Table of contents
Share Post

Elke oggend offer die son genoeg nuwe vars lig vir ‘n hele dag. En op hierdie einste oggend was die maan ook betrokke. Ek kan die amper vol maan net-net deur die takke van die Kamfer boom beloer, terwyl die strale van agter deur die kant-venster van my houthuisie val. Seën van alle kante af. 

Seën ook van binne, as die skuim van ‘n kappoetjiennou teen my movember snorretjie vas sit, en die boeretroos in my maag gaan lê. Die lewe voel reg. Ek ruik die koffie aroma en dink aan hierdie dosis bone wat met perfekte nederigheid vir my gestroop, gerooster en gemaal was. Nie dat dit genoeg offer-pyn was nie, was die ryk bruin gemaal deurweek met kokende warm water, sodat ek die geestelike geur kan drink. Heerlik gemeng saam met die romerigheid van ‘n duisend Holstein koeie. Ek kan vir julle vertel hoe die melk gegee, nee geoffer is sodat ek so ‘n spesiale koppie koffie kan geniet. Maar ek glo julle kry die prentjie. Dis op hierdie oomblik dat die kaffeïentjies my brein stimuleer en ek kan nie help om te gryp vir ‘n pen en ‘n kleitablet.  

Ek vee die melk-snor af en begin te tokkel op die sleutelbord.  

Wat gee ons vir mekaar? Wat offer ons vir ander? Kan ons lewe getuig van ‘n offer om vir iemand anders iets spesiaals te wees? 

Ek vermoed liefde is, eerstens, ‘n keuse om nie aan onsself te dink nie, maar aan daardie ander wat op ons pad kom. Dit is klaar ‘n groot offer om aan ander te dink. Om nie te dink aan wat ék wil hê nie, maar wat ek kan gee of beteken vir ‘n vriend, ‘n vreemdeling of die een naaste aan my. Ek het nou al geleer, na ‘n klomp jare, dat vroulief dit innig baie waardeer as ek haar bystaan wanneer sy beskuit bak. Sy verpes die deel waar die beskuit uitgepak moet word om gedroog te word in die oond. Dis ‘n morsige spul, maar as ek by haar staan en help, dan voel dit soos ‘n fees. Ek verstaan dit nie, maar dit is so en daarom wil ek dit doen. Want ek kies haar belange voor my eie. Hierdie is ‘n eenvoudig voorbeeld, maar dit is die konsep wat tel. Ek geniet beskuit pak nog minder as vroulief, maar wanneer ek weet dat dit vir haar vreugde bring om iets saam met haar te doen, gaan dit nie meer oor my nie, dit gaan oor my naaste. Ek kies om te dien, deur iets op te gee van myself.  

Dit kos my dalk om my tyd en my planne en behoeftes opsy te skuif en aan haar te dink. Tog is die vreugde wat daaruit kom soveel dieper en ryker, amper soos die romerige skuim van ‘n kappoetjiennou.  

Ek vermoed ook dat liefde, tweedens, die afsterwe is van wat vir ons belangrik is sodat ons, ons effort op ander kan fokus. Dit klink so baie soos die punt wat ek hierbo probeer vas slaan het. As ek vra wat vir ander die beste is, moet ek deurentyd myself stop vir ‘n oomblik en vra hoe kan ek iemand anders bedien of seën. Willens moet ek ophou aan myself dink. Gereeld moet ek vir ‘n oomblik die rede vir my besig wees of dagtaak bevraagteken. Is wat ek nou doen ‘n offer vir die heerlikheid van God. Dien ek Hom in wat ek op die oomblik aanvang.  

Persoonlik weet ek dat ek moet sterf aan myself en ‘n PUNT maak om te vra, ‘hoe kan ek myself posisioneer op so ‘n manier dat ek ander kan bedien of spesiaal laat voel?’ Die wêreld vertel ons duidelik – ‘doen wat goed is vir jouself.’  

Ek glo liefde is meer as om net reaktief te lewe, om net wanneer iemand naby ons ‘n behoefte toon uit te ryk en iets te doen. Nee liefde gaan verder want om intensioneel te soek na geleenthede om te dien, is ‘n offer waar ons uitwaarts lewe. Want Jesus moet meer word en ons minder. Hy het, nadat Hy sy dissipels se voete gewas het, vir ons ‘n nuwe opdrag gegee, “Julle moet mekaar lief hê soos ek vir julle lief gehad het.”  

Ek glo, dat in hierdie afsterwe lê die ware pyn van liefde. Is ek bereid om alles wat ek doen te offer vir die ander, die vriend, vreemdeling of die een naaste aan my. Dalk is hy of sy ‘n bietjie verder as ‘n naaste, maar jy weet hulle kort ‘n kuier, ‘n drukkie of ‘n bemoedigende woord. Hulle kort dalk ‘n bord kos, dalk salf vir ‘n wond, of die versekering dat aan die einde van trauma lê daar steeds ewige en opregte liefde en verlossing. Dalk kort hulle net daardie liefde wat hulle nie verwag het nie. Wanneer ons daardie tydjie het om te dien, dink ons na buite of soek ons die gemak van ons rusbank op? 

Al hierdie vrae is besig om my ‘n bietjie ongemaklik op my stoel te laat rondskuif. Dit is asof hierdie kleitablet vir my geskryf word. Lewe ek uitwaarts of vir my eie gemak? 

Ek staan op en gaan maak nog ‘n kappoetjiennou, maar hierdie keer maak ek twee. Een vir vroulief en een vir my en ek gaan sit by haar en vra haar ‘n gevaarlike vraag, ‘Liefie, hoe was jou dag?”

Indien jy waarde vind by KleiTablette se stories, maak asb ‘n donasie om dit aan die gang te hou?

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius