“Toe hulle dan klaar was met die môre-ete, vra Jesus vir Simon Petrus: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Laat my lammers wei.” JOHANNES 21:15 (AFR53)
“En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.” MATTHÉÜS 22:37-40 (AFR53)
Ons lewe op aarde het baie te doen met die oortuiging en die motief van ons hart, terwyl ons met siel, liggaam en gees steeds streef na heiligheid.
Maar wat ons ook al doen, moet nooit belangriker wees as ons verhouding met die enigste een wat ons regverdig en heilig gemaak hèt – JESUS CHRISTUS.
So terwyl ons besig is met ons beroep, godsdiens, goeie werk, ontspanning, huwelik, studies, bediening, verhouding, sport, kuns of wat ook al ons tyd hier op aarde in beslag neem, doen dit uit ‘n onwankelbare liefde vir Jesus Christus – die een wat dit moontlik maak om LIEF te hê.
“Laat ons mekaar liefhê omdat Hy ons eerste liefgehad het.” 1 JOHANNES 4:19 (NLV)
Die beste manier om te wys dat ons vir Jesus lief het is om almal waarvoor Hy hier op aarde lief is, ook lief te hê, met dieselfde liefde wat Hy in ons uitstort wanneer ons oorgee in gehoorsaamheid aan sy groot gebod.
Vader, toets asb my hart en wys my waar ek dinge doen vir my eie belang en begeerte en nie uit volkome liefde vir U nie? Amen

