Table of contents
Share Post

Ons kan dalk baie by Elon Musk of Chat GPT leer, maar niks leer ons so baie van die lewe soos ‘n spansport. Of dit nou hokkie, netbal, rugby, sokker, krieket of sagtebal is, jy gaan of wen of jy gaan… Een van Uys, my seun, se afrigters het my lewe verander. Dit was ‘n besonders koue oggend langs die rugby veld toe twee klein mannetjies mekaar geskel het oor daar ‘n fout begaan is met die voorbereiding vir die dag se wedstryd. Hy het hulle nader gehark en vir hulle die rede gegee hoekom ons nie mekaar hoef te verskreeu nie. Dit was nie wat ek verwag het nie. “Boys, you are either winning or you are learning.” Daardie dag het hierdie Pappa die les gevang. Ek het dan geleer jy is of besig om te wen of jy is besig om te verloor. Logika is nog steeds logika, of mis ons dalk iets?

Kom ons sny nou maar diep vandag, want ek weet daardie geskel hang steeds soos ‘n geroeste panga oor baie sport velde regoor die wêreld. Maar dit los veral ‘n aaklige wond by ons skole. Spansport is soos ‘n pot sop, elke bestanddeel in daardie pot maak saak en niemand gee werklik om as die wortel dink dit is die held nie. Maak nie saak watter sport jy speel nie, as die linkervleuel pirouettes in die middel van die veld doen terwyl die span besig is om in die modder te swoeg, gaan die telbord nie beleefd wag dat die klein ‘prima donna’ sy solo-act voltooi nie. Tog, hier is ons, skree vir klein Jannie om “die ster te wees!” terwyl ons die harde waarheid ignoreer dat Jannie nie veronderstel is om die ster te wees nie. Hy is veronderstel om deel van die sop te wees.

Laat ek vir jou ‘n prentjie skilder: ‘n Elfjarige, gesig rooi, oë wyd, wat ‘n rugbybal vashou asof hulle met die Kroonjuwele toevertrou is. Die afrigter skree, ouers gil, en iewers blaas ‘n fluitjie asof Armageddon aangekondig word. Hierdie kind het een taak: wen!! Nie om spanwerk te leer nie, nie om die vreugde van aktief wees te verstaan nie, nie om aanpasbaarheid te ontwikkel nie—net wen. En hemel behoed hulle as hulle daardie bal laat val, want die vlak van kollektiewe teleurstelling sal die ineenstorting van ‘n klein nasie se ekonomie ewenaar.

Hoekom doen ons dit aan ons kinders? Dit is asof ons gesamentlik besluit het dat die beste manier om ons kinders voor te berei vir volwassenheid is om hulle in ‘n Tedelex drukkoker te gooi en te kyk wie sonder krake uitkom. Foute word met sugte en kopskud ontmoet asof die kind se toekoms as ‘n neurochirurg in vlamme opgegaan het. Maar hier is die waarheid: foute is die geheime bestanddeel van groei. As ‘n kind nie toegelaat word om te struikel en te leer nie, hardloop hulle net rondtes om die veld van middelmatigheid, bang om buite die veiligheidsone te stap. “You are either winning or learning”, resoneer die wyse afrigter se woorde.

Ons is so lief vir ons kinders dat ons soms vergeet hoeveel van ons eie gebrokenheid ons op hul jong lewens projekteer. Hier is nog ‘n vergelyking vir jou: om ‘n kind groot te maak is soos om ‘n spieël vas te hou, maar die spieël is gekraak. Die manier waarop ons ons kinders aanmoedig (of kritiseer) tydens sport gaan nie altyd oor hulle nie—dit gaan oor ons. Ons skree omdat ons bang is dat hul mislukking op ons sal reflekteer. Ons eis perfeksie omdat ons bang is vir ons eie onvolmaakthede. Ons druk hulle om te wen omdat verloor voel soos om elke verwerping wat ons ooit ervaar het, weer te beleef.

Die hartseerste deel? Ons kinders voel dit. Hulle internaliseer ons gebrokenheid en dra dit oor na die veld. Skielik gaan netbal speel nie meer oor pret hê met vriende nie; dit gaan oor bewys dat hulle goed genoeg is vir ons liefde en aanvaarding. Dit is tyd dat ons terugstaan en onsself afvra: maak ons kinders groot om te floreer, of maak ons hulle groot om die drome wat ons nooit kon bereik nie, te vervul?

Hier is die ding oor spansport: dit is nie net sport nie. Dit is ook hoe die lewe werk. Al hierdie sporte leer ons dat ons saam sterker is as wat ons alleen is. Hulle leer ons dat almal ‘n rol het, van die doelwagter tot die linkervleuel, en dat sukses nie oor individuele glorie gaan nie, maar oor samewerking. As ek ‘n ander persoon laat beter lyk in die proses om te wen, maak dit nie my bydra minder nie. Daar is niks so mooi soos ‘n drie wat gedruk is nadat die bal deur die hele span se hande is nie.

Wanneer ‘n kind leer om hul span te vertrou, te kommunikeer en na ‘n gedeelde doel te werk, leer hulle vaardighede wat hulle vir altyd sal dra. Die kantoor, die gesin, die gemeenskap—dit is alles spansport in die kleine. En as ons ons kinders kan help om hierdie waarheid te omhels, in plaas daarvan om hulle te dwing om die gewig van perfeksie te dra, sal ons vir hulle ‘n geskenk gee wat veel groter is as enige goue trofee.

Michael Jordan, wat wyd beskou word as een van die grootste basketbalspelers van alle tye, was nie net bekend vir sy individuele briljantheid nie, maar ook vir sy vermoë om sy spanmaats te verhef. Ten spyte van sy buitengewone talent, het Jordan die belangrikheid van spanwerk verstaan en dikwels bewustelik pogings aangewend om sy spanmaats goed te laat lyk. Hy het geglo om sy spanmaats rondom hom te bemagtig, die hele span beter sou presteer. Hierdie onselfsugtige benadering het nie net tot talle oorwinnings gelei nie, maar ook ‘n gevoel van eenheid en vertroue binne die span bevorder. Jordan se leierskap op en van die baan dien as ‘n tydlose voorbeeld van hoe ware grootsheid deur samewerking en ondersteuning bereik word.

Die waarheid is, die telbord is nie die ware maatstaf van ‘n kind se sukses nie, en dit is ook nie ‘n voorspeller van hul karakter of toekomstige geluk nie. Die herinneringe van gemisde vangskote en wedstryde waar ons verloor het vervaag baie vinniger as die lesse van vasberadenheid, nederigheid en kameraadskap. Dink terug: die herinneringe wat ons bybly, is nie die tellings wat oor die luidsprekers aangekondig word nie, maar die lag in die kleedkamer, die modderige high-fives, die afrigter wat in jou geglo het toe jy nie in jouself kon glo nie.

As ons regtig wil hê ons kinders moet groei, moet ons hulle dalk net laat speel—regtig speel. Laat hulle in die reën lag, oor hul voete struikel, en die opwindende, onvolmaakte vreugde van om deel te wees van iets groter as hulself voluit te vier. Foute is immers net bewyse dat hulle probeer, verder strek en genoeg waag om te val. En is dit nie wat ons vir hulle wil hê nie—om dapper genoeg te wees om te probeer, en moedig genoeg om weer op te staan?

As ons nou eerlik die man met die bal moet lak. Die hart van sport is verbintenis: spanmaats wat in stilte saamstem, ouers wat van die kantlyn af glimlag en opbou, afrigters wat aanmoediging bied in plaas van ultimatums. Wanneer ons dit onthou, sal ons oorwinnings van ‘n ander aard begin sien—kinders wat selfversekerd, vriendelik en bereid is om ‘n hand te gee wanneer iemand anders struikel.

So hier is die uitdaging, mede-ouers: laat ons die manier waarop ons sport benader, verander. Laat ons juig vir spanwerk bo individuele briljantheid, groei bo perfeksie, en vreugde bo druk. Laat ons onthou dat ons kinders se waarde nie gemeet word aan die aantal doele of drieë wat hulle aanteken nie, maar aan die soort mense wat hulle word. En dalk, net dalk, mag ons logika op sy kop draai deur toe te laat dat die gekraakte spieël wat ons voor ons kinders hou begin herstel. Want ons is self of besig om te wen of besig om te leer.

Indien jy KleiTablette se stories geniet, maak ‘n donasie!

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius