Wanneer het “goed” werklik al jou lewe gered?
Goed maak die lewe dalk makliker, maar ‘n plesierboot op pad na nêrens kan ook sink—en wat is jou goed dan werd?
Vandag gooi ek die clichés dik aan, amper soos ek my steak spesery, terwyl ek in die houthuis sit en waardeer dat die grysbruin van die winter deur die lemmetjiegroen van nuwe blare vervang word. Daardie eerste blare lyk en ruik soos potensiaal. Potensiaal wat versteek is deur die donker koue van die ou seisoen, wanneer ons eerder binne wegkruip—of soos tant Lenie sou sê, “onderdiegrond-werk”. Want dit is daar waar David natuurlik die wortels weggesteek het. Ek sien die verandering ook in die hoeveelheid mense wat begin stap en draf. Hulle raak ontslae van hul hibernasievet. Ek sien ook die kolganse wat skree-skree weer hulle opwagting maak en moet nes maak in ons vuil riviere. Tog sing hulle steeds uit volle kolborste.
Dit is met daardie opgewondenheid wat ek eerlik raak oor die tweede skerpskutter wat ons manne kan elimineer. Laat ons oop kaarte speel met mekaar. Ons almal was al (of is steeds) op daardie plek waar ons vas geglo het: As ek net hierdie of daardie ding besit, dán sal ek eers waarlik lewe. Ek onthou nog daardie dae in my jeug toe ek oortuig was dat ‘n spesifieke handelsmerk-hemp my sou red van die etiket van die verkrampte, armsalige, jongste seun van ‘n gereformeerde dominee.
Ek het egter nooit daardie tipe dinge gehad nie. Die motorfiets in standerd 8, vier pare van elke Springbok-rugbyspeler se speelkaarte, die nuutste fiets, ‘n skaatsplank, en die een wat ek die graagste wou hê—Superman-klere. Ek wou so graag vlieg. Ons was relatief arm, en as ‘n mens jouself as arm beskou, raak jou eiewaarde so maklik geanker in die tasbare dinge wat jy kan voel en sien—of in dít wat jy mis.
Tog was daar iets wat my pa nooit in soveel woorde vir my gesê het nie; iets wat ek eers jare later sou verstaan: Ons behoort aan ‘n koninklike familie, en ons Koning besit alles wat bestaan. In plaas van met net mooi preke, het my pa dit eenvoudig uitgeleef. Hy het my gewys dat hy nooit angstig of bekommerd was oor finansies nie. Hy het my alles gegee wat ek nodig gehad het, in plaas van dit wat ek wou hê om net ‘n bietjie beter oor myself te voel.
Tot vandag toe verstaan ek nie heeltemal hoe my pa en ma ses kinders grootgemaak het nie—elkeen toegerus met grade en lewensvaardighede, alles wat ons nodig het om te lewe in dankbaarheid. Maar nou, as ek terugkyk, besef ek die geheim: My pa het die ware Voorsiener geken. Hy het gedrink uit die wete dat ons hemelse Vader presies weet wat Sy kinders nodig het, en dat Hy soveel beter gee as wat ons ooit kan begeer, alles tot Sy onmeetlike glorie.
Die Volwasse Hemp en die Blink Afleiding
Dit is eintlik ironies hoe min ons verander as ons ouer word. As volwasse mans verruil ons net daardie “brand-label hemp” vir ‘n groter, duurder weergawe: ‘n luukser 4×4, ‘n dikker bankbalans, of daardie ekstra toevoeging aan die huis. Ons glo steeds die leuen dat as ons dít eers het, ons veilig en waardevol is.
Dit bring ons by die tweede sluipmoordenaar wat daarop gemik is om ‘n man van God uit te haal: Silwer.
Silwer is nie net geld nie; dit is die gejaag na rykdom as ons bron van redding. Dink aan ‘n skerpskutter wat heeldag stil in posisie lê, sy asem beheer en fyn gefokus is op sy opdrag. Maar dan vang iets in die verte sy oog—’n flits van ‘n blink stuk metaal. Vir ‘n fatale sekonde haal hy sy oog van die teiken af om na daardie blink weerkaatsing te staar. Daardie een sekonde van afleiding is genoeg om sy teiken, sy ware doel in die lewe, heeltemal te mis.
Die Sluipmoordenaar van “Edele” Harde Werk
Die gevaar van Silwer is dat dit homself so vernuftig vermom. As mans regverdig ons hierdie gejaag dikwels onder die dekmantel van indrukwekkende harde werk. Ons sê ons bou bloot sekuriteit vir ons gesinne.
Dink so daaraan: Wanneer jy ‘n hoë gebou oprig, het jy steierwerk (scaffolding) nodig om by die plekke te kom waar jy moet bou. Ons aardse “goed”—ons salaris, ons besittings, ons gemak—is veronderstel om bloot daardie steierwerk te wees. Dit is gereedskap om ons te help leef en te bou aan dit wat werklik saak maak: die ware rede vir ons bestaan.
Die besittings van ‘n ryke is sy sterk stad; soos ‘n ontoeganklike stadsmuur is dit in sy verbeelding
Spreuke 18:11
Maar hier kom die dodelike afleiding: Ons manne begin skielik dink die steierwerk is die gebou.
Ons begin al ons tyd, ons energie en ons naweke daarin ploeg om die steierwerk mooier, groter en stewiger te maak. Ons werk onsself letterlik stukkend aan instandhouding, versekering en opgraderings. Hierdie massiewe, indrukwekkende harde werk voel soos verantwoordelikheid, maar dit is in werklikheid ‘n afleiding wat ons oë wegruk van die Koning af—die Een wat die oorsprong van voorsiening is.
Voor ineenstorting is ‘n mens se hart hoogmoedig, maar nederigheid gaan eer vooraf
Spreuke 18:12
Wanneer daardie perfekte steierwerk uiteindelik in plek is, is ons so uitgeput en geestelik bankrot dat ons bloot agteroor in ‘n gemakstoel uitsak (wat ons reguit teruglei na ons eerste “S” – Sloth of lamsakkigheid – lees hier). Ons het nou die “goed”, maar ons het die doel verbeur.
Die Vuurtoets
Paulus waarsku ons mans in 1 Korintiërs 3. Hy sê dat die dag van oordeel soos ‘n vuur sal wees wat elkeen se bouwerk gaan toets.
Steierwerk (hout, hooi en stoppels) oorleef nooit ‘n vuur nie. As ons ons hele lewe geswoeg het vir die steierwerk van sekuriteit en aansien, gaan daar min oorbly wat ewigheidswaarde het (die goud, silwer en edelgesteentes wat in Christus, vir Christus gebou is).
Goed is nie God nie. Net God kan voorsien en red.
Stel Jou Visier in op die Regte Teiken
Voordat hierdie week jou weer insuig in die gejaag om blink dinge en steierwerk in stand te hou, wil ek jou uitdaag om jou visier te kalibreer:
WEET dít: Jy het klaar alles wat jy nodig het om waarlik te lewe, in Christus. Die goed wat jy het, is slegs gereedskap. Jy is geroep om oor die goed te heers; dit moenie oor jou heers nie.
VOEL die vryheid: Laat die versmorende gewig van die “rat race” van jou skouers afval. Jy hoef nie jouself uit te put om die wêreld of jou eie ego te beïndruk nie. Daar is ‘n ongelooflike rus in die wete dat jou hemelse Vader, soos my pa my geleer het, jou ware Voorsiener is.
DOEN dit: Trek hierdie week die sneller op ‘n daad van rebellie teen gierigheid en die gejaag. Identifiseer een “steierwerk”-projek in jou lewe wat tans al jou vrye tyd opvreet. Neem van daardie tyd, of selfs jou geld, en belê dit onvoorwaardelik in iets wat ewig sal hou—stap saam met jou vrou, luister regtig na jou kind, of wees ruimhartig teenoor iemand wat dit nie kan terugbetaal nie.
Moenie dat die blink goed jou mislei nie. Jy is geroep vir meer as net steierwerk bou. STAAN OP, en bou wat werklik saak maak!
(Volgende keer klap die skoot op die derde ‘S’ – Self in die Skerpskutter reeks)
Indien jy KleiTablette se stories geniet, maak ‘n donasie vir die volgende generasie!

