Table of contents
Share Post

Bring al daardie stories en daardie nonsies, na die Een wat jou gemaak het. 

Daar hang ‘n aardige klomp sleutels aan die agterkant van ons kombuisdeur. Spaarsleutels vir die karre hang daar en word uit goeie genade nooit gebruik nie. ‘n Paar sleutels vir die staal wat die tsotsies moet weghou van ons goette. Dan is daar natuurlik die huissleutels en die drukkerkies wat saam gering is en ook ‘n plekkie kry, die naaste plekkie want ons gebruik hulle by vêrre die meeste. 

Ons maak seker dat ons dinge beskerm – by die agterstoep is daar drie sleutels. Skuifdeur slot, diefwering slot en ‘n ekstra slot vir in-case die honde nie al wakker gemaak is met die sukkel van die ander slotte nie. Ons honde is getrain, in professionele boef verwydering taktieke, om alles weg te hou wat wil skade maak. Ongelukkig is daar ‘n paar goed wat hulle sukkel om weg te hou – hase, muise, wurms, miere en boyfriends. Darem het ek ‘n plan met die boyfriends, ek gaan ‘n haelgeweer aanskaf, een met twee lope. Dan gaan ek hom doop – LOOP. Loop sal enige ongewenste hormone in die pad steek met sy donderende stem. 

Slotte en gewere, hekke en heinings. Ons sluit onsself in en hou die ongewenste uit. Voetsêk jou euwel ongedierte! Daar is nie ruimte vir enige iets wat ons vrede en geluk gaan bederf nie.  

Wat doen ons om al die ongewenste euwel uit ons aardse tentwoning te hou? 

Ek praat nou bietjie met die voor af of is dit metafories. Die raamwerk of spasie wat ons Skepper gemaak het om Sy Gees in te plaas, kan met ‘n tent vergelyk word. Dit het ‘n seil, ‘n voorportaal en ‘n slaapkamer. Die seil is ons liggaam, ons sintuie – die dinge wat ons fisies beleef en voel, dit wat ons verbind met en bewus maak van die wêreld en ander mense. Dan het ons ‘n voorportaal en dit is ons siel, wat besluit hoe ons maak met die goed wat ons deur ons seil inlaat. In die voorportaal maak ons ook besluite oor hoe ons mense gaan behandel, hoe ons gaan optree in seker situasies.  

Diep in ons tent het ons ‘n slaapkamer, die hoofslaapkamer, en dit is waar die hart gesetel is. Die hart is net die beste samevatting vir wie ons regtig is. Dit is daar waar net ons werklike self gesetel is en die ruimte waar ons net die naaste mense laat kom. In die slaapkamer stoor jy die aller belangrikste goed, dinge wat jy nie sommer met ander deel nie. Belangrike plekkie in ons tent.  

Die wêreld se sielkundiges, lifecoaches, wetenskaplikes en allerhande mense met slim plannetjies en selfhelp boeke vertel ons dat jy hierdie goed net mooi moet orden en prioritiseer. Met insig en wysheid kan jy aanleer om die hart te genees en op te ruim. Nie ‘n slegte plek om te begin nie, maar wat as dit nie help en jy moet oor en oor die nuutste boek of terapie opsoek.  

Kom ons vaar nog so rukkie in die voor af… 

Ons hart word gewoonlik op grendel gehou. Wanneer ons ons hart toesluit en wegskram van alles daarbuite deur ‘n klomp slotte en gewere, hekke en heinings op te rig, vra ek myself af – is dit omdat ons bang is oor wat mense van ons mag dink, of omdat ons glo dat ons gaan seer kry? Skiet ons dalk te kort aan iets? Is die wêreld net plain boos? Wat skuil agter daardie verskansings? 

Mag ek jou dalk uitdaag om te gaan loer hoe jou kamer lyk? Is daardie kamer ingerig vir jou eie belange. Sluit ons dit soms toe omdat ons dit probeer vul met geld, aansien en mag. Vul ons dit met die afhanklikheid en plesiere van die oppervlak, dit wat jy deur jou tentseil kan inneem. Sluit ons dit deur vermyding, deur onttrekking, deur gemak en passiwiteit. Sit ons met ‘n kas vol skaamte wat ruik of ‘n lyk daarin ryp word. Is daar vrees onder die bed wat maak dat jy nie kan uitkom om jou passie soos vonkelwyn te pop? Sit daar ‘n reus van bitterheid en onvergewensgesindheid voor die deur? Ek weet my kamer is nie wat dit moet wees nie, maar ek het ook geleer deur ‘n paar blou kolle op my kop dat daardie slim planne nie altyd blywende vernuwing bring nie.  

Daardie slaapkamer van jou is gemaak, ja jy het dit nie geskep nie. Jy weet nie altyd hoe daardie kamer ingerig moet word nie, maar die Een wat dit ontwerp het weet hoe jy daardie kamer moet bou vir ‘n oorvloedige lewe, ‘n lewe wat ewig hou, met ewig waarde en doelgerigtheid. Dit wat daar vergader is, gaan jy moet verwyder. Dit is nie lekker nie en kos van ons om tot die dood broos te wees. Ek WEET dit kan ‘n heerlike avontuur van verfrissende vernuwing wees. 

Noudat ons gemaklik met daardie voor af vaar, kom ons verruil die gemak vir ‘n stromende rivier. Die rit mag dalk stampend en rukkend wees, maar hou vas want strome van lewende water kom uit die Een wat jou gemaak het, wat jou vir Hom gemaak het. 

Sit jou valhelm op, trek jou reddingsbaadjie aan, trek daardie strêps styf, want hier is die teenstrydigheid van God se plan in vergelyking met die wêreld, die plan wat Sy Seun kom voltooi het sodat ons volkome kan herstel en in oorvloed kan lewe.  

Spring af by die waterval in die lewende stroom van God se lewe. Spring af in die wete dat dit jou alles gaan kos wat vir jou belangrik is. Dit gaan alle seer, skaamte en pyn van die verlede met mag wegspoel. Dit neem alles weg wat eers vir jou prioriteit was en as jy uitspoel en ligter voel, sal jy agterkom daar is nóg watervalle en nóg rapids wat jy moet deurmaak. Dit raak wel makliker as jy toelaat om die Rivier te volg en nie net in die voor voort te ploeter.  

En wanneer jou tent weggespoel het en niks anders is meer belangriker as die lewende water nie, dan kan jy begin bou op die Fondament, met die Hoeksteen wat deur meeste verwerp word, maar EWIG en altyd sal bly. Dan sal Sy Gees jou bou en vernuwe tot ‘n tempel wat ewig gaan staan. 

Laat ek weer uitroep, jy moet afspring, laat gaan van alles wat jy vashou, sodat jy kan lewe. Johannes 12:25

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius