Goeie genugtig. Ek het so lanklaas met klei gewerk, my hande voel so dom soos spinasie. Gee my asseblief kans, ek het net weer nodig om die klei klam te kry. Ek is ook besig om na FNB se huisbakmusiek te luister op die foon, terwyl ek tokkel op die sleutelbord. Die rede vir FNB se huisbakmusiek is dat my besigheid makeer ‘n besigheidsrekening. Want om boeke te smous, is ‘n voltydse besigheid. So leer ek ook elke dag. Maar vandag blyk dit wil God my ook nog geduld leer. Asb Vader, een ding op ‘n slag… maar nou ja. Geduld sal ek ook leer, want ek wil al klaar vir die tannie vertel, in stomende taal, dat hulle sisteme stukkend is. Maar ek gaan nie. Ek gaan saam met haar werk, want enige iets wat die moeitewerd is, is díe moeite werd. Mag hierdie tannie iets NUUTS vandag beleef, iets van die liefde van Jesus Christus.
Maar die rede hoekom ek op die draai van die seisoene so graag wil klei speel, is omdat daar vars verwagting in my hart borrel. Ek sit nou die dag en praat met Vader. Ek praat toe sommer pad langs, nie met ompaaie nie. Want ek het by ‘n goeie vriend geleer, om met vrymoedigheid te gesels met ons Vader. Die gesprek gaan soos volg.
“Here, ek weet dat U vir my ‘n plan het. Ek wil net seker maak dat ek nog op die regte pad is? Is ek op die plek waar ek moet wees?”
Ek vermoed dat as ek dit ‘n Ja/Nee vraag maak, mag ek dalk ‘n vinniger antwoord ontvang. Maar God antwoord dit toe nie so eenvoudig nie, maar Hy antwoord wel hard en duidelik.
Hierdie tipe vrae laat my dink aan my pa en sy aardse hart. Sy ou bloed-pomp werk met ‘n pasaangeër. ‘n Pasaangeër wat met ‘n battery werk, ek noem dit ‘n elektriese metronoom wat ritme hou terwyl my pa besig is om aan ander goed te dink. Ek weet ek skryf aansienlik meer oor my Ma as my Pa. So ek laat weet net, my Pa is nog met ons en sy hart het elektriese bystand. Ek is innig dankbaar dat Eskom nie verantwoordelik is vir sy opwekker nie. Maar ons het wel nou die dag besef wat geleende tyd is. Dit is so sielsaangrypend toe ek my pa hoor vertel dat hy gereed is om die tydelike met die ewige te verruil. Waardeer julle ouers terwyl hulle nog pomp.
My Pa het vandag ‘n nuwe pasaangeër gekry. Dit is nie ‘n te groot operasie nie, maar dit is ook nie ‘n vergroeide toonnael verwyder nie. Ons is baie bly dat dit goed gegaan het met die operasie. Nou kan my pa nog ‘n paar myl op die klok sit, met sy nuwe parte.
Dit laat my toe dink dat ons ook so nou en dan net die batterye of pasaangeërs van ons lewe moet herlaai of dalk moet omruil. ‘Ag hoe pragtig is hierdie vergelyking’, dink ek heel trots op myself, jy weet, die “batterye” van ons lewe? Dit is toe dat die klei klam genoeg is en net daar besef ek dat God nie ons batterye wil vervang nie. Nee mense!! God wil vir ons ‘n hele nuwe hart kom insit. Iets volkome nuut. Nie parte nie, nie opgraderings nie, nie namaaksels nie, nie iets wat lyk soos die oorspronklike nie. Nee God smag om alles wat nie sy wil is nie uit te haal en te vervang met Sy wil. Sy manier van lewe.
Parte is goed, maar ‘n hele nuwe enjin is beter.
Deur geloof ontvang ons ‘n nuwe lewe. ‘n Lewe wat ons nie kan verdien nie, maar moet ontvang. Nou die dag neem ek Vroulief se karretjie in vir ‘n diens. Dit blyk toe dat met hierdie by-die-huis-werkery het ons ‘n diens in die diensplan gemis, en daar moet ek toe ‘n klomp geld uit my stukkende onderbroek ruk. Maar die snaakse is, daar is een part op die lys wat hulle vir my verniet gaan doen, ‘n petrol pomp. Hoekom, wil ek weet. Want hierdie part is ‘gerecall’, en hulle wil nie meer inligting gee nie.
Ek glo dat Jesus al ons parte ‘gerecall’ het toe Hy ons geroep het om Hom te volg. Hier is vir jou ‘n hele nuwe enjin. Hy het al ons ou parte terug geroep, want dit was foutief, nie oor die fabriek iets verkeerd gedoen het nie, maar omdat ons dit misbruik het. As ons, ons lewe gebruik vir ons self, gaan dit foutief raak. Ons lewe is bedoel en gemaak vir God. Jesus gee en doen al ons parte, ons moet net ons lewe ingee vir die diens.
So vandag weet ek, dat ek op die regte pad is. Ek weet dit, want ek laat toe dat God vir my ‘n nuwe enjin insit. Nog meer, ek toetsbestuur hierdie nuwe enjin elke dag, met die wete dat dit binnekort gaan reg wees vir ‘n resies-kampioenskap.
Sien julle binnekort op die baan.
Indien jy waarde vind in KleiTablette, maak asb ‘n donasie om dit aan die gang te hou?

