Table of contents
Share Post

Sit ‘n trop gesoute boere bymekaar en dit gaan nie lank vat voor hulle gesels oor hoe hard hierdie aarde is, hoe sout hulle sweet is en wat hulle offer om kos op die tafel te sit, hulle s’n en die nasie.

Ons boer almal op een of ander manier op hierdie rebelse aarde. Of dit nou met gewasse, met kinders, of met mense se harte is—ons weet hoe hard ‘n mens soms moet swoeg om lewe uit die grond uit te wring, soos druppels uit ‘n droë lap. Ons ken daardie gevoel as jy na ‘n verlepte landery of ‘n verwoeste oes kyk. Die lewe bring sy haelstorms en sy droogtes, en dit vat aan ‘n mens. Dit maak jou hande eelt en jou hart soms moeg as ons probeer om alles net bymekaar te hou.

En dan lees ons daardie opdrag van Jakobus: “Ag dit louter vreugde as julle in allerhande beproewings beland.” Kom ons wees eerlik met mekaar—dit is soos om walvis hare op hoendertande te groei, is dit nie? Hoe is mens bly as die reën wegbly en die swaarkry aan jou deur klop?

Wanneer ons in survival mode ingaan, is ons eerste instink om te doen wat ‘n boer doen – ‘n plan te maak. Ons probeer harder werk, ons koop duurder kunsmis, ons bou ons eie damme en eie stelsels om onsself te beskerm. Ons aanbid ons eie mensgemaakte plan as redder van die jaar. Maar miskien lê daardie “vreugde” juis in die feit dat die droogtes ons dwing om aan die einde van ons eie slim planne te kom. Dit bring ons tot stilstand sodat ons weer met nederigheid kan luister na die Skepper, ja die eerste Boer.

Te midde van al ons geswoeg, is daar ‘n liefdevolle Boer wat by die hek staan en toet na die opstal se kant toe. Hy wag om ingenooi te word om jou te herinner aan Miga 4 se uitnodiging: “Kom, laat ons opgaan na die berg van die Here…”

Hy nooi ons nie om na nóg ‘n groot vergadering, ‘n verootmoediging-diens of ‘n ingewikkelde stelsel ontleding toe te kom nie. Dit is ‘n uitnodiging na ‘n eenvoudige, persoonlike en eerlike ontmoeting met Hom, sodat Hy ons self Sy weë kan leer. Kom na die berg! Hy wil ons persoonlik wys hoe om die lande van ons lewens te bewerk. As ons volhard in ons eie, selfgemaakte maniere, raak ons net meer uitgeput en hoe meer ons probeer om self die huis te bou of self die stad te beskerm en al werk ons van vroeg oggend tot laat aand, dit is alles tevergeefs. Maar as ons besluit om in Sy paaie te wandel, om in die Vader se liefde te lewe, dan my liewe broer, verander alles.

Dit is dan wanneer ons ons “swaarde en spiese” kan omsmee in ploegskare. Al daardie veg-en-vlug energie, daardie angs oor môre se reën of volgende maand se voorraad, word verander in instrumente wat lewe bring. Ons hoef nie meer te baklei nie; ons kan rus met die wete dat riviere van lewend water uit ons binneste vloei. Want ons drink by die Fontein wat die oorsprong van alles is.

Laat toe dat Hy, die Meesterboer jou lei, werk in nederigheid saam met Hom. Daar lê hektare se groen weivelde en gellings vol water van rus.

Miga se belofte geld vandag nog: “Elkeen sal sit onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, en niemand sal hulle verskrik nie.”

Daardie vyeboom neem dalk tyd om te groei. Sit nou onder die koel skaduwee, in jou eie werf, en weet jy is veilig en geborge—dit is ware vrede. Dit is die wete dat al is dit hoe rof daar buite, dit is dieselfde Boer wat Eden aangeplant het en Hy is vandag nog in beheer van die weer. Hy is baie meer betroubaar as ‘n Toyota bakkie.

Sien jou volgende keer by die berg van die Here…

Indien jy KleiTablette se stories geniet, maak ‘n donasie vir die volgende generasie!

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius