Min weet ek wat volgende op die agenda is. Ek sit voor ‘n rekenaar en tokkel ‘n sleutelbord, terwyl ek terug dink aan 4 dekades se swoeg en sweet. Maar ek is nie altyd seker wat volgende gaan gebeur nie. Ek lees nou net ‘n ongetiteld skryfstuk wat ek begin tik het en voor ek ‘n slot soos ‘n strikkie kon vas trek, het ek die storie geëindig met “ek gaan nou eers ‘n bietjie skuinslê”. Dit laat my dink aan ‘n klomp dokumente, met of sonder titels, wat ek al begin het, maar die begeerte om dit te voltooi het nooit tot volle ontbranding gekom nie.
Dit is vir my ‘n voorreg om my gedagtes te mag deel, terwyl die lig van nog ‘n somsopkoms die lapa en groot Camphorboom voor my houthuis begin inkleur. Daar is iets besonders in die wete dat elke oggend draai ons kant van die aarde getrou verby ‘n egalige bron van lig en hitte. Maar vandag is my kleitablet in die hande van ‘n 40 jarige, want gister het ons iets herdenk wat ek altyd gedink het is horing oud. My Ma was 40 toe ek gebore is en my ouers het altyd vir my ‘n generasie verwyderd gevoel – hulle was so vêr dat ek gewonder het of ek hulle ooit sal inhaal. Dit het 40 jaar geneem om te besef dat hulle nie so oud was nie en dat ek eerder my kinders sou wou gehad het met die kennis wat ek oor die laaste twee jaar ingewin het.
Ek weet dalk nie wat volgende op die agenda is nie, maar ek weet verseker dat ek die Een ken wat wel weet. As dit nie vir Hom was nie sou ek nie hierdie geskryf het nie. Vir soveel jare het ek my lewe aangepak met eiewysheid en my geregtigheid. Ek het my koninkryk gebou en ingerig volgens my verstaan en begeerte. Ek het gebou en gebreek en weer gebou en probeer. Dit was jare van swoeg en sweet om aan die einde van ‘n storm te besef, toe dit alles weg geneem is, dat al wat ek oor het, is die Een wat my gemaak het, en my gesin. Laat ek dit reg stel, wat ek besef het is dat my Skepper my vashou en ek het niks, want alles wat ek het is net genade.
Op veertig word mens deur die samelewing gedwing om opgawe te maak van wat jy reeds bereik het en wat jy nog graag wil doen. Maar ek het besef dat opgawe-maak ‘n daaglikse aktiwiteit moet wees van volle oorgawe aan die Een wat die toekoms ken. Ja, ‘n oorgawe aan die enigste Een wat werklik weet wat swoeg en sweet is sonder om te sondig. Ek kan net getuig van die waarde wat Jesus Christus deur my lewe gebring het vandat ek die laaste twee jaar begeer om Hom te ken. Dit maak my opgewonde om te sien waar Hy my gaan neem vir die ewigheid wat volg.
Daarom is ek ewig rustig in die wete dat die Een wat ek volg nie ‘n begin of ‘n einde het nie. Dat Sy krag nie deur ‘n opening of ‘n slot omsluit kan word nie. Daar is geen manier hoe ons nie gaan sien waar dit alles eindig, of begin, wanneer ons almal op ons knieë voor Hom gaan erken dat Hy die ware Koning is. Dit mag dalk nou na ‘n onvoltooide storie lyk, maar ek weet ons is deel van ‘n ewige Koninkryk.
Ek het besef en deel graag dat my gejaag na my eie koninkryk het my net pyn en lyding gebring, maar om Jesus te ontmoet en Hom te ken is die grootste geskenk wat ek ooit kon ontvang. Met ewige dankbaarheid en vreugde bevestig ek dat Jesus die weg, die waarheid en die lewe ís.
Indien jy waarde vind in KleiTablette, maak asb ‘n donasie om dit aan die gang te hou?

