Ek skryf ‘n ou storie op ‘n nuwe kleitablet. Dalk het jy hom al gehoor. Dit gaan oor die Storie-Skepper. Hoeveel keer hoor jy ‘n storie en soos jy hom hoor vertel jy hom klaar oor. Jy vertel hom weer in jou kop, sodat hierdie oordrag van gebeure, waarhede of leuens vir jou mag sin maak. Ons is bewustelik en daarom nogal fantasties. Ons is nie gemaak om net te doen wat iemand anders wil hê nie. Kielie my keuses my nou hier en glimlag ek gil oor al die goeie gryp van die gunstige geleenthede. Ril ek oor die rowwe willekeur wat my lei na bedorwe worstelinge. Tog is dit deernis en liefde wat die storie begin het. Die Storie-Skepper het altyd geweet waar hierdie storie begin en waar hy gaan eindig.
Daar is nog ‘n agent met ‘n hoogmoedige agenda. Glad nie ingenome met die Storie-Skepper se prag verhaal – ‘n storie vir ‘n ander maal, hoekom hierdie adder homself kom inwurm het in so ‘n meesterlike sprokie. Hierdie aaklige antagonis is uit om te steel, te vernietig, te verdraai. En dit begin gewoonlik met ‘n kullende leuen. Ek het al baie die fluistering van die ‘leuen-maker’ gehoor.
Dit is fantasties hoe ons, die Storie-Skepper se kreature, ‘n besonderse krag ontvang het om te kies. In hierdie storie is ons die helde, wel binne hierdie geraamde ruimte. Mense met vrye wil, wetend of onwetend bring ons goed of sleg. Maak elke dag ‘n bewustelike poging om te kies wat goed en ewig is.
Mag jy bewus word dat al die stories wat jy hoor, alles wat NIE deur die Storie-Skepper vertel word, tweedehands is. Stories wat kom uit harte wat gekies het om die Storie-Skepper te volg of die leuen-maker. Luister mooi… stories wat verlang om eer te gee vir dit wat nie die Storie-Skepper se storie is nie. Stories wat mooi lyk, maar op die ou einde lei na ‘n plek waar grou grafte mooi stories begrawe. Kyk mooi, jy sien hierdie stories vandag baie meer as tevore. Hulle stap saam met ons, in ons hande, selfs op die toilet of in ons bed elke aand. Hulle skyn deur donker glase in ons sitkamers, dan vertel ons die slinkse stories om braaivleis vure, en stem saam.
Almal weet dat daar ‘n ewige Storie is, ‘n eerstehandse storie. ‘n Storie wat in elke hart geplaas word, sodra jy glo in die Storie-Skepper. Jy hoor hierdie storie by mense wat nie die hoofkarakter wil wees nie. Mense wat met goeie vrugte skryf en wat onvoorwaardelik deel uit hulle eie stories. ‘n Blye boodskap word ontvang van mense met ‘kinderharte’ wat geolie is om hul eie leuens te erken en in absolute vryheid dit te bely. Helde wat opstaan vir die mense wat verlore is in hulle eie leuens en die aaklige keuses van hierdie wêreld.
Die eerstehandse storie het die heilige ruimte waarbinne jy as karakter kan leef en floreer, soos dit beplan is – deel van die ware storie. ‘n Ewige storie van oneindige liefde. Ken jy die Storie-Skepper, Hy ken jou.

