Table of contents
Share Post

Want die vreugde hier binne is net so baie, dat selfs ‘n verroeste stel vingers nie kan stop om te tik waarvan my hart vol is nie. Ek kyk nie eers terug na die spelfoute wat ek langs die pad maak nie. Iemand het dit klaar reg gemaak, ek kan net die speltoetser aktiveer en lyk dan sommer baie professioneel. Ons Koning het klaar die spelfoute van ons lewe reg gemaak, ons moet dit net gaan toets by Hom. Hy is die Waarheid, waarteen ons toets, maar ook die een wat dit reg maak. Dankie Jesus dat U my help, elke dag.

“Hoekom het die kleitablette opgedroog?”, hoor ek jou vra.

Goeie vraag liewe vriend. Ek eer en respekteer altyd jou innige belangstelling en opregte liefde. Dit is julle harte wat my aanspoor om ons avontuur te deel. Die avontuur om Jesus te volg.

Laaste kleitablet wat my asem weg geslaan het was ‘Sak in stilte’, en dit was nadat ons gaan pote klap het in die Visrivier kloof. Dit blyk dat ons meeste van die tyd daarna soos donkies gewerk het. Ek glo dit is hierdie skuurwerk in die winter wat die bloeisels en blare van die lente die mooiste laat lyk. Dit is vir my duidelik dat meeste van my skryfwerk gebeur juis in die winter, wanneer dinge veronderstel is om stadiger te wees. Hierdie winter was ons aan die brand vir die roeping wat God op ons harte geplaas het. Moet my nie verkeerd verstaan nie, die krag en leiding in hierdie stil tyd was so groot dat ek elke dag my hande in die lig kon gooi, met dankbaarheid en prys aan die Een wat ware lewe gee.

Dit is waar, om na buite te lewe bring soveel meer vreugde. Ek dink sommer hardop aan, soveel troues en begrafnisse wat ons kon lei, soveel mense wat ons nuut leer ken het, soveel huwelike wat groei, soveel mense wat geleer het dat ‘n verhouding, nee ‘n persoonlike verhouding met die Vader moontlik is. Daar is ook die bewuswording van die seer in ons gemeenskap, as ek dink aan verslawing, skeiding in verhoudings, tieners wat in verlorenheid soek na iets wat nie fake of voorgee is nie.

Die seer wat ons gesien het, het gemaak dat ons aanhou soek het na iets om vas te hou aan. Ek is seker hierdie Winter het Jesus ons dieper geneem in Sy liefde, so diep dat ons nie anders kan as om te juig, DAAR IS ‘N OPLOSSING! Jesus het sy liggaam gegee, om ‘n liggaam te vestig op aarde, die kerk. Nie daardie plek waaraan jy dink as jy kerk hoor nie. Nie die een met die toring of die groot ouditorium nie. Nee, selfs nie eers die een met die pastoor wat preek dat die mense lag en ruk nie. Ook nie die een met die dominee wat so vroom is dat jy vermoed sy stoelgang ryk soos rose nie.

Die oplossing wat ons gemeenskap nodig het is om verhoudings te geniet. Opregte, omgee verhouding. Ons het nodig om in nederigheid te erken dat ons sukkel met verhoudings omdat ons verhouding met die Een wat ons gemaak het soms ‘n bysaak is. Dalk is dit omdat ons dink alles is gemaak volgens hoe ons dit verstaan en sien, en ek getuig uit eerstehandse ervaring dit is ‘n resep wat jou lewe en ander sin kan laat ondergaan soos Australiese rugby.

Van die wortels wat hierdie winter wraggies baie diep moes gaan water soek het, was ons idee oor die Skepper is. Hoe sien ek Yahweh? Die Een wie se naam nie eers gespreek was in die begin, want Hy is HEILIG verby wat ons kan verstaan. Tog dink ons, met ons slim tegnologie en vinnige processing power, dat ons nie regtig God nodig het nie. Mis ons dalk hoe slim die Een moet wees wat ons gemaak het, met vrye wil, om die skepping te ondersoek en te herskep tot iets meer waardevol. God is tot alles in staat, en Hy wil skeppings krag graag met ons deel, sodat Hy die heerlikheid ontvang. Nie ons nie.

‘n Ander probleem wat ons agter gekom het, dis nou oor wie God is, is dat die duiwel ons gereeld kom mislei met die idee dat God moontlik iets vir ons wegsteek. Dat Hy nie oop kaarte speel en daarom moet ons dinge in ons eie hande neem en lewe volgens ons eie voorskrifte. Nog ‘n gal sleg resep vir gebroke verhoudings. Die seerste een wat ons geleer het, is dat ons self sover gaan om God se voorskrifte belangriker maak as ‘n verhouding met Hom. Wanneer godsdienstigheid ons redder word. Godsdienstigheid is ‘n gruwelike brousel wat hoogmoed laat styg soos ‘n sampioen. Vinnig maar liederlik giftig. Dit is die sonde wat God toegelaat het om Jesus se kruisiging teweeg te bring. Fariseërs en Sadduseërs wat Jesus se lewe gemeet het aan honderde mensgemaakte wette, en hulle het die liefde gemis omdat hulle te hoog in hulle eie oë was.

Hoe sien ek God?

‘n Vader, oop arms. Gereed om my elke keer terug te neem wanneer ek besef dat ek weg gedwaal het van wie ek veronderstel is om te wees.

‘n Broer wat my my so lief het dat hy die waarheid eerder met my deel as om te sien dat ek verlore gaan.

‘n Vriend wat met my alles deel wat hy weet. Een wat my nie alleen wil los nie, wat daar is en altyd ‘n manier het om deur die moeilik te kom.

‘n Verhouding met God is goed, want God is goed en Hy het ons na Sy beeld geskape – om in verhouding te wees met Hom en ander.

As die oplossing vir al die seer wat ons die winter raak geloop het, die kerk is, hoekom sien ons nie meer van die goeie gevolge van kerk nie? Goeie vraag. Dalk is ons nie betrokke by die kerk om te weet dit werk nie of dalk is ons prentjie van kerk ook gevries in iets wat ek vergelyk met ‘n gruwelike brousel – godsdienstigheid. Ek belowe, kerk is nie ‘n manier om beter te lyk deur godsdiens te beoefen nie, dit is ‘n plek waar ons leer om ‘n persoonlike verhouding met God te geniet. Dit gebeur nie outomaties nie. Mag hierdie woord, PERSOONLIK, ons rig en help. Kerk is nie ‘n klub waar ons betaal vir aansluiting om seker te maak, deur ‘n paar rituele en moeite, dat ons toegang het tot die ewigheid nie. Nee, dit is ‘n geleentheid om genade en waarheid met oorvloed lewe te beleef. Genade, waarheid en oorvloed lewe is vrylik beskikbaar, was nog altyd en sal altyd wees – JESUS is die BRON, Sy kruis en leë graf die bewys. Ons lippe en lewe die getuienis. Daarom liewe vriende, dames en here, as die gawe van genade, waarheid en lewe nie gesien en beleef kan word in ons lewe nie, is dit asof jy dit nie ontvang het nie. So is die kerk besig om te lewe dit wat sy ontvang het. Ek noem die kerk sy, want dit word vergelyk met die bruid van Jesus.

Dit is een van die groot redes hoekom ek so opgewonde en vol vreugde is. Jesus het my gekies om met Hom ‘n verhouding te hê, soos ‘n studente meisie wat gevra is om te trou met die mees wonderlikste man op die kampus. Ja, liewe vriend, Jesus het jou gekies en jou gevra om met Hom te trou. Hy het dit gevra deur Sy lewe te gee. So graag wil God met jou ‘n verhouding hê.

Iemand het my al reeds herinner soos elke liewe jaar, dat die Kersfees versierings al uit is in die winkels. Vandag wil ek met blydskap sing, elke dag is Kersfees, want Jesus het homself gegee, een keer, sodat ons elke dag nuwe vars genade, waarheid en lewe kan geniet.

My borrelende blydskap en vreugde mag moontlik ook die gevolg wees van ‘n fees wat Vroulief en ek onlangs bygewoon het. Dit was ‘n troue, wat regtig ‘n fees was. Baie goeie vriende van ons het besluit om hulself vir mekaar te gee. Die boodskap van die beroemde ‘prediker’ het met broederlike liefde ons terug geneem na die kern van verhoudings – God self. Hy is verhouding – ons is na sy beeld gemaak en sonder Hom kan ons nie enige verhouding maak werk nie. Regtig, al het jy al die geld in die wêreld, of jy het al die spiere of kurwes van Hollywood. Al het jy die mag om oorloë te stop, of om kanker te genees. Selfs al kan jy tyd laat stil staan, sal jy sonder God flater na flater begaan. Soms is ons te dom of domastrant om hierdie te aanvaar, so ons probeer op ons eie manier, en ons kan nie. Ons het God heeltyd nodig. Hy is ons wyse Vader, slim Broer, en Kragtige Vriend wat orals, altyd saam met ons is.

So as ek nie sonder God kan nie, beteken dit ek kan hom dien sonder om hom te ken en te vertrou?

Sou dit dan beteken dat as ek net die reëls en regulasies van die heelal volg, dan sal dinge uitwerk, sonder om die Skepper te ken?

Godsdiens red niemand. God red ons.

Dit is uit redding dat ons besef wie God is – die Koning aan wie ons, ons lewens verskuldig is.

Ek glo Jesus is die beste voorbeeld van persoonlik verhouding op aarde. As die Koning van die heelal sonder probleem erken dat Hy net kan doen wat hy die Vader sien doen, hoeveel te meer moet ons nie ook ons leiding neem van God nie. As Hy in volslae desperaatheid gepleit het by die Vader om nie die kruisigings pad te stap nie, hoeveel te meer moet ek nie pleit om nooit sonder God te lewe nie. Jesus was nie bekommerd om dood te gaan nie, Hy wou nie sonder God wees nie. Wat ‘n tipe band is dit, die band wat Jesus en Sy Vader het? As gevolg van Jesus, kan ons ook daardie band vorm. Kan ons ook uitroep met ons asem, Here ek wil nie sonder U nie – NOOIT SONDER U!!!

Indien jy waarde vind by KleiTablette se stories, maak asb ‘n donasie om dit aan die gang te hou?

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius