Table of contents
Share Post

Ek sit hier vandag en ek dink aan jou. Ek is eerlik, ek voel so magteloos om te sien hoe jou boot in ‘n wit bruisende rivier af dryf, oppad na ‘n massiewe val met ‘n Rots aan die onderkant.

Ek sien die woede in jou oë. Ek sien hoe jy die wêreld, die mense om jou, en selfs vir God die vinger wys. En ek weet, as ek nou vir jou preek, gaan jy net harder skree. Ek weet dit, want ek was al daar. Ek weet dat bitterheid soos ‘n kombers kan voel wat jou veilig hou, en enige iemand wat naby kom, word ‘n teiken van jou seer, van jou woede.

Hierdie Kleitablet is nie ‘n preek nie. Dis ‘n brief uit my eie onvermoë om jou te help, geskryf met die hoop dat jy sal weet waarheen om te gaan wanneer jy eendag by die einde van jouself kom.

Die Eensaamheid van ‘n Straatkind

Ek verstaan hoekom jy nie deel wil wees nie. Wanneer ‘n mens seerkry, voel die “familie van God” soms soos ‘n leuen. Dit voel veiliger om ‘n straatkind te wees. Op die straat skuld niemand jou niks nie, en jy skuld niemand niks nie. Op straat kan jy jou middelvinger vir die lewe lig en voel dat jy in beheer is.

Maar ek sien ook die ander kant, broer. Ek sien hoe swaar daardie vuis word. Om heeltyd kwaad te wees, is uitputtend. Om die wêreld weg te stoot, verg ‘n energie wat jou siel leeg suig. Jy dink jy straf die mense om jou, maar eintlik is jy die een wat in die koue slaap. Ek staan hier en kyk hoe jy baklei, en ek wens ek kon jou las vat, maar ek kan nie. Jy het besluit om dit alleen te dra, en my hart breek, want ek weet hoe swaar dit is.

Wanneer Yster Bots

Ons praat graag van “yster slyp yster.” Maar wanneer twee vriende bots – die een wat wil help en die een wat nie gehelp wil word nie – is dit nie altyd ‘n mooi storie nie. Soms lyk dit soos ‘n kar-ongeluk.

Ek het al probeer om jou te “slyp” met waarheid, en ons het albei met duike weggestap. Ek het geleer dat ek jou nie kan dwing om die genesing te aanvaar wat jy nog nie wil hê nie.

Miskien is ware vriendskap in hierdie seisoen nie om met jou te baklei nie, maar om net nie weg te loop nie. Om die houe te vat as jy uithaal, en steeds daar te wees wanneer die stof gaan lê. Om vir jou te sê: “Ek is hier. Ek stem nie saam met jou pynlike pad nie, maar ek gaan jou nie alleen los nie.”

Die Einde van Jouself (En die begin van Hom)

Wanneer weet ons dat ons aan Jesus behoort? Wanneer is Hy genoeg?

Ongelukkig is die antwoord selde “wanneer alles goed gaan.” Ons besef Hy is genoeg, gewoonlik eers wanneer niks anders meer werk nie. Wanneer die woede nie meer die pyn verdoof nie. Wanneer die rebellie sy smaak verloor het. Wanneer jy so moeg is van baklei teen God, dat jy letterlik nie meer jou arms kan optel nie.

Daardie oomblik van totale onmag – waar jy op die ashoop van jou eie planne sit – is nie die einde nie. Dit is die begin.

Dit is die oomblik waar die straatkind besef die huis se deur was nooit gesluit nie. Oorgawe is nie ‘n nederlaag nie, my vriend. Oorgawe is die plek waar jy kan rus. Dit is die oomblik wat jy besef: God is nie daar om my te veroordeel nie; Hy is daar om my vry te maak van my woede om my na rus te lei. Hy het self die pad gestap en nooi jou om by Hom aan te sluit.

Totdat jy gereed is

Ek kan jou nie forseer om die uitnodiging te vat nie. Ek kan jou nie dwing om jou vuis oop te maak en die Vader se hand te neem nie. Maar ek kan dit vir jou sê: Wanneer jy daardie punt bereik – by die einde van jouself – gaan jy nie ‘n “Ek het jou gesê” kry nie. Jy gaan ‘n Vader kry wat na jou hardloop, wat jou omhels, vir jou ‘n ring gee, ‘n kleed, skoene aan jou voete en vir jou met glinsterende warmte sê, “EK HET JOU, JY IS MYNE”.

Tot dan, sal ek hier wees. Sal ons vir jou bid, want ek weet die stryd wat jy voer, is te groot vir een man alleen.

Kom huis toe wanneer jy moeg is. Jou plek is oop.

Miskien is hierdie nie vir jou nie, maar vir daardie vriend oor wie jy jou bekommer. Of dalk is dit tyd om net vir ‘n oomblik stil te raak en te vra: “Is ek al moeg genoeg?”

Indien jy KleiTablette se stories geniet, maak ‘n donasie vir die volgende generasie!

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius