Table of contents
Share Post

Binne die houthuis is elke dag na twaalf in die middag ‘n sauna. Ek trek soos ‘n Bloukraan voël na binne in die huis vir die middag en trek weer terug, as die son agter die Kamfer boom sak. Ja, ons almal het ons goedjies wat ons moet doen om te oorleef. Dis dalk nie nodig om so dramaties te wees nie.  

Die reënts het nog steeds nie geval nie. Die gras is nie meer grou nie, maar net grys. Ons Magnolia boom is besig om te verdor. Ek is bekommerd ek sal haar nie kan red nie, en tog glo ek in die krag van opstanding. Daar is ‘n paar wonderwerke oppad in ons tuin. So wag ons op die reën, soos Elia met sy kop tussen sy knieë.  

Daar was ‘n spoegsel van ‘n paar druppels nou die aand, maar geen teken daarvan was sigbaar die volgende oggend toe ons dor voor dag by die deur uitstap om te gaan draf. My brein begin te werk in ‘n rigting, soos ons verby ‘n klomp bruin grasperke draf. ‘n Vraag vorm in my kop terwyl ek myself oortuig dat dit nog gaan reën, ja, een of ander tyd sal dit kom. 

Hoekom is ek oortuig dat die reën sal kom?  

Is dit geloof? Glo ons omdat ons die natuur vertrou? Of glo ons omdat dit elke jaar een of ander tyd tog reën?  

Ek laat die vrae rond skommel, terwyl ek een voet na die ander teen die teerpad laat val. 

Ek het die vorige keer in my kort kleitablet gegraveer oor ‘n seep monster wat hier by ons huis die seep kom hap – lees gerus ‘Die seep monster’. Ek het wel nie weer enige happe uit die koekie seep bespeur nie, maar met ons begroting is een hap te veel om nie ondersoek in te stel nie. Ons het lank gesoek na die gladde bek. Ek het toe maar dieselfde taktiek gebruik om die seepdief op te spoor as wat ek doen wanneer ek enige iets soek – roep vir Vroulief. Mense, mense, sy verstom my elke keer as sy met die verlore item na vore kom. Vroulief moes ‘n speurder gewees het, want sy vind dinge wat ek lankal af geskryf het as verplaas buite ons sterrestelsel.  

Wat ‘n skok op die sisteem toe selfs vroulief nie met hierdie borrel-burper in boeie kon uitkom nie. Maar nadat speurder voorslag (dis nou Vroulief) nie die saak van die skuim-pens kon kraak nie, het ek geweet ons het te doen met ‘n ander werf se jakkals. Ek was gereed om Skotland-werf, of die FBI in te roep. Ek het selfs gedink hierdie mag dalk ‘n saak wees vir Mulder en Scully van die X-files. Met my hoop wat kwyn soos stoom uit ‘n ketel op ‘n koue dag, het my lus en ywer om die vabond vas te trek ook verdwyn. 

Een oggend oppad skool toe om die kinders te gaan afgooi, vertel ek hulle van hierdie vreemde gebeurtenis in ons huis. My dogter, wat voor langs my sit, luister aandagtig en haar kop spring na my kant toe, op die oomblik wat ek vertel van die tandmerke in die seep.  

“Maar Pa, dit was ek”, vertel sy heel verbaas dat ek nie kon begryp wat gebeur het nie. My eerste vraag is toe natuurlik, hoekom het sy ‘n hap seep gevat. My gedagtes gaan draai toe sommer onmiddellik by die reuse sielkundige rekening wat ons gaan kry vir die behandeling om haar te help om op te hou seep eet. 

“Nee pa, ek het die koekie seep so gesqueeze met my hande, en toe sit my vinger merke daarin” verduidelik sy half verontwaardig dat ek kon durf dink dat dit byt merke was, terwyl sy met haar hande ‘n denkbeeldige koekie seep vasdruk. 

Ek was vir ‘n oomblik stil, terwyl ek die prentjie van die koekie seep herroep. En dan is dit asof verlugting my omvou soos die koel water van ‘n swembad as jy induik op ‘n hittige dag. Ek begin net daar vir myself te giggel soos ‘n skooldogter met twee vlegsels.  

Vir daardie oomblik besef ek dat my geloof ‘n seep-etende monster opgetower het in my verbeelding, asof die ding werklik bestaan het. Is dit nie verbasend hoe kragtig ons gedagtes is. Dit kan iets glo wat nie eers bestaan nie. Die ergste is dat my tong en lippe ook daarop ‘ja’ en ‘amen’  geantwoord het.  

Hierdie is dalk ‘n lawe staaltjie uit ons huis, maar dit wys vir my dat geloof werklik kragtig is. Kragtig genoeg om my realiteit te hervorm rondom ‘n aanname. Ek besef op daardie oomblik hoe gevaarlik dit kan wees indien ons ‘n leuen moet aanvaar as die waarheid.  

Daarom wil ek julle waarsku, dat met al die krag van geloof, benodig ons groot verantwoordelikheid en wysheid, want selfs net ‘n onskuldige aanname kan lei tot ‘n lelike misverstand met slegte gevolge.  En juis daarom moet ons versigtig wees om nie net enige iets te aanvaar of glo asof dit die volkome waarheid is nie. Ons moet bereid wees om te aanvaar dat ons verkeerd kan wees, of met verkeerde inligting sit. En as dit ‘n fundamentele kwessie is, kan ek net voorstel dat jy die saak sal toets aan die waarheid wat ewig sal bly staan – die Woord van God. Want die Woord van God kan sny tot die diepste moontlike vlak. 

Dit laat my dink aan die reën waarna ons so smag. Is dit moontlik dat die eerste reëns van die seisoen kom val as gevolg van ons geloof? 

Indien jy waarde vind by KleiTablette se stories, maak asb ‘n donasie om dit aan die gang te hou? 

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius