aanhoudende stap. As ons nie op sand stap nie, hop ons van een ronde klip na die volgende. Die water is skaars en dit beteken ons kan reguit lyne stap van die een draai na die volgende draai. Dit beteken ook ons moet beplan waar ons slaap. Met die son wat reeds lang skadus gooi kry ons nie die beplande water om by kamp op te slaan nie. Gelukkig het vorige stappers al inligting gedeel oor waar ons die water presies kan vind en dit beteken ons moet ‘n entjie terug stap en afdraai van die roete. Ons besef hoe belangrik dit is om mekaar se oorwinnings oor die elemente te deel met die wat na ons kom. Dis nie net waar met staproetes nie, maar ook met oorwinnings oor vrees, depressie, trauma, sonde, verslawing, onvergewensgesindheid, selfs die natuur.
Daardie aand slaap ons in die middel van die wye oop, droë rivier bedding en word nog kleiner wanneer die sterre ons toe maak in ‘n glinsterende kombers. Ons staar vir ure na iets wat ons hier in die stad mis. Dis nog wyer as die plooi waarin ons stap, en elke nou en dan skiet dit van lekker kry.
Dag vier is ‘n lang dag. Die paadjie kronkel voort en hier en daar klim ons ‘n entjie uit die canyon om ‘n kort pad te neem. Maar eindig elke keer weer langs die droë rivier. Daar is hierdie jaar watertenks uitgesit wat gevul word met water as gevolg van die droë jaar. Ons is baie dankbaar om water te neem sonder om dit te filter.
Na die einde toe raak die plooi al vlakker en al wyer. Op plekke is die kranse klein en die stof sand so wyd jy stap vir baie lank in een reguit lyn. Amper soos die pad tussen Vryburg en Kuruman. Gelukkig is daar ‘n nou paadjie al uitgetrap deur die wat al daar was. Dit help om koers te hou tussen niks, tussen sand en verstrooide klippe. Tussen die stof wat deur ons voete opgeskop word.
In hierdie oopte word ons nog kleiner en dit is in ‘n oomblik wat ek alleen op die paadjie staan dat ‘n versie by my opgeskop word. Die onthou warrel in my gedagtes en ek besef wie ek is en wie God is. Vir daardie heilige oomblik kan ek nie anders as om bly te wees dat God weet wie ek is en waarvan ek gemaak is. Ek is net stof, en God weet dit. Maak nie saak wat ek dink of die wêreld wil vertel, Hy ken my. Dit bring verligting. Dis net so asof God my laat weet, hou aan, ek het jou.

‘n Koel briesie kom ruk my terug na die voetpad en my voete kry lewe. Ons stap aan, verby nog baie stof en sand, verby miljoene klippe en ‘n pienk paleis.
Die laaste aand slaap ons soos konings by Bikini beach. Eet die lekkerste en laaste dis op ons menu en gaan slaap weer vroeg. Die volgende oggend is ons so vinnig klaar, ons begin in die maanlig te stap. Dankie Vader, vir die vol maan wat elke aand die plooi in ‘n silwer lig verhelder het.
Ons stap die laaste paar kilometer met die son wat opkom en die koelte is vars. Ons voete en bene smag na klaar wees. Maar ons siele is klein en nederig, terwyl ons deel in die groot vreugde van die een wat ons gemaak het uit stof. En ons glimlag so lekker dat ons plooie oormekaar vou as ons die ‘Amper daar!’ klip sien. Ek is bly, en weet dat daar nooit genoeg woorde in die wêreld sal wees om te beskryf waardeur ons gestap het nie.
Ons word gegroet met ‘n applous van die kampeerders en die ‘saloon’ se personeel. En ‘n klok word gelei om aan te kondig dat ‘n groep brawe stappers die Visrivier voltooi het. Ek verkies die stilte daar binne die Vis. Die geleentheid om te herken wie ek is en wie God is. Maar nou lê die stof hier binne my hart en dra ek die stilte elke dag saam.

Indien jy waarde vind by KleiTablette se stories, maak asb ‘n donasie om dit aan die gang te hou?

