Table of contents
Share Post

Net nou die dag kuier-staan ons in ‘n baie lang ry. Die mense lyk angstig, amper soos Swart-Vrydag, maar net ‘n Donderdag. Die gesprek draai so vinnig soos Max Verstappen na alles wat deesdae net nie reg loop nie. Tot op daardie punt waar die rev-meter van frustrasie in die donkerrooi in hardloop. Sommer net so gooi ons hande in die lug en slaan ‘n plathand teen die voorkop. “Ek het al alles probeer en niks werk nie!”

Dan vra daardie hoogheilige tannie met ‘n al te vroom eiegeregtigheid: “Het jy al daaroor gebid, hê?” Daardie “hê” klink soos Jonathan van Radio Raps.

Dit is presies dan wat jy jou trollie vol frustrasie trompop deur die stadige, bewegingsensor-glasskuifdeure wil hardloop, handgranate in die parkeerarea gooi en kyk hoe almal die hitte van jou verterende frustrasie voel.

NATUURLIK HET EK AL GEBID!!! Maar die Here hoor my nie, want Hy antwoord my nie.

Hierdie is vir my  persoonlik ‘n baie bekende gevoel. Maar ek kom al hoe meer agter dat die Here wél heeltyd praat, en dat Hy presies weet wat ek nodig het. Sy antwoord is net nie altyd in lyn met my eie begeertes nie. Tog, wanneer my hart sag word en ek Sy wil soek sodat Hy die eer moet ontvang, gebeur daar iets wat ek “ewige belyning” noem. Dit is asof die sterre in ‘n oomblik almal in posisie skuif, en in diepe nederigheid begin my hart resoneer met God se wil.

Dan praat Hy duidelik. Dan sien ek Hom oral raak. In die kleinste en die grootste dingetjies. Om elke draai en doer in die verte.

Die laaste tyd praat God besonder duidelik met my deur ‘n spesifieke groepie seuns. Ek is ongelooflik bevoorreg om deel van hulle lewens te wees. Ons noem onsself ‘DIE hanslammers’. Daardie DIE is belangrik, amper soos Díé Hoërskool Menlopark, net beter. Hierdie seuns laat my telkens in verwondering stilstaan by hoe God die alledaagse, onverwagse dinge gebruik om ewige waarhede in my hart te kom inskryf.

Onlangs sit ek in my kantoor hier by die laerskool, saam met vier van ons hanslammers. Hulle is jong seuns wat smag na sorg en het opregte deernis nodig. Hulle kom uit huise waar oorlog soos ‘n romantiese komedie lyk.

Terwyl ek so na hulle kyk, vou daar ‘n gebed in my hart oop. Ek vra: “Here, gee my asseblief U hart. Help my om hierdie hanslammers lief te hê presies soos U hulle liefhet.”

Ek het amper verwag dat die Heilige Gees my dadelik sou vul met ‘n warm, teer gevoel van deernis vir hierdie kinders, en vir elke kind by elke skool en huis wat soos ‘n hanslammertjie in ‘n gebroke wêreld voel. Maar God se antwoord was onverwags, amper effens teenstrydig met my natuurlike manier van dink. Sag, maar onmiskenbaar, hoor ek:

“Willem, voordat jy hierdie hanslammers kan liefhê soos Ek hulle liefhet, moet jy eers duidelik kan sien hoe Ek jóú liefhet. Jy moet vir Willem sien soos Jesus vir Willem sien.”

Dit het my tot stilstand geruk. Ons is so vinnig om die wêreld te wil red, om mense te wil bedien en vir almal ‘n geestelike pleister van liefde te wil aanbied. Maar God se orde werk anders. Liefde vir die wêreld vloei nie uit ons eie menslike pogings of uithouvermoë nie; dit vloei slegs as die oorloop van ‘n hart wat volkome oorweldig is deur die besef van ‘n goeie Vader se liefde vir ons. Waar ons nie twyfel aan ons geliefdheid.

Hoe kyk ons na mense? Hoe kyk ek na daardie persoon wat my so grensloos in die winkel irriteer, die een wat my te na gekom het, of die vreemdeling op straat? Gewoonlik kyk ons deur die lens van ons eie tekortkominge, ons vooroordele en ons eie stukkendheid. Ons sien die foute raak. Ons sien die vlees.

Maar kyk ‘n bietjie na die diepte van wat Paulus onder leiding van die Gees in 2 Korintiërs 5:16-17 skryf. Vang die essensie van hierdie boodskap:

‘Van nou af evalueer ons niemand meer deur die beperkte lens van menslike standaarde of uiterlike voorkoms nie… Enige persoon wat in Christus is, is ‘n splinternuwe skepping. Die illusie van die ou, gebroke lewe het heeltemal vervaag; kyk, die nuwe, oorspronklike beeld van God is ten volle hier sigbaar!’ Ons verlossing was immers nooit God se ‘Plan B’ om ons bloot van ‘n brandende hel te red nie. Verlossing was die onblusbare passie van ‘n liefdevolle God om Sy oorspronklike Genesis 1-bloudruk in ons te herstel. Toe Jesus uit die dood opgestaan het, het Hy nie net sonde oorwin nie; Hy het die ware identiteit van die mensdom kom terugkoop en gevestig in Hom.

As ek in die spieël kyk, en my eie gesig sien—verlig deur Sy heerlikheid (2 Kor 3:18)—besef ek dat ek ten volle geken is. Ek is onvoorwaardelik geliefd. Die Vader kyk na my, en Hy sien niks anders nie as die geregtigheid van Sy Seun. Dan skree ons met dankbare blydskap, hardop, “Pappa God!”

Sodra hierdie absolute werklikheid van genade en onverdiende liefde my hart tref—sodra ek werklik toelaat dat Jesus my liefhet presies soos ek is—verander iets in my binneste. My oë word gewas. Die skubbe val af.

Ewe skielik, wanneer ek weer in die gange van die skool loop of by daardie selfde winkel in die ry staan, sien ek nie meer net stukkende, feilbare mense nie. Ek sien draers van God se asem. Ek sien die onbeperkte potensiaal van Christus in elke liewe persoon. Ek sien mense vir wie se oorspronklike bloudruk die Koning van die Heelal bereid was om Sy lewe af te lê. Ek begin elke mens sien as kosbaar en geheilig deur die oë van ‘n grenslose Liefde.

Dit is die diepste uitnodiging van die Everlasting Way.

As ons wil sien hoe die mense rondom ons waarlik vrygemaak word, as ons DIE hanslammers van ons gemeenskappe wil optel en koester, moet ons ophou om hulle vanuit ons eiegeregtigheid en wêreldse perspektiewe te beoordeel. Ons moet desperaat vir die oë van Jesus vra.

Maar daardie wonderwerk… dit begin by my. Laat toe dat Jesus my eerste lief het.

Ek wil vandag hierdie praktiese uitdaging by jou los. Dit is ‘n waarheid wat ek hoop in die diepste weefsel van jou gees sal kom nesmaak: Jy behoort aan Hom. Jy is nie ‘n nagedagte nie. Jy is Syne. As die Vader op hierdie einste oomblik na jou kyk, klop Sy hart met ‘n opgewondenheid en ‘n onpeilbare vreugde oor die ewigheid wat Hy sáám met jou beplan het. Hy sien jou slegs deur die oë van suiwer, onverdunde genade.

Laat daardie liefde vandag so diep in jou insink dat dit jou heeltemal vol maak. En wanneer jy dan weer opkyk—in die oë van jou lewensmaat, jou kind, jou kollega, of daardie vreemdeling by die winkel—laat die liefde van Jesus wat jou sopas oorspoel het, onkeerbaar deur jou oë na hulle toe vloei. Kyk vandag na iemand anders, heeltemal sonder oordeel, en sien hulle deur die oë van Genade.

Indien jy KleiTablette se stories geniet, maak ‘n donasie vir die Hanslammers!

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius