Table of contents
Share Post

As jy my ken, weet jy ek hou nie net van skryf nie. Ek kan ook baie praat. Dit grens soms aan verbale diarree. Nou die dag begin ek so ‘n gesprek met myself. Ek was baie ingenome met myself, want ek het regtig gedink dit is ‘n uiters intelligente redenasie. Soveel so dat ek myself sommer ‘n geestelike klop op die skouer gegee het—amper soos ‘n koning wat ‘n man van eenvoud met ‘n swaard op die skouer tik en aankondig: Die uwe, Ridder Diaan.

Die gesprek het min of meer so begin:

“Wat sal ek vir my selwers sê? Het ek nie al ver gekom en soveel bereik nie? Kyk hoe lyk my lewe, hoe lyk my bankbalans (vergeet vir ‘n oomblik al die skuld). Daar is soveel wat ek vermag het, ek kan nie anders as om nou my vrugte te geniet nie. Kom ek raak gemaklik en rus in die koelte van my eie vyeboom…”

Ek het myself oortuig dat hierdie gedagte nie net intelligent is nie, maar byna heilig. ‘n Mens kan tog sekerlik Bybelverse soek om hierdie edele gemak te regverdig, of hoe?

Maar net die volgende dag, pas nadat ek so tevrede was met wat ÉK alles doen, stap ek in ‘n sessie met mense in. Ná die tyd is dit juis ek wat ‘n uiters intelligente tirade kwytraak.

Gun my ‘n kans om vandag my woorde bloots te ry. Ek is uitgeput na ‘n sessie waar ek moes luister hoe mense by die drein van hul lewe verbete probeer swem teen die draaikolk van vuil water wat hulle onder trek. Water van veroordeling, leuens, verwyt, onvergewingsgesindheid en Blaam met ‘n hoofletter B. Hulle vertel my met oortuiging dat hulle die oseaan van God se genade ken, maar ek kyk magteloos toe hoe ‘n vuil rioolstroom die saadjies van hoop voor my oë wegspoel. Die mense stap swaarder uit my kantoor uit as wat hulle ingestap het.

En hier betrap ek myself: Ek sit en tap my eie lewensmurg om hulle te probeer red. Ai julle, ek wil tog so graag die wyse berader wees; ek wil die antwoorde hê en dit soos ‘n masjiengeweer uitdeel. Ek sug vandag in die stilte van die houthuis.

Hallo almal, my naam is Willem, en ek sukkel met EK.

Dit bring ons by die derde skerpskutter wat daarop gemik is om ‘n man van God uit te haal: Self. Lees gerus weer oor die eerste twee S’e wat mans elimineer van hul roeping en doel op aarde: Sloth – geestelike lamsakkigheid, en Silver – die goed wat jou god word.

Chuck Swindoll beskryf hierdie derde “S” as die konstante, sluimerende drang om jouself te bevorder. Dit is ons ingebore neiging as mans om onsself op te bou, om onsself beter voor te doen as wat ons werklik is, of om terloops name en eie suksesse te laat val. Swindoll noem die verhaal van Martin Luther. Net voordat Luther voor die magtigste kerkleiers van sy tyd moes verskyn, vra sy vriend hom of hy nie bang is vir die Pous en al sy kardinale nie. Luther se antwoord: “Meer as die Pous en al sy kardinale, vrees ek daardie een groot Pous die meeste… Pous Self.”

Die grootste gevaar in ‘n man se lewe is nie altyd wat van buite af kom nie; dit is daardie verskuilde “Pous Self” aan die binnekant wat al die eer, al die beheer en al die erkenning wil hê en alles sal doen om dit te kry. Vir ons as mans vermom hierdie sluipmoordenaar homself dikwels nie as arrogansie nie, maar as ‘n edele Messiaskompleks. Ons glo onbewustelik dat óns wyse woorde, óns opofferings en óns reddingsboeie is wat die mense om ons red.

Daar is ‘n pragtige, Godgegewe begeerte in elke man om te beskerm, te voorsien en die held van die storie te wees. Om te lewe vir ‘n doel groter as onsself is lofwaardig. Maar wanneer daardie edele roeping ontaard in ‘n desperate poging om mense in ons eie krag te red, word dit ‘n verpletterende las. Ons is nie gebou om die wêreld se gewig te dra nie. Nog minder mag ons die voorreg om bloot te dien in God se koninkryk minag.

Dit laat my dink aan die plaashaan wat elke liewe oggend stiptelik om halfvyf kraai, net voor die son opkom. Mettertyd begin daardie haan onbewustelik glo dat dit sý harde werk en sý gekraai is wat daardie massiewe vuurbal oor die horison trek. Hy neem homself naderhand so ernstig op dat hy heeltemal uitbrand. Hy eis die eer op vir die sonopkoms. Eis ons nie soms ook die eer op vir God se genade en goedheid nie?

Hierdie sluipmoordenaar is slinkser as ‘n pofadder tussen droë blare—want hy kruip in saam met die eerlikste en mooiste motiewe, en val aan sodra ons raakgesien wil word.

Wat is die teengif

Wanneer ons lewe soos ‘n skerpskutter wat dink sy eie asemhaling en stabiele hande is die enigste dinge wat die oorlog wen, vergeet ons heeltemal van die Koning wat ons in posisie geplaas het en reeds die vyand verslaan het.

Toe ons gesin onlangs saam na ‘n video oor die evangelie kyk—dat Koning Jesus regeer en ons nooi om saam in Sy oorwinning te lewe—het ‘n diep besef my teruggeruk na die realiteit. Ek is nie die een wat mense oortuig nie. Ek hoef nie “Pous Self” te wees wat al die krediet of die antwoorde dra nie. My deel is net om te getuig van Jesus wat reeds oorwin het. Dit is alleen die goedheid van God wat ons oortuig.

Staan elke oggend op en rig jou oë op die Man wat aan die kruis gehang het. Dit is Hy alleen wat dit moontlik maak dat ons hoegenaamd die voorreg het om in Sy koninkryk te dien.

Kom stel jou visier weer in

Voordat hierdie week jou weer insuig in die gejaag om almal om jou te probeer red (of jouself te probeer bevorder), kalibreer jou visier met hierdie drie riglyne:

  • WEET dít: God het jou geroep om die lig te kaats, nie om die bron van die lig te wees nie. Soos Swindoll aanbeveel: leer om die krediet weg te gee. Johannes 3:30 is die teengif teen die eie-ek: “Hy moet meer word, en ek minder.”
  • VOEL die vryheid: Laat die ontsaglike vrede oor jou spoel dat jy nie die son hoef te laat opkom nie. Daar is ongelooflike verligting wanneer daardie onnodige las afval en jy besef jy is net die getuie, nie die redder of die held van die storie nie. God is ontsaglik lief vir die mense wat jy probeer help; vertrou Hom met hulle.
  • DOEN dit: Identifiseer vandag een persoon of situasie wat jy verbete in jou eie krag probeer “regmaak”, of waar jy onbewustelik die eer soek. Dra daardie las doelbewus as ‘n tasbare daad van oorgawe oor aan die ware Voorsiener. Gee die erkenning vir iemand anders, en tree ‘n tree terug. Skyn net die lig in die donkerte.

Moenie jouself uitbrand deur “Pous Self” op die troon te hou nie. STAAN OP, en rus in Christus se voltooide oorwinning!

(Volgende keer klap die skoot op die laaste ‘S’ – Sex. MOET DIT NIE MIS NIE)

Indien jy KleiTablette se stories geniet, maak ‘n donasie vir die volgende generasie!

 

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius