Table of contents
Share Post

Kan jy dit hoor? Die kreun van ou ossewa wiele. ‘n Sweep se klap wat teen die kranse weerkaats. Die son val baie swaar op die trekgeselskap. Die krag van osse wat kreun en beur en bulk sleep die boere gesin se goed oor ‘n growwe wêreld. Hulle hoewe trap alles los. Los half ronde hoef spore in die modder, breek die gras fyn en die bossies oop. Die skerp reuk van kruie en kakiebos waai saam met die wind oor die veld. Boetie loop voor en hou die riem vas. Hy is nie seker waarheen hulle oppad is nie. Al wat hy weet is dat daar waar hulle voorheen was, is nie goed nie – hy het sy ouers hoor praat. Daarom gaan soek hulle iets beter.

Die gesin is almal besig om hierdie wa oor die berge en vlaktes te kry.

Daar is die Pa wat op die kis voor op die ossewa sit. Pyp in die mond en ook ‘n klomp skel orders wat elke nou en dan uitval as dit lyk of hulle gaan momentum of koers verloor. Dit is nie maklik om hierdie swaar vrag oor die gebergtes te kry nie.

Vanaand span hulle uit in die vallei, naby die rivier. Alles is vinnig opgeslaan want die donker val al vinniger soos die seisoen kouer word. Kampvuur, kos en net voor hulle gaan slaap, boekevat. Pa neem leiding en haal nie eers die groot Bybel uit die kis nie. Nee, hy ken die skrifgedeelte wat gedeel moet word. 

Dis Psalm 121.

Dit blyk of sy stem hom wil begewe vanaand, hy weet nie meer hoe lank hulle kan aanhou soek vir iets beter nie. Dit is harde werk, en hy sien glad nie die waarde van hulle werk nie. Agter hulle is ‘n lelike spoor van alles wat teen hulle gestaan het – mense, rampe, te korte, siekte en ‘n klip harde natuur.

Hy kyk na sy vrou en kinders en die stilte word stil.

“Ek slaan my oë op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het.”

Hierdie gesin het dit gemaak. Ek weet dit, want hier sit ek vandag en skryf ‘n kleitablet in die ou Transvaal. Een ding is seker, daar is nie ‘n storie sonder swoeg en sweet, sonder pyn en lyding of sonder ‘n offer.

Maar net soos oupa grootjie gevra het, wil ek julle vandag vra – waar kom ons hulp vandaan?

Rondom ons is daar ‘n kakofonie van skreeuende stemme en slim mense met wyse “waarhede”. My stem inkluis. Dit vertel ons hoe dinge blyk te wees. Alles smag om ons te oortuig dat ons hulp kom van ons self – dit skree hard, “EK IS GOED! EK KAN DIT DOEN! GLO IN MYSELF! PROBEER NET HARDER!”

Volgens die tydgees van ons samelewing is dit banaal om die Skepper van alles te vertrou. Nog slegter, as ons glo dat daar nie ‘n skepper is nie. Wie sal ons dan help deur die swoeg en sweet, die pyn en leiding? Wel dan is daar net ek, en daardie mense wat my soos ‘n reddingsboei moet bo hou.

Kom ons kyk eers wat ‘EK’ kan doen?

Ek is mos goed. Almal vertel my van kleins af. Kyk ek het die bal raak geskop!!! Volgende Springbok losskakel.
Dit is dalk waar, ‘EK’ kan baie goed doen. Ek kan manipuleer. Ek kan leer. Ek kan mense gebruik. Ek kan bou en ek kan breek. Ek kan ‘n toring so hoog soos die hemel bou, indien ek ander kan oortuig van my begeerte. Is dit die doel van EK?

Daar word geskryf van ‘n ryk jong man wat vir Jesus nader met ‘n vraag.

“Goeie leer meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?”

Jesus kyk stip na hom en antwoord hom nie met ‘n “goeie vraag, my liewe jong man” nie. Nee, Jesus maak sy aanname gou reg. Jesus wat God is, vra uit sy menslikheid, “Waarom noem jy my goed?”

Liewe mens, ons fouteer as ons dink ons is goed. Jesus weet dat daar niks anders goed is as God. Jesus, verduidelik baie eenvoudig “niemand is goed, behalwe God.”

Sal Jesus homself weerspreek? Hoekom vertel ons vir almal hoe goed hulle is? Hoekom praat ek groot oor myself? Wat gaan aan. Ek neem aan ons het besluit dat ons nie God se waarheid kan hanteer nie. Toe ek groot geword het, het kerk mense my vertel hoe ‘n groot sondaar ek is. Toe begin mense vir my vertel hoe goed ek is. Kom nou! Wat is dit? Is ek goed of nie? 

Niemand is goed, behalwe God.

Sonder God is ek verlore, MAAR saam met Hom, in volle vertroue op Hom, die enigste Een wat my kan help, kom my redding. Christus in my, die hoop op Sy glorie is die beste wat ek kan wees. En dit alleen, is genade.  

Daarom staan ek elke oggend op wetend dat wanneer ek oorgee aan God binne my, dat Sy glorie deur my sal skyn – en Hy alleen is goed.

So wanneer ek in die vallei van donker dood is, kan ek alleen vertrou dat God se glorie helder sal skyn.

Jesus binne my is die krag en die voorbeeld wat ek volg. Kom ek herinner julle hoe eerlik Jesus was dat hy nie in homself goed was nie.

Jesus het nie homself aangestel as messias nie. Jesus was in volkome onderdanigheid en nederigheid aangestel in sy titel en rol hier op aarde, deur die Vader. (Heb 5:5, Joh 8:28).

Jesus leer my dat hy met volle oorgawe sy Vader se wil gesoek het – want Hy het geweet dat net God, Sy Vader hom kan red, help en lei (Heb 5:7)

Jesus het dit duidelik gemaak dat hy niks doen wat sy Vader nie vir Hom sê nie – NIKS (Joh 5:19, 30; Joh 8:28)

Hy maak nie sy mond oop om te spreek as dit nie deur die Vader geheilig is nie (Joh 7:16, 8:26, 12:49-50, 14:10&24)

As Jesus vir my wys, Hy wat volkome mens en volkome God was, dat sy waarde, woorde en dade deur Sy Vader gerig is, hoe de ongeluk kan ek myself ag as getrou en waardig om goed te wees?

My hulp kom van die Here.

My waarde kom van die Here.

My doel kom van die Here.

Daarom neem ons die kruis wat God ons gegee het. Om Hom, die hoop van glorie binne ons, ten toon te stel in hierdie harde, donker wêreld – dankbaar en vol blydskap dat Hy die harde wêreld klaar oorwin het.

Indien jy KleiTablette se stories geniet, maak ‘n donasie vir die volgende generasie!

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius