Die opgewondenheid wanneer ek by die deur uitstap en ‘n groot hap vars vogtige lug neem. Die brein reset sommer net daar, want hy weet die belofte van reën ruik presies so. Daardie reuk, daardie humiditeit in die lug is duidelike tekens dat dinge besig is om te draai in die atmosfeer. Ek glo jy ken dit. As jy al ‘n paar winters deur gemaak het hier op die hoëveld van Suid-Afrika, ken jy die smagting na nattigheid om die droë winter af te spoel. Mens begin dit al soek van Augustus af, en teen September word die soeke ‘n noodkreet wat meeste gesprekke deurweef. Net iets om die stof te stil en die plante wat al begin groen gooi het, ‘n hupstoot te gee. Ons gras lyk op die oomblik na ‘n aaklige grou, ‘n mengsel tussen grys en groen. Kom tog reën, kom tog gou, pleit my siel. My sinusse pleit nie net nie, dit ween.
Daar is iets binne my wat net so smag, elke dag, na ‘n ontmoeting met ons hemelse Vader.
Daarom skryf ek vandag op ‘n kleitablet. Dit is nie gekompliseerd nie. Net ‘n eenvoudige kleitablet wat soek na iets vars.
Ek reinig myself van tyd tot tyd. Ek doen dit gewoonlik in die stort. Nie te vêr terug in die verlede dui Vroulief vir my aan dis tyd vir ‘n goeie skrop en ek loop haal my handdoek. Toe ek in die stort instap sien ek iemand het ‘n hap uit die koekie seep geneem. Ek loer hierdie besigheid van naderby. Ek maak nie stories op nie, daar sit waaragtig tand-merke in die koekie Dove seep. Vet ronde tand-merke. Hoe de ongeluk sal dit nou gebeur. Ek weet my graad 4 seun is meer kere as nie onhebbelik honger, maar so honger, dat hy hom sal wend tot ‘n koekie seep? Ek weet darem nie. Vir ‘n ruk staan en staar ek daar terwyl ek probeer pluis wie happies seep neem, toe my menslike musk my herinner hoekom ek in die stort staan. Maar voor ek begin was, besluit ek om ‘n foto te neem. Hierdie vreemde fenomeen moet ondersoek word.
Die res van die dag kan ek net nie ontslae raak van die onopgeloste misterie van die seep monster, of is dit ‘n baie honger koekie monster, wat ons seep knibbel.
Daar is maar min myle tussen verstaan en voorgee, maar die ongeluk is wanneer jy voor iemand staan en getuig van verstaan terwyl jy nie ‘n benul het waarvan jy praat nie. Maar dan word daar opgevolg met ‘n, ‘so hoe verstaan jy dit’ vragie. Ai my liewe leser, hoekom is ons so bang om te bely dat ons nie weet nie? Algemene logika in al haar glorie, fluister vir my nounet dat dit makliker is om te erken as jy nie verstaan nie as om iets te probeer verduidelik wat buite jou begrip is. Ek dink ek is op die oomblik besig om hierdie storie verkeerd om te vertel. Dalk moet ek eers wag dat die storie ordentlik ontkiem voor ek sy vrugte deel. Ek glo dit is nodig dat die komende nattigheid die grond eers moet deurweek, sodat die saad kan sterf en spruit.
‘n Dag later…
Daardie beloofde reënts het nog nie gestort nie. Ek kan wel elke dag sien hoe die wolke bymekaar kom, so asof hulle vergader om ‘n stemming te hou of hulle gaan val of nie. Ek dink dis tyd vir ‘n intensionele intervensie. Wie is saam met my – #reënmoetval?
Ek het ook nog nie die seep monster vas getrek nie. Dit wil vir my voorkom asof hy aanhou deur my vingers glip.
Ek hoop julle kom terug vir die volgende aflewering van die misterie van die Seep Monster.
Indien jy waarde vind by KleiTablette se stories, maak asb ‘n donasie om dit aan die gang te hou?

