Table of contents
Share Post

As ek die webblaaier(browser), oop maak op my skoot-rekenaar, dan gooi dit eers ‘n advertensie blad met nuus en ander gebeurlikhede, advertensies en die weer voorspelling uit. Ek kyk nooit regtig daarna nie en ek sal dit seker kan verander om dalk eerder ‘n mooi prentjie op te gooi, maar dit pla my nou nie eintlik nie. Tot ek dit vandag oop maak en die eerste nuus artikel gaan oor ‘n rassistiese voorval wat onlangs gebeur het. Dit grief my en laat my dink aan die pyn en haat waarmee ons so gereeld gekonfronteer word. Soms vêr, maar soms ook baie naby aan ons bas. 

Dit los my met ‘n swaar gevoel van terneergedruktheid en frustrasie. Ek wil net begin redeneer met myself oor hoe geneig die nuus is om die negatief en kontroversiële raak te sien en te verkondig. Hoe al die aaklig verkondig word en ons so maklik gedompel kan word in die hopeloosheid daarvan. Maar iets stop my. Deur heilige ingryping word my gedagtes geruk na ‘n Bybel teksverwysing wat ek nie eers kan onthou wat daar staan nie. Al wat by my opkom is Lukas 2:29-32. Ek gaan lees dit gou, want as daar openbaring is, weet ek God is reg om te gesels en te leer en te lei in liefde en deernis. Ek het nou al besef dat dit dan tyd is om te luister, om leerbaar en ontvanklik te wees, want teksverwysings kom nie sommer vir niks by my op nie.  

Kan jy dit glo, hierdie einste teksvers gaan oor Simeon wat vir Jesus as baba ontmoet en God dan prys omdat hy besef het dat die beloofde Messias hier is. ‘n Storie waarvan my suster net ‘n paar dae gelede op Kersdag vir ons vertel het. Sy het uit ‘n boek van Francine Rivers gelees hoe ‘n ou man se dowwe oë iets raak gesien het, waarvoor hy solank gehoop en gebid het – die Redder van die wêreld hier in sy arms. 

Vir ‘n oomblik besef ek dat Jesus het gekom om vir die wêreld ‘n nuwe prentjie te wys, nie die prentjie wat die nuus vir ons voorhou nie. ‘n Prentjie van verlossing en oorwinning oor sonde, oor pyn, siekte en haat. Simeon kan nie anders as om uit te roep van blydskap, ‘Nou het my oë U verlossing gesien, ‘n lig wat as openbaring dien vir alle mense en wat eer bring vir Israel’.  

Kan jy dit sien? 

Vir ‘n oomblik wonder ek hoe is dit moontlik dat mense Jesus wat aarde toe gekom het kan sien, VANDAG? Hoe is dit moontlik dat mense kan beleef dat Jesus ‘n werklikheid is? Die Seun van God lewe waarlik.  

Sonder om twee keer te dink, tel ek die bondel magneet balletjies op en staar uit by die venster van my houthuis. Die bondel balletjies kinkel en klap soos ek daarmee vroetel terwyl my brein ook in diep gedagte kinkel en klap. 

Ek dink terug aan hierdie jaar en ‘n paar kere waar ek Jesus beleef het, en ek wonder hoekom ons nie hierdie geleenthede meer vier en verkondig nie. 

Hier aan die begint van die jaar, na ‘n wonderlike besef dat God my wil gebruik om hoop te bring, asook ‘n woord van aansporing vanaf ‘n liefdevolle tannie, word ‘n eenvoudige bediening by ons laerskool ‘n werklikheid. By die skool word seuns wat deur aaklige omstandighede gaan, of sonder ‘n Pa groot word, bedien met liefde en respek, maar bowenal ontvang hulle die Hoop van die wêreld wat vir hulle wys dat hulle altyd op Jesus kan steun in moeilike tye. 

Op ‘n onverklaarbare wyse kom daar ‘n jong seun op my pad terwyl sy pa en ma op die punt staan om te skei. Maar deur ‘n eenvoudige gebed saam met hierdie seun, “Vader, genees asseblief sy ouers se huwelik”, kan ek met opgewondenheid getuig dat hulle huwelik gesond is en groei. 

Aan die einde van die vorige jaar laat weet God my dat ek ‘n storie moet klaar skryf wat ek begin het, en 4 maande later word ‘n boek gepubliseer deur die hulp van ‘n liefdevolle tannie. Die boek bring lewe waar mens nie gedink het dit moontlik kan wees nie, en ek leer dat gehoorsaamheid aan God altyd beloon sal word. Jy kan hier meer lees oor die boek. 

‘n Droom van ‘n berading bediening word werklikheid en ‘n aantal mense kom kuier hier in die houthuis en sien en beleef dat Jesus red en genees. Vriende skenk in liefde verskeie items vir die bediening en wat eens net ‘n eenvoudige kaal houthuis was kry ‘n unieke karakter van omgee en warmte. 

Huwelike word gered en herstel. Jong mense gee hulle hart vir die Here. Weduwees vind nuwe vreugde. Trauma kry betekenis en word die kompos vir die mooiste stories moontlik. En dit alles as gevolg van Jesus, die Een wat aarde toe gekom het, om ‘n lig vir die wêreld te wees. 

Hartseer volg ook langs hierdie jaar se pad, met die afsterwe van een van die mense wat by my kom kuier het, maar wonderbaarlik nie voor die persoon Jesus ontmoet en Hom aanvaar as redder en Koning nie. Ek kry die kans om by die begrafnis ‘n boodskap van hoop te bring – ons moet sterf aan onsself voor ons liggaamlik sterf. Kolossense 3:3.  

Ons verloor ook ‘n vriend wat ek so gewens het wou by my kom kuier het. Maar voor hy gesterf het, het hy my twee keer geneem na mense wat hy graag wou hê ek moet voor bid, en nou weet ek dat ek nog ‘n pad met hierdie mense moet stap.  

Ons staan ook saam en treur by ‘n begrafnis van goeie vriende se oupa en ‘n pa. Maar nie voor ons kon deel in die liefde en omgee van ‘n gesin wat hom versorg het op ‘n manier wat jy nie in die nuus sal hoor nie.  

Ons leer soveel meer oor wie God is, en daardeur word Jesus al meer duidelik deel van ons lewe. Vroulief seën ons met ‘n heilige huis en ‘n omgewing waar ons mense kan innooi om Jesus te ontmoet. 

Ons word uitgenooi om in die nuwe jaar deel te word van ons kerk se kinderbediening en dit bring soveel vreugde om op Kersdag vir die kinders ‘n boodskap te kan bring oor Jesus, ons redder.  

Ek kan nie anders as om saam met Simeon God te prys vir elke geleentheid wat Hy vir ons gegee het om deur die jaar duidelik te sien dat Jesus werklik lewe. 

So as die vraag is hoe sien mense Jesus VANDAG. Dan is dit maklik, deur my en jou.  

Het Jesus in jou lewe opgestaan? 

As Simeon vir so lank gebid het dat die Messias moet kom, en God het hom die voorreg gegun om Jesus as baba te kon ontmoet, dan bid ons elke dag dat meer en meer mense Jesus in ons sal raak sien, sodat hulle kan glo en kan lewe. 

Mag ons almal Hom sien en beleef in die nuwe jaar!!! 

Indien jy waarde vind by KleiTablette se stories, maak asb ‘n donasie om dit aan die gang te hou?

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius