Table of contents
Share Post

So begin die ou Tarentaal sy storie, net nou die dag, nadat ek ‘n koppie koffie voor hom neersit en omdraai om my eie beker boeretroos te neem. Ek roer die brousel en vat ‘n teug. Romerig, die bone het mooi saam met die melk gesmelt.  

Ek weet nie wie die ‘julle’ is waarvan hy praat nie, want dis net ek en hy wat in die kombuis by die tafel sit. Die swart koolstoof se hitte gloei deur die hele vertrek en verlig dowwerig oranje die meublement van my nederige kombuis. Ek laat oom Tarentaal maar gaan want dis pynlik om met hom te stoei oor sy klaar gesproke woorde. Hy is nogsteeds so seker soos belasting oor al sy stories. Ek het hom gemis vir ‘n ruk. Jy sal dit nie glo nie maar hy was glo dood gewees. Soms weet ek nie meer wat om te glo nie, maar as hy uit die dood opgestaan het is ek seker dis omdat die engele moeg was vir sy stories en hom teruggestuur het om te kom leer. 

Mag die ou mens hierdie keer leer. 

Tog sit hy nou hier voor my en vertel my van ‘n misterie wat vir meer as agintagtig jaar versluier was deur die skaamte van ‘n verleë generasie. ‘n Generasie wat hoogmoed probeer sluk het soos ‘n tros druiwe. Hulle het gedink hierdie druiwe gaan iets beters bring en al wat die ongehoorsame druiwe gebring het was – dood. Hulle het mooi geweet dit is verkeerd en tog het hulle geneem en geëet. Daarna het hulle probeer wegkruip want hulle was naak en tog so slim. Daardie dag het ‘n liefdevolle Vader hulle bedek met ‘n offer en belowe dat daar eendag ‘n misterie gaan ontvou wat hulle tot volle oorspronklike wese sal herstel. 

‘My jinne Tarentaal, ek het niks anders as koffie in daardie beker van jou gegooi nie. Waar kry jy hierdie besigheid oor ‘n misterie en hoogmoed vandaan?” wou ek ergerlik weet. 

Niks kry hom van spoor nie en hy gee my ‘n kyk wat my laat voel soos iemand wat ‘n werkskollega by die badkamer met ‘n nat hand groet. Ek kyk anderkant toe en laat hom toe om verder te gaan. 

Hierdie hoogmoedige generasie het gekom en gegaan en vir jare na jare het die mense gewag en gehoop vir die misterie wat gaan kom. Tog het die Een wat hulle geskep het, hulle skaamte bedek met offers van lammers, sodat hulle kon aangaan sonder die ergste las van daardie skaamte waarmee hulle gesit het. Hy was vir hulle soos ‘n Vader wat hulle gereeld moes was en mooi skoon aantrek. Oom Tarentaal neem pouse vir ‘n oomblik om die emosies te halt, dan sê hy stadig en geweeg, “as ek na my kleinkinders kyk verstaan ek die Skepper se hart oor Sy skepping”.  

Vir elke mens wat vasgehou het aan die hoop van ‘n liefdevolle Skepper was daar versorging en voorsiening. Jy het sekerlik al van daardie mense gehoor. ‘n Man wat sy familie en ‘n klomp diere in ‘n boot gered het. ‘n Man wat aanhou glo het in die Skepper se belofte van ‘n groot nasie, en geag was as ‘n vriend vir hierdie Skepper. ‘n Man wat vanuit Egipte die wêreld gered het van hongersnood. ‘n Vrou, van die nag, wat spioene uit die hande van die vyand gered het in Jerigo. ‘n Koning en digter wat voor sy sestiende verjaarsdag reeds ‘n reus verslaan het. Dan is daar ‘n jong man en sy vriende wat sonder skroom die magtigste koning teen gestaan. Noem dit op, dit was ‘n klomp mense wat een ding in gemeen gehad het, hulle het aan die beloftes van die Skepper vas gehou. Hulle het bly glo dat hierdie Skepper eendag ‘n misterie voor ons sal ontvou wat ons sal red van ons hoogmoed. 

“Wat is die misterie, Tarentaal?” wil ek gretig weet. 

Tarentaal gaan voort, “ek wonder of ons die redder sou erken as ons hom vandag in die straat sou raak loop?” Ek kyk na oom Tarentaal en die wonder drup soos ‘n munisipale kraan by die parkie in die onderdorp. ‘n Bietjie minder as agintagig jaar terug het daardie redder gekom. Maar ek is seker dat dit in daardie tyd dieselfde was as vandag. Donkerte was besig om die wêreld te verswelg en almal het gewonder wanneer kom die beloofde redder. Ek wonder of hulle in daardie tyd ook gedink het dat hulle nie werklik ‘n redder nodig het nie. Wonder wat het hulle weggehou van die oplossing. Hoogmoed maak dat ons glo ons kan onsself red, ‘nee dankie ek sal hier op my troon sit terwyl die wêreld vergaan rondom my’. 

Daar was ook ‘n groot wêreldmag wat geheers het. Politiek en oorlog. Mammon was toe ook op loop, besig om die mense te verly agter ander gode aan. Vandag word dit dalk nie gode genoem nie, maar dit werk presies dieselfde. Mense probeer lewe soos wat hulle goed dink, slaafs agter plesier, mag en aansien aan.  

“Dis bietjie donker, Tarentaal?” probeer ek keer voor ek in ellende plons.  

Jy dink dit was donker, daar was ‘n tyd dat die mense die DOOD in dodelike donker gesit het en God het besluit om alle mense uit te wis sodat dinge kan bedaar. Amper soos ‘n terugstel na fabriek instelling. Maar die Skepper het een gesin gespaar om die misterie te volbring. Het die terugstel gewerk? Tarentaal is seker dat die Skepper se planne is perfek, en ons kan nie weet hoe lewe anders sou wees as hy nie dinge teruggestel het nie. Maar steeds was die gevolg van daardie eerste hoogmoedige keuse, die dood, deel van die mens. Nie die bloed-vloei-nie-meer-deur-die-are tipe dood nie. Nee, geestelike dood, wat beteken ons is nie meer gekoppel aan die Skepper soos voor die ongehoorsame druiwe nie. En vir jare het die mense in skaamte probeer om hul self te red, want hulle het steeds gedink kan hulle eie koninkryk skep. Ons sukkel waarlik om te besef dat dit nodig is dat ons lewens weer teruggestel moet word na oorpronklike wese. Maar soos ek vertel het, daar was ‘n paar mense wat dit tot ‘n mate reg gekry het. En toe in die donker het daar ‘n ster verskyn.  

“Sjoe, gelukkig kom daar ‘n bietjie lig” raak ek versigtig opgewonde.  

Die openbaring van hierdie misterie was so anders dat die meeste mense dit verwerp het, nee verag het en daarop gespoeg en getrap het. Nie baie het verander nie, daardie selfde donker kruip nog in die harte van mense wat nie wil draai en uitroep na die Een wat red nie. Soos ek reeds vir jou vertel het, weet ek nie of ons hom sou erken het, as Hy hier tussen ons gewandel het nie. Wie weet? Na die ster se verskyning was daar ook ‘n man wat sterk geglo het in die beloofde misterie. Sonder dat hy geweet het was hy besig om mense voor te berei vir wat oppad was. Hy was soos die een wat voor sonop met die donker wat kwyn die nuwe dag roep. Dit het so gebeur dat ‘n man by sy werkstasie opgedaag het vir ‘n bad, nie ‘n tradisionele bad nie. ‘n Bad in die rivier waar jy onder die water gaan en nuut opstaan. Hierdie aankondiger het uitgeroep, KYK HIER IS DIE LAM VAN GOD. 

“Hoekom noem hy ‘n man ‘n lam?” wil ek graag by Tarentaal weet. 

Dit was omdat hy die perfekte oplossing was vir die mens se hoogmoed probleem, dit wat die outydse geslagte lammers nie kon doen nie het hy gedoen.  

“Maar hoe sou hy dit doen?” ek hang letterlik aan Tarentaal se droë lippe. Ek moet vir hom bietjie vetjies gee om aan daardie barste te smeer. 

Deur om die absolute teenoorgestelde van hoogmoed te wees. En Hy was nog meer – Hy was volkome gehoorsaam aan wat Sy Vader vir hom vertel het. In nederigheid het Hy ons skuld gevat. Terwyl hy geen skuld gehad het nie, tog het hy gesê slag my vir al die generasies se hoogmoed. Tarentaal wag so ‘n ruk stil sodat ek dit kan afsluk. Wat hierdie lam van God gedoen het was genoeg om met al ons gemors af te reken – eens en vir altyd. Nou is ons vry. Al ons hoogmoed en ongehoorsaamheid was saam met hierdie lam geslag. Dit moes hy doen om ons te kon verander sodat ons weer voor ons Skepper kon verskyn en met hom een kan wees in gees, soos voor daardie druiwe episode. Dit was nie ‘n pragtige ding gewees nie, waarlik vernederend vir die Seun van God. Hy was die ware God en ook ware mens. En hierdie God was bereid om die teenoorgestelde te doen as wat daardie druiwe dief gedoen het. Want kyk, hoogmoed sal jou vertel dat die koning se onderdane vir die koning moet sterf, maar ons Redder was bereid om, ten spyte van sy koningskap, te sterf vir sy onderdane.  

“Dit maak nie sin nie? Hy gaan die teenoorgestelde doen. Hy gaan wat ons nie kon doen nie, doen. En daarom gaan dit ons red?” vrae borrel uit my soos ‘n boor wat ‘n wateraar tref. 

Hoogmoed vertel jou dat jy jouself kan red. Nederigheid verklaar dat ek die ware Een nodig het om gered te word. Dit moet jy aanvaar en hardop en sonder skaamte erken dat hierdie lam van God, Koning is. Ja, Jesus is die Koning.  

Ek sit vir ‘n oomblik en kyk net stip na ‘n ou oom wat voor my kiertsregop op die ou riempies stoel sit. Die glimmer van ‘n glimlag op sy gesig laat weet my sy storie het gefluit. Maar meer as net ‘n storie wat klaar is, hy het geniet om te praat oor die misterieuse Koning. Hy laat my toe dat my gedagtes ‘n geheel vorm en krap dan sy harige oor. 

“Wanneer het oom geweet dat Jesus vir oom gered het?” vra ek stadig. 

“Boetie, die vraag is eintlik wanneer het ek aanvaar dat ek of niks anders die koning is nie, net Jesus is die Koning van die heelal. Ons word nie gered om op ons eie troon te sit nie” 

Indien jy waarde vind by KleiTablette se stories, maak asb ‘n donasie om dit aan die gang te hou?

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius