Die sirenes loei in die verte voor dit vir ‘n paar sekondes stil word. En dan: ‘n kermkreet—of is dit dalk ‘n kernkreet?—wat ontplof in die dieptes van my hart en vas-eggo teen die planke van die houthuis. ‘n Trop hadidas vlieg van die dak af en skree soos die ouetehuis van De Aar se a cappella-koor.

Stilte.

Daar is nie regtig woorde nie, net ‘n diepe begeerte dat die Heilige Gees ons sal seën met Sy hart wanneer ons gesels oor ‘n onderwerp waaroor ons as manne skaam is – seks of dalk eerder intimiteit. Ek sukkel nou al vir meer as ‘n week lank om hierdie KleiTablet vas te lê. Elke keer skep ek klei en begin werk, maar dan is daar iets wat my stop. Die klei is te droog, daar is iets vuil in die klei, die woorde stagneer. Dit is nie normaal dat die woorde net nie wil kom nie.

Dan pleit ek weer by die Vader. En wanneer my pleitkreet opgaan en die stilte neerdaal, kom vra die Vader my om die oorvloedige lewe van Sy Seun, Jesus Christus, met julle te deel. Seks is deel van daardie oorvloedige lewe. Hy het ons gemaak om iets te beleef wat ons net met iemand anders kan deel wanneer ons liggaam, siel en gees in ‘n perfekte oomblik die realiteit van twee teenoorgesteldes deurskeur om in eenheid saam te smelt as een volledige wese. In daardie oomblik word daar ‘n energie—of dalk iets veel meer as dit—vrygestel wat woorde nie kan beskryf nie; wat nuwe lewe kan vorm, wat ‘n onbreekbare konneksie sweis, en wat oneindige pyn veroorsaak wanneer daardie band weer geskeur word. Ek weet nie presies hoe dit werk nie; al wat ek weet, is dat God dit so gemaak het.

Die krag van intimiteit

Dit laat my dink aan daardie meesterstuk van Christopher Nolan, Oppenheimer. Dit is ‘n fliek wat die absolute fassinasie en verskrikking vasvang van die oomblik toe wetenskaplikes dit regkry om die onsigbare krag wat materie bymekaarhou, te breek. Die atoom is gesplits, en ‘n mag is losgelaat wat die wêreld onherroeplik verander het.

Die krag van konneksie en intimiteit is sterker as atoomkrag, en die uitval as dit misbruik word, is selfs ‘n groter verwoesting as Hiroshima, Nagasaki, Chernobyl en Fukushima saam. Net soos kernafval, deurdring dit ongesiens elke liewe deeltjie van ons lewens—verhoudings, gesondheid, gemeenskappe, net plein álles. Ons moet besef dat dít wat ons in die geheim doen, versprei soos radioaktiewe kanker na alle areas van ons lewe.

Maar hoe wonderlik is dit wanneer atoomkrag met ontsag binne die grense van ‘n reaktor hanteer word? Dit het die vermoë om lig, hitte en lewe aan ‘n hele stad of gemeenskap te gee. Die oomblik as ons egter met daardie krag buite sy ontwerpte perke speel, of dit as ‘n wapen gebruik, veroorsaak dit ‘n absolute kerngemors. Die radioaktiewe uitval vernietig onskuldige lewens vir generasies lank.

Kom ons praat daaroor

Die laaste sluipmoordenaar in die Skerpskutter-reeks wat daarop gemik is om ons as manne uit te haal sodat ons nie in oorvloed lewe nie, is Seks. Of eerder: die misbruik van seks om ‘n kunsmatige “konneksie” te bewerk waarbinne ons onsself probeer handhaaf.

Manne, kom ons trek die pleister vinnig af. Ons praat nie maklik hieroor nie. Maar in die stilte van my gebed gister, het ek by die Vader gaan pleit: “Here, sê asseblief vir ons as mans, ook vir ons vrouens, vir die jong seuns en toekomstige bruide… wat is U wil werklik met hierdie massiewe dryfveer in ons?”

Seks is nie bloot ‘n biologiese funksie of ‘n tydelike ontlading nie. Dit is God se geestelike atoomkrag.

As ons in Genesis lees van die heel eerste intieme oomblik tussen ‘n man en ‘n vrou, staan daar nie hulle het mekaar “gebruik” nie. Daar staan: Adam het Eva geken. Om iemand werklik te ken. Dit is die mees intieme, weerlose ding wat tussen twee mense kan gebeur. Om iemand anders werklik binne-buite te ken, en om jouself so oop te vlek dat jy volkome geken word, sonder ‘n greintjie skaamte.

God het slegs één veilige reaktor gebou waar hierdie ontsaglike krag gesond hanteer kan word: die verbond van die huwelik. Binne die veilige mure van volkome trou, word hierdie krag gebruik presies waarvoor dit bedoel is—om nuwe lewe te genereer, om mekaar in diepste liefde te geniet, en om twee siele onlosmaaklik aan mekaar vas te bind. Binne die reaktor is dit ‘n lewegewende wonderwerk, waar ons kan ken en geken word.

Die Voorvereiste vir Veiligheid

Maar hoe keer ons dat hierdie reaktor in ‘n selfsugtige kernramp ontaard? Hoe keer ons dat intimiteit nie net die blote bevrediging van ons eie vleeslike behoeftes word nie?

Hier is die absolute voorvereiste: Ons konneksie met God is die beheerstokke van hierdie reaktor.

As ‘n man met ‘n leë, onvervulde siel in ‘n huwelik instap (of in ‘n gejaag na vrouens) met die hoop dat seks sy eensaamheid, sy stres of sy gebroke eiewaarde gaan genees, word hy ‘n swart gat. Hy begin vat. Hy eis intimiteit om homself te bevredig, of hy forseer dit van iemand wat op daardie oomblik nie geken wil word nie. Dit skeur die materie van ‘n vrou se siel uitmekaar.

Ons moet onsself éérs in totale, intieme oorgawe aan God offer. Ons moet toelaat dat die Skepper van die heelal ons binne-buite ken en ons diepste eensaamheid vul. Slegs wanneer ons volkome veilig en vervuld in Hom is, kan ons die slaapkamer instap—nie as honger mans wat iets kom soek nie, maar as mans wat iets kom gee. Dan kan ons onsself offer soos Christus gedoen het.

Wanneer ons hierdie krag buite die reaktor van die huwelik soek—in pornografie, kortstondige verhoudings of wellus—splits ons die atoom vir ‘n vinnige, selfsugtige ontploffing. En dit veroorsaak ‘n geestelike kerngemors. Die uitval van pornografie verblind ons lens; dit vernietig ons vermoë om werklik lief te hê en reduseer God se pragtige skepping tot blote objekte. Ons word lopende kernrampe wat ongesiens radioaktiewe afval mors.

Ons almal sit vandag en lees hierdie, en sien ons eie kernramp. Ek het al dinge gedoen met my eie liggaam, en ook met ander s’n, goed waaroor ek siek is van skaamte.

Hier is die lewensreddende hoop vir ons manne in hierdie loopgraaf: Koning Jesus het reg in die middel van ons radioaktiewe wêreld ingestap.

Toe Hy aan die kruis hang, het Hy nie iets van ons kom vat nie. Hy het Homself as die finale offer gegee. “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word.” Hy het die volle straf en die vernietigende uitval van ons selfsugtige ontploffings op Homself geneem, sodat ons gebroke gemors skoongewas en herstel kan word – ‘n ware factory reset. Sy genade en Sy vergifnis kan die dodelikste kerngemors deaktiveer. Jy kán vandag vergewe en vry wees.

Kom ons stel ons visier in:

  • WEET dít: Seksuele intimiteit is goddelike atoomkrag. Dit is ontwerp om uitsluitlik binne die veilige reaktor van die huwelik te floreer, om lewe te bring en mekaar te geniet. Maar die voorvereiste is jóú konneksie met God: sodra jy jou vervulling in Hom vind, verander intimiteit van ‘n selfsugtige soektog na ‘n pragtige gawe waar jy jouself gee.
  • VOEL die hoop en vrygewigheid: Laat die ontsaglike gewig van jou foute by die kruis agter. God definieer jou nie deur die kernrampe van jou verlede nie. Voel die ontsag dat Hy jou genoeg vertrou om jou te genees en jou uit te nooi na ‘n plek van reinheid. Jy is, deur Sy bloed, ‘n vrygespreekte man.
  • DOEN dit: Stop die kettingreaksie van “vat”. Gaan vandag na God toe en laat Hom toe om jou siel te vul. Gaan dan na jou vrou en vra die Vader om jou te leer hoe om jouself werklik vir háár te gee, sonder bymotiewe. En as jy vasgevang is in ‘n verslawing wat in die geheim ontplof—bring dit in die lig. Bely dit teenoor ‘n broer. Geheimhouding is wat die ontploffing aan die gang hou; deursigtigheid skakel die wapen af. Ek nooi jou uit om persoonlik jou storie met my te deel – reël ‘n afspraak hier.

As ons met die krag van die Heilige Gees leer om onsself te offer soos Jesus gedoen het, word ons manne wat ons gemeenskap verlig in plaas daarvan om dit te vernietig. STAAN OP, ontvang Sy genade, en bou wat ewigheidswaarde het!

Het hierdie KleiTablet ‘n verskil in jou lewe gemaak? Word deel van die lewegewende verskil wat KleiTablette bekragtig, deur ‘n maandelikse bydra te maak!

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius