Table of contents
Share Post

Daar is min dinge so lekker as om jou lippe met Afrikaans af te lek – of sal ek eerder sê met jou Moedertaal. Dalk klink dit asof ek dink Afrikaans is ‘n hemelse taal. Of is dit? 

Stories kan soms ophoop in my storie-stoor. Ek dank ons goeie Vader dat hulle nie ‘n vervaldatum het nie. Dit is eintlik ‘n geval soos goeie wyn, kaas, whiskey of Prosciutto, dit word net lekkerder hoe langer dit lê. ‘n Ding wat ek glo ons weer moet begin koester, soos tant Driekie sou sê. Want daar is ‘n generasie wat die waarde van wag, verloor het. 

Terwyl hierdie stories in die houtvat by kamertemperatuur gelê en waarde voeg in tyd se verby gaan, het my lewensrivier aanhou vloei. Meer en voller, soos ‘n rivier wat amper by die see sy draai al stadiger maak. In genade is daar soveel meer sytakkies wat die stroom voed. Soveel mense wat in my lewe goedheid stort. Maar ek moet ook gaan walle en wagte plaas waar dinge onwetlik gestort word. Dit is ‘n ewige stryd wat net al hoe makliker word, want die booswigte raak vinnig moeg. Ek glo dis omdat die Een wat in ons is, sterker is as die een in die wêreld. 

As julle net gou vir my ‘n geleentheid gee om die kinders te gaan bystaan om by die skool uit te kom. Maak ‘n koppie tee, kry ‘n glasie ingelegde druiwe of graan, sny ‘n repie Prosciutto, ek is nou terug. 

Soms is die intensies edel en die uitloop heilig. Maar ek erken, ek het oppad terug van die skool eers ‘n paar (paar is tien) pannekoeke gekry by oom Johann die pannekoek-man. Ek vier fees vanoggend want dit is nog net 18 dae dan draai die aarde weer terug na die sonkant. Om ‘n pannekoek by oom Johann te kry is soos vir ‘n katoliek om te gaan bieg. Jy kom net soveel ligter daar weg. Dan maak jy jou maag swaar met pannekoeke. Maar dit is ‘n storie vir ‘n ander dag.  

Met swaar maag en koffie wat stoom stadig afskei, hier in die houthuis, dink ek aan ‘n jaar terug toe ons weer moes grendel en ek kon by die huis werk. Dit was toe ek ‘n tydelike werk aan die kant geneem het om te leer dat my roeping eg is. Dit was koud en onpersoonlik hier in die houthuis. Maar meer koud as onpersoonlik. Ek onthou hoe ek op Span-oproepe hier gesit en bewe het terwyl my ontdooiende vingers gesukkel het om te tik. Ons Vader se goedheid en guns het my gevolg tot waar ek vandag sit en tik met warm hande, maar meer ‘n warm hart. ‘n Hart om die genade van God te verkondig. Ek het nie gedink dit is wat Sy plan sou wees nie. Sy plan is baie beter as wat ek ooit kon droom of dink. Mense word aangeraak deur Jesus se liefde, daar waar ons onsself beskikbaar stel om Sy goedheid en guns te deel. 

Soveel stories wat rondom ons gebeur. Stories van genade en voorsiening. Ek kan nie vir julle verduidelik hoe geseënd ons is nie. Maar ek gaan probeer.  

God het ook vir my ‘n doring in die vlees gegee, soos oom Paulus, en nee dit is nie Vroulief nie. Sy is ‘n kroon en halssnoer van wysheid wat ek altyd saam met my wil dra. Ek kom agter dat my brein funksioneer soos ‘n Pentium 1. Julle wat my ouderdom is, sal weet van hierdie goed genaamd Pentiums. En ek glo as jy ouer is en ingenieurswese gestudeer het sal jy ook weet, want dit het jou lewe aansienlik makliker gemaak. ‘n Pentium is ‘n rekenaar prosesseerder wat ligjare beter was as die ou i486. Dit was in 1993 vrygestel en hulle moes nuwe beheerstelsels vir rekenaars skryf om hierdie prosesseerders te kon gebruik. Dit het die prosesseringskrag van rekenaars oornag eksponensieel vergroot. Dit kon ‘n 100 miljoen verwerkings per sekonde doen. Dit was besonders. Vir die tyd was dit ‘n fantastiese vooruitgang. Maar probeer enige program of speletjie van vandag op ‘n Pentium hardloop. Dit werk nie. 

Dit is ‘n eerlike erkenning van my tekortkoming om dinge aansienlike stadiger te prosesseer as ander. Dit is frustrerend en pynlik om te moet erken dat ek nie verstaan nie, maar gee my tyd ek sal uiteindelik daar uitkom. Ek is daarom al te dankbaar dat ek ‘n vrou getrou het met ‘n generasie twaalf Intel Core i9 prosesseerder (dit is vir nou die nuutste). Wag ek praat nonsens, hoor ek vir Vroulief in my gedagtes. Haar brein kan nie vergelyk word met al die prosesseerders saam op planeet aarde nie. Sy prosesseer ‘n 100 dinge in ‘n oogwink terwyl sy glimlag en beplan vir volgende week se ontbyt.  

Ek het al vir God gebid dat hy my moet help met hierdie tekortkoming, en al wat ek beleef is dat Hy my gebruik net soos ek is, as ek Hom toelaat. Ek moet nie staatmaak op my brein nie, maar op my geloof in die Gees van God wat in my is. Die vrede wat ek hierin vind is hemels. 

Een oggend terwyl ons vroeg by die skool wag om die klerewinkel eerste oop te vind, staan ek en kyk hoe ouers hulle kinders afsien by die hek. Dit raak eintlik ‘n vreugdevolle aanskoue van ouers, grootouers of geliefdes wat met ‘n ritueel hulle kleingoed afsien. Die junior fase is al klaar so oulik, seker omdat hulle nog hulle ouers as helde beskou.  

Die een man gee ‘n drukkie by die hek en stuur dan sy seuntjie in terwyl hy by die hek wag en die kind met ‘n valkoog dophou terwyl die kind op hardloop met die trappe. Pa skree agterna “waai my as jy bo is”. Met opwinding wag die pa tot sy blondekop seun by die boonste verdieping op sy tone gaan staan en afkyk na sy pa en dan met ‘n groot bek vol hase vir hom lag en waai. Pa kan maar gaan. 

‘n Ander klein dogtertjie kom saam met haar ma en klein boetietjie daar aan. Ma en dogter met selfde haarstyl, ek kan sien hulle trek aan om te beïndruk, al twee die madams met ‘n weg neem koffie in die hand. Boetie hardloop net in by die hek en skree ‘n koebaai na sy Ma en sussie, hy lyk nie lus vir hierdie gefêf nie. Ma en dogter stop eers voor die hek en gee mekaar drukkie en ‘n soen op elke wang voor sy haar tas vat en met hope selfvertroue die skoolterrein betree. 

Elke een het ‘n manier om afskeid te neem en baie het ‘n vraag, nee ‘n gelofte wat gemaak moet word voor hulle afskeid neem. My twee doen hierdie, maak nie saak wat gebeur nie, elke liewe keer, net voor hulle instap. Hulle bevestig met ons dat ons hulle weer 13:40 by hierdie hek gaan kry. 

Dit laat my aan ‘n belofte dink wat ons Vader gemaak het, ‘n beter belofte, wat geld vir al Sy kinders. Hy sal ons nooit alleen los nie. Hy sal altyd by ons wees. Al gaan ons by die hekke van Mordor in (nie die skool nie, ons skool is ‘n heiligdom waar kinders God vind), sál Hy met ons wees. 

Deuteronomium 31:8|Matteus 1:23 

Indien jy waarde vind in KleiTablette, maak asb ‘n donasie om dit aan die gang te hou? 

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius