Vandag skryf ek sommer die storie agterstevoor om. Die einde het ek lankal gestoei en vasgepen, maar jy kan nie sommer iemand met die inval by die deur, in ‘n kopklem gryp en neergooi nie. Nee mens hoor eers hoe gaan dit, en of die gesondheid se seile nog in die wind wapper, en of dit al gereent het oppie plaas, en of die Bulle weer gaan wen. Ek geniet ‘n kuiertjie meer as daardie ou grapjas wat op die wynlandgoed grappies vertel. Dit maak my hart vol as mense weet dat ons gesond en geseënd is. Maar meer my hart raak opgewonde as mense vir my vertel van hulle skete en hart kwale, want ek het iemand ontmoet wat weet om sulke goed, vir GOED, reg te maak. Daarom kry ek ‘n bietjie nat klei om my Koning se storie te beklemtoon.
Ek dink nie mens sien altyd die dood wat ons om elke hoek en draai bekruip nie. Hoe kan ek nou so sê? Ons is dan nie eers bewus van ons aardse sterflikheid nie. Totdat jy eweskielik by meer begrafnisse opdaag as wat jy gewoond is. Nie omdat dit my eie familie is wat eindfluitjie blaas nie, maar omdat ek omgee vir die bittereinders. Ja daardie grasieuse siele wat sonder skaamte pepermente in die kerk oop maak en suig dat hulle valstanne klap. Ek hoor nou die dag by my gevorderde vriend, dat sy ma ook nou al permanent op suurstof is. Ek weet nie hoekom gee hulle ons eers aan die einde van die wedstryd meer suurstof nie, sou ons nie beter af gewees het as ons van kleins met baie suurstof begin speel het nie?
Daar is soveel dinge wat gelyktydig gebeur die laaste vierde van hierdie kwartaal. Ek voel soos ‘n voorspeler wat saam met die agterlyn hantering oefen en hulle het aspris dubbel soveel balle in die speletjie gegooi. ‘n Vriendin het eenkeer die lewe en sy verantwoordelikhede vergelyk met balle wat jy in die lug moet hou – jy moet altyd onthou watter van daardie balle is van glas gemaak. Ek is nie ‘n jongleer nie en ek kan net een bal op ‘n slag in die lug hou. En as hy van glas gemaak is beter ek rêrig fokus.
Een ding weet ek vir seker, my Moeder, ja die een wat ontsnap uit die ouetehuis, wat met Crocs oor die Drakensberge kan loop, wat klaviere alleen rond dra, wat ‘n dosyn pasgebore babas met een versie aan die slaap kan sing, wat nog meer as die helfte van haar eie tande het, wat sonder ‘n tweezer of waks al die ongewenste hare van haar gesig kan verwyder. Julle mag dalk al van haar gehoor het, daar is legende wat om die jakaranda stad gefluister word, dat sy die eerste Portugees in Suid Afrika na die Here gelei het omdat sy die liedjie ‘My God is so Groot’ in sy moedertaal kon sing.
Wat ek wou vertel van my Moeder, is dat sy baie balle in die lug gehad het deur haar lewe. Dink aan ‘n jongleer wat die dorp se apteker, se seun, se kas albasters moet gooi en vang sonder om een te laat val. Maar meer is dat jy my ma in jou verbeelding moet sien met ‘n eenwieler fiets balanseer op die rug van ‘n olifant, terwyl die gryse dier oor ‘n kloof loop op ‘n garedraad, terwyl sy albasters juggle. Dit is vir my hartseer as ek haar soms nog steeds sien loop met haar nek wat in ‘n spasma opkyk, en die hande wat op en af gaan terwyl daar nie meer so baie balle is nie.
Ek mag dalk ‘n klein bietjie oordryf, maar neem kennis dat sy regtig meer gedoen het as die gemiddelde handearbeider. Ek eer haar spesiaal daarvoor, want sy word tagtig jaar oud vandag, 22 Junie 2022. As jy wil weet hoe sy dit reg gekry het. Dit is nie ‘n legende nie, dit word gereeld genoem in gesprekke en in winkelsentrums, dit word genoem by die rugbyvelde en die netbal en hokkievelde, dit word genoem by die pastorie huis en in die gemeenskap, dit word genoem in die ouerhuise van haar kinders en die se kinders, dit word genoem by die kerk en by die ontspannings geleenthede. Daar waar jy my ma sou kry sou sy altyd vir jou vertel…
Ons het vir hierdie besonderse Moeder ‘n belewenis georganiseer omdat sy so ‘n gevorderde mylpaal bereik het. Ja haar ses kinders vergader rondom ‘n gesamentlike selfoon gesprek en besluit dat ‘n waardevolle belewenis vir haar meer waarde toevoeg as goete. As julle haar ken sal julle verstaan. Sy gee gewoonlik die goete wat ons vir haar gee vir iemand anders. Sy was nog nie te veel in die oop blou lug gewees nie, en sou seker ook nie as dit nie vir my een broer was wat gaan groener weivelde soek het in die verre Noordweste nie. Dankie broer, dat ons ook kon gaan kuier het. Die gras is ‘n bietjie groener, maar dis nie springbok groen nie.
Op die koudste oggend van die jaar, sovêr, neem ons haar met ‘n lugballon oor die berge naby Hartbeespoortdam. Ysig was dit inderdaad, maar daar is iets uniek van ‘n lugballon. Die vliegmasjien se enjin sit sommer net ‘n halwe meter bo jou kop. Elke keer as die aangename, ook gevorderde, dame die hefboom trek, dan spuit daar vlamme vuur in die moerawiese bol van die ballon in. Daar sweef ons so egalig en sag deur die rook en mis van die oggend tot verby ‘n vlak wat die doupunt temperatuur genoem word. Bo hierdie punt is die lug skoon en oop en lê die blou so vêr soos die oog kan tuur. Ons belowe julle die aarde is rond.
Ek het besef my ma is nie net ‘n harde werker nie, maar sy is ook baie slim. Sy gebruik ‘n lugballon om al haar balle in die lug te hou. Alles wat vir haar kosbaar is plaas sy in ‘n mandjie van geloof en trek die “hefboom” van gebed, gereeld en aanhoudend. Dit laat haar lewens verantwoordelikhede en haar beste besittings hoog bo die rook en die mis uitstyg. Bo in die blou sweef dit in oorwinning. Haar gebed en geloof is wat dit moontlik maak. Sy sal vir jou sonder skroom vertel dat sy daardie balle in die lug kan hou deur die hefboom van gebed te trek en te sien hoe die vlam van die Gees ons almal, en ‘n Portugees, en sovele meer laat styg tot by ‘n ewige uitsig.
Dankie Moeder.
Indien jy waarde vind in KleiTablette, maak asb ‘n donasie om dit aan die gang te hou?

