Table of contents
Share Post

Genugtig, hier sit ek uiteindelik vir ‘n oomblik stil genoeg vir lank genoeg om ‘n paar woorde uit my hart te pers. Ek praat ongelooflike onbenullighede, die woorde vloei sommer van self, soos die fonteine op my skoonpa se plaas na ‘n goeie reën seisoen. Vroulief vertel my nou die dag na ‘n uur en half gesprek met haar suster, die twee kan moes nie end kry op ‘n foon nie, dat die kolganse swem in die mielie-lande, so baie het dit gereënt daar op die plaas. As jy gewonder het, die plaas is in die Stoffberg distrik. Hulle kan seker nou die plekkie herdoop na Modderberg. Ek kan nie dink waar daar oral fonteine gaan begin opspring tussen al die riwwe en stowwerige rotse. Ja, dis hoe my hart voel. Lewe spring oral op, want soveel reënts val strome seën in onse lewens in. 

Ek kan ek nie anders as om ‘n tydjie uit te kerf, om ‘n kleitablet met julle te deel. Gepraat van kerf. Kerf, laat my dink aan biltong sny. Dis die manier hoe jy daardie biltong stukke in ‘n byt-bare grote kry sodat jy hom kan kou, sodat jy hom kan proe en geniet. Tyd, lyk dit vir my, het dieselfde geneuk. As jy hom nie gaan kerf nie raak dinge te groot om te kou. Een van my eerste werkgewers het toentertyd vir my altyd gevra, ‘hoe eet mens ‘n olifant?’, nadat hy vir my ‘n hoop werk gegee het. Nou ja, ek het na al die jare geleer, jy sny die olifant in stukke, dan droog jy hom in sout, en kerf hom in stukkies, byt-bare grotes. En so het werk lekker geword. 

Ek het geleer hierdie duur les is nie net op toepassing van ons werskaf nie, nee dit het ook baie te doen met my verhouding met ons hemelse Vader.  

Na ‘n aks minder as 4 en ‘n half weke se goeie werskaf met die kinders se eksamen, die bediening, ‘n pragstuk van ‘n Night of Light produksie (kyk uit op Kersdag, dit word regstreeks uitgesaai op YouTube – @LewendeWoordMidrand), ‘n hond wat op hitte was, Bybelskool, berading swottings wat ek helemal te laat in die jaar gelos het, my dogter wat ‘n tiener word, Vroulief se verjaarsdag, my seun wat ‘n seun is (dank Vader daarvoor, maar bewaar hom asb van homself), dromlesse (dankie Joost by Soundshare), baie koffies, konferensies en geleenthede om by invloedryke mense te kon leer. O ja, en ons het die kerk help trek na ‘n fancy nuwe tent by Rockfields Precinct. Ek kan nie verstaan hoe vinnig 4 weke verby gaan as ‘n mens so min slaap nie, dit moet mos langer voel. 

Dit mag dalk klink of ek net my ‘te doen’ lysie hier kom neer plak, so asof ons verskriklik besig is. Maar op ‘n manier is ek baie bekommerd oor besig wees en ek weet dat elkeen van ons druk al die DOEN in op die laaste twee maande van die jaar.  

Dit was dalk ons laaste klompie weke, maar terwyl ek reflekteer, besef ek hierdie was ‘n baie vol jaar met soveel fonteine van lewe wat op plekke ontspring het wat ek nie eers kon glo iets natterig kan daar uit kom nie.  

Tog was daar ook tye wat nie so klam was nie, waar ek gewonder het of die werskaf die rede en doel waarlik rugsteun. Die droogte tye was eensaam, rigtingloos, doelloos, amper soos ‘n real housewife van Pretoria se Yorkie wat in Hammanskraal vermis geraak het. Oor tyd het hierdie mooi onderskeid tussen droog en nat tye vir my ‘n duidelike patroon kom wys. Ek kan nou sien dat die tye waar dinge maar bra droog gelyk het, ook die tye was waar ek minder tyd uit gekerf het om stil te raak en te praat met ons hemelse Vader. Die tye wat ek gedink het ek is fine en het nie leiding nodig nie. Die tye wat ek nie op my familie en vriende geleun het nie. Ek het self probeer.  

Ons tyd is kosbaar, kerf hom mooi fyn. Maar onthou sonder tyd vir diepe refleksie saam met die Een wat ons gemaak het, raak die biltong horing droog. 

Indien jy waarde vind by KleiTablette se stories, maak asb ‘n donasie om dit aan die gang te hou?

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius