Table of contents
Share Post

Ek skryf ‘n brief, natuurlik op ‘n kleitablet, vir almal wat die waarheid moet hoor. Ek het hierdie week ‘n vuurtjie voel brand, dat waarheid, alleen in liefde ‘n boodskap word wat waarlik natmaak en groei gee. Net om te wees is nie genoeg nie. Groei is naarstiglik onontbeerlik. Sonder Skepper hande is kleitablette net sand in ‘n rivierloop, is druiwestokkies vrugteloos, en die Kruis net ‘n droë stuk hout. Ons het nodig dat Liefde, Waarheid word in ons wese. WEET, dat Hy self by ons lewens betrokke is.

Oom Paulus het nie net eenkeer vir ons duidelik gemaak dat sy woorde nie kom uit menslike oortuigings nie, maar uit die kragtige werking van die Heilige Gees en wonderlike openbarings. Rom 15:18-19

Hierdie brief is vir almal wat die waarheid van Jesus Christus geleer het, dit ook bely as die waarheid, maar dit verruil het vir die wêreld se leuens. Ek skryf vir myself ook. Help my Heilige Gees om in liefde hierdie waarheid te deel? Here, U ís die selfvertroue wat my dapper maak om teen die duiwel te staan en te wys dat sy leuens besig is om te steel, te slag en te verwoes. Ek kan nie meer stil bly as ons stad, ons provinsie (myne is Gauteng), land, en kontinent deur leuens gelei word na ‘n premature ‘dood’ voor ons die lepel in die dak steek. Christus is die enigste ingang na lewe. Maar die ingang is deur die Waarheid van die kruis en dit kos die afsterwe van satan se leuens in ons eie lewens.

Dit is nie die waarheid as ons in Jesus se voorsienigheid en krag glo, maar lewe soos hopelose kinders wat verlore geraak het in ‘n winkelsentrum nie. Glo jy in Jesus, of sê jy dit net om te probeer beter voel?

Dit is nie die waarheid as ons in God as die skepper glo, as ons teen Sy skepping draai en glo dat mans by mans kan slaap en vrouens by vrouens. Dit is nie wat God bedoel het nie, maak nie saak hoeveel mense die teendeel probeer bewys.

Indien jy nie in God, sy Seun en die Heilige Gees glo nie, weet ek God is besig om in jou hart te werk en sal die Liefde in die vorm van die suiwerste Genade jou oorval. Dan sal jy weet dat jy Jesus nodig het en dat Hy verniet beskikbaar is. Jy kan my kontak as jy nie weet hoe om te vra nie.

Maar indien jy iemand is wat in Jesus glo, spesifiek as jou redder, wil ek myself as “exhibit a” bring, soos oom Paulus gestel het. As ek my woorde tel en luister na die mense om my heen, veral ons Afrikaner  mense. Hoor ek soveel kere dat ons net vreugde kan vind in braai en brandewyn (brandewyn is nie vir my lekker nie, dit allitereer net lekker), terwyl ons kla oor die res van die lewe. Ek vang myself elke dag in so ‘n gesprek. Ek noem dit ‘Afriloos’ – Afrikaans en Hopeloos. Het dit ons kultuur geword?

Ek gaan nie met die realiste veg nie, dit is net ‘n verskoning vir mor. Niemand het gesê dit gaan maklik wees nie, so moet nie so realisties wees om te dink dat dinge net Toyota reg gaan loop nie. (hoop ek kan ‘n bakkie borg kry?)

Wanneer dit vir my voel of ek niks kan doen by die werk as gevolg van ‘n tekort aan fondse, ego’s, of ‘n tekort aan belangstelling vir ‘n oplossing vir huidige probleme, vind ek myself gereeld ‘Afriloos’ praat. Maar het Jesus nie ook juis vir my werksprobleme gesterf en opgestaan nie? Is ons outoriteit oor die skepping nie herstel in die nuwe mens wat ons word as gevolg van Jesus se verlossing nie? Glo ons nie ook dat God alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom lief het nie?   

Neem COVID as ‘n toepaslike, in-ons-gesig-probleem. Gaan ons saam met die wêreld aanhou die ergste verwag en die volgende vlaag roep omdat God nie ‘n sê het in wat met ons gebeur nie, of gaan ons as volgers van Jesus, intree vir ons land en ons wêreld, teen die toorn van God?

Díe toorn?

Een oggend op pad werk toe luister ek ‘n “podcast” oor intersessie, en ek leer dat dit die aktiewe intree is tussen God en Sy toorn op ‘n spesifieke sonde. Ek kon dit eers nie verstaan, hoekom God so toornig is as Sy Seun dan klaar afgereken het met sonde en die dood, maar in daardie gedagte kry ek ‘n swaar gevoel op my hart om in te tree vir ons land en die gevolge van COVID. Juis dat daar nie ‘n volgende golf of vlaag moet wees nie. Ek is nie seker hoe nie, maar ek begin bid en glo en vertrou en dankbaar wees dat daar nie ‘n volgende vlaag in ons land gaan wees nie. Ek begin sommer vir elke persoon wat vir my kom voorspel dat die volgende vlaag op pad is, vra om saam te bid teen COVID, in vertroue op God se krag.

Die toorn van God hou aan voor my deur lê en snork soos ‘n hond wat se maag vol is. Ek besluit om die beste padkaart te nader en, teen my tydelike oortuiging dat toorn ‘n ou Testamentiese verskynsel is, lees ek Rom 1:18 raak.

Ja, God is toornig waar mense God se waarheid deur hulle eie ongeregtighede probeer onderdruk.

Ek het lank en aanhoudend begin dink oor hierdie versie, oor ons Afrilose leefwyse, ons aanvaarding van ongeregtighede wat lynreg staan teen God se wil en skepping. Is ek nie ook besig om deur my leefwyse God se waarheid te onderdruk nie? Kan mense Jesus se waarheid regtig in my lewe sien?

Die Romeinse kultuur van daardie tyd, toe oom Paulus geskryf het oor toorn, was baie dieselfde as wat ons vandag om die wêreld heen sien. Mense wat lynreg teen die waarheid van God en Sy wil staan, deur te glo dat alles “fine” en reg is – toelaatbaar. Sulke goed soos homoseksualiteit, selfverheffing deur sosiale media, slaafs en drup-mond te volg wat media en vermaaklikheid voordoen as die waarheid, vrye regte om te besluit wie of wat jy wil wees, totale afhanklikheid aan wetenskap en die mens se magtigheid. Hierdie is maar net ‘n paar van die goed wat God op my hart gedruk het om voor te bid en in liefde die waarheid daaroor te spreek. Die waarheid is Liefde en hierdie dinge kom nie uit liefde nie. Dit probeer die waarheid wegsteek, die waarheid dat God alleen gedien moet word en nie onsself of die skepping rondom ons nie. Dit het baie name gekry en word in tydskrifte en in handboeke geskryf en dit word uitgesaai asof dit die waarheid is.

Maar die gevaar is, my liefste leser, dat ek elke keer daaraan deelneem as ek ook saam praat. Ja ook as my eie woorde die wêreldse waarhede vorm. Wees in liefde gewaarsku, dit is bollie. Wees versigtig wat jy sê, dat jy altyd die waarheid in liefde sal spreek en so groei tot geestelike volwassenheid. Ons moet naarstiglik en onontbeerlik streef om ‘volwasse’ mense te word, soos God bedoel het.

Tree ons in vir mense wat God se toorn verdien?

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius