Mag ons nooit enige openbarings van wysheid en waarheid laat verby gaan sonder om dit te vereenselwig op ‘n stuk papier, handpalm, servet, betaalstrokie, of kleitablet. Die laaste son skyn nou deur my houthuis se venster, terwyl ek ‘n vry tydjie kry om oorleggend na te dink aan al my mannewales van die dag.
My dag begin so tussen 4 en half 5 in die oggend. Dit vat soms ‘n halfuur om die liggaam uit die bed te sleep. Ek belowe jou, die gees is gewillig maar die liggaam is so astrant soos ‘n Jack Russel op kaffeïen. Dit luister net as daar kos is. Noudat ons die son al later begin sien in die oggende, raak dit veel erger, want die koue kruip al vroeg in die laataand reeds by die houthuis in en maak ditselwers tuis soos ‘n ongenooide gas.
Vanoggend kom soek ek die aangesig van God en dit bring ‘n warm hoop in die middel van my hart, iets wat ek gister gemis het – seker omdat ek dit net tot by die sitkamer gemaak het en daar op my kniege neer geval het. Ek wil nie ‘n verkeerde lering verkondig nie, God is ook in ons sitkamer, ek dink net my hart was bietjie vol van homself en die maan het dalk iets daarmee te doen gehad.
Met vanoggend se nuwe lied in my hart raak ek opgewonde om te kan dien by die skool en te kan dien by die huis en by die kerk en by die petrolstasie. Ek besef toe vanoggend dat ek eintlik maar net mooi orals kan dien, want ek dra mos dan die Gees van God saam. Dit verstom my, dat ek nie aldag van kleintoos af verstaan het wat beteken ‘n lewe van oorgawe aan die Een wat ons gemaak het nie.
Elke oomblik kan ‘n glimlag van liefde dra.
Dit is asof my nuwe hart al die aardsburgers rondom my ontvanklik vind en hulle word sommer sonder skroom wederkerige, samewerkende medemense. My jinne, ek het nie geweet die lot kan so vriendelik wees nie.
Die dag stap aan en dinge word gedoen, kinders word gekarwei tussen skool en huis, en huis en skool vir sport, plak en spoeg. Selfs wiskunde word ook gemeet en uitgewerk. Man, soos oorle tant Daleen sou sê, “Dis ‘n klomp slim kênners”.
Terwyl ek wag vir ‘n pasiënt om te kom kuier – ek noem hulle pasiënte vir die siel en gees, want wie sou nou kon dink ons bestaan eintlik nie net uit ‘n liggaam nie, roep daar ‘n voël hier buite die houthuis. Vir ‘n oomblik raak ek opgewonde, kan dit dalk Piet se kind wees? As jy nog nie van Piet gehoor het nie – Ontmoet Piet! Ek stap uit om te gaan kyk, maar vind ongelukkig net ‘n Muisvoël. Ek beluister en beloer toe maar met heimwee na die gekwê van hierdie aardige vlieënde voorwerp wat besig is om dadels in my buurman se palmboom te verorber. Met elke dadel wat hy gulsig in sy keel gooi, “Kwê!”, hy luidkeels. Ek mis vir ou Piet. Ek vat enige tyd die skree van ‘n Piet-my-vrou bo ‘n Muisvoël.
Iets vreemds trek my aandag terwyl ek opkyk in die palm boom na ‘Kwêla se Kind’ wat besig is om fees te vier. Daar is ‘n plant wat uit een van die afgesaagde tak stompe groei. Dit is heel bo in die stam, waar die groen takke hulle arms uitwaarts begin sprei. Ek stap nader, want dit is nie iets wat ek voorheen gesien het nie. Jy sal my nie glo nie; gaan sit as jy staan; as jy nie jou tande in het nie, sit dit gou terug; indien jy vir welke rede nie klere aanhet nie, bedek jouself; indien jy pasta op die stoof het, gaan sit dit gou af.
Daar groei ‘n tamatie plantjie saam met ‘n klomp ander onkruid bo in die palmboom se stam.
Ek herken die plantjie, want daar is een ‘cherry’ tamatie wat besig is om rooi te word. Ek bewonder hierdie gedoente en wonder hoekom ‘Kwêla se Kind’ nie die gesonde tamatie ook neem nie. Mag dit dalk wees dat die natuur vir hom die beste van alles voorsit.
Die aanskoue van die verskeidenheid van voorsiening vir ‘n gedierte wat nie eers ordentlik kan praat nie, bring ‘n stille vrede in my warm hart – God voorsien altyd, self met meer as wat ons verwag. Kyk mooi, jou voorsiening is dalk weggesteek bo in ‘n palmboom.

