Table of contents
Share Post

Ek noem jou Vroulief, want dit sê so lekker, maar meer omdat jy die vrou is wat ek die liefste het. Die ander vroue is nie die tipe wat ek ooit langpad wil stap nie. Weet verseker, Vroulief, dat hierdie ontknoping lank voor ons troue al losgemaak is. Toe ons nog gekys was.

Nou nog meer as ooit tevore wil ek saam met jou stap , met of sonder skoene, tussen leeus of plate brandnetel, oor ‘n verhoog by ons kerk se Kersfees produksie. Maak nie saak waar ons gelei word nie, saam met jou is dit ‘n fees. Ek sien, juis nou in ons huidige verhaal, jou ware staal, of eerder goud. Jy is vir my soveel werd en weet ek, ons kan saam, terwyl ‘n trop geestes versteurde bulle storm, aangejaag word deur ‘n swerm tropiese perdebye, ja, in die skadu van ‘n vulkaan, nog steeds dans. Dis hierdie tipe goed wat maak dat ek weer die student diep hier binne my harde kors vind, tussen al die uie lae. Die student wat laat aand serenade (serenade is ‘n breë term). Sonder ophou planne maak, net om naby jou te wees. Jou koffie drink wat jy met koeksoda, inplaas van suiker voorberei, en maak of dit die beste koffie ooit is. Jou stop voor jy in die kar klim, en oor die enjinkap gly, soos Horatio Caine, om jou deur oop te maak. Toelaat dat jy my hemp, trui en baadjie leen, en dit nooit terugvra nie, want dan weet ek daar is iets van my styf teen jou lyf. Twee skofte by die restaurant werk, soms vir ou tannies oog knip vir ekstra groot ‘tips’, net sodat ek vir jou daardie geskenk, waarop jy jou oë al so lank het, kan koop.

Dit is dalk op hierdie dag wanneer ons jou geboorte vier, dat ek so liries raak. Maar daardie dag, net so paar jaar terug, moes verseker vuurwerke, gemeng met engelesang en baba laggies gewees het. Die hemelruim moes oopgebreek het en sterre het soos ‘popcorn’ geskiet. Die dag toe jy ons met jou nederige en diensbare hart kom seën het. Sonder daardie dag sou dinge vir seker nie dieselfde gewees het nie.

My dankbaarheid en diepe liefde borrel soos ‘n jacuzzi met ‘n V8 pomp. Daar is nie genoeg ‘fênsie’ woorde, in al die tale op aarde, wat kan beskryf hoe jy my laat voel nie. Dinge kan soms net in die sekerheid van iets besonders groter en heerliker as ons, vasgevang word en geopenbaar word in die eenheid van ons siel en gees. ‘n Band van liefde, wat reeds gegiet is in die mooiste Offer. Jy staan verseker as die middelpunt van my geskiedenis. Voor Vroulief, en na Vroulief, toe my lewe gevul is met die diepste vreugde.

Kan nie wag vir al die dae wat gaan volg, en die kronkel paadjie wat ons saam stap na ons huisie aan die voet van die berg.

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius