Table of contents
Share Post

Ek skryf op ‘n bruingebrande kleitablet. ‘n Plaas storie vanuit die Oos-Transvaal, anderkant die Klein Olifantsrivier, halfpad tussen die hoofstad en die ou goud dorp, Lydenburg. Daar waar die stof alles drapeer in ‘n rooi skynsel. Dit is vir eens ‘n goeie jaar, met die reën wat boere-harte kom lig in ‘n hartklop. Hulle sal tog altyd vra vir nog ‘n paar duime, net om seker te maak daardie mieliekoppe swel vol pitte en die diere suip sonder moeite.

Familie-kuier is altyd ‘n gedoente op die plaas. Nooit genoeg boerdery-bekommernisse en planne maak. Dit is vir my aller-aangenaam om te sien hoe elke komplikasie met ‘n parmantige plan geklap word, so asof hulle net weer dinge terug in plek sit. Ek het dinge sien gebeur met ‘n tang, ‘n stuk bloudraad, ‘n binneband, ‘n skoenveter en ‘n ‘Leerman’, wat MacGyver laat lyk soos ‘n laerskool seuntjie wat vir die eerste keer in die houtwerk klas stap.

Dinge word gedoen, min gepraat en min gevra. Ons het saam gepraat tydens Kersfees oor die oprig van behuising en beveiliging naby ‘n ou boorgat, toe land daar, in dieselfde week, ‘n bakkie met twee Wendy-huise op. Dit word opgerig terwyl ‘n boorgatpomp getrek en vervang word, die aandrywing omgeskakel word en nog voor die skape moet ingejaag word, borrel daar helder water uit die diep gat, gulsig gesuig deur die son se krag. Boere staan nie stil nie, as jy nie vooruit beweeg nie word jy gister se storie.

Ons werk ook skaap onder die stywe son. ‘n Son wat sweet laat afskei soos ‘n diep-skag mynwerker. Ek dra vandag my boere-brand met trots. Skape en lammers word getel, geklas, getatoeëer, gemerk, gespuit, geweeg en bekyk. Deel van die gewerskaf is om troppe te gaan haal en weer terug te besorg by hul slaapplekke. Dit laat my terug dink aan ‘n vorige storie van ‘Die geheime ingang’ en die Bybelse inspirasie daarvoor:

Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy beslis verlos word. Hy sal ingaan en uitgaan en groen weiding kry.

JOHANNES 10:9

Maar ‘n paar verse vroeër in die hoofstuk verduidelik Jesus vir sy dissipels hoe die Herder regtig werk.

Vir hom maak die hekwagter oop, en die skape luister na sy stem. Hy roep sy eie skape op hulle name en lei hulle uit. Wanneer hy al sy eie skape na buite gelei het, loop hy voor hulle uit, en die skape hou aan om hom te volg omdat hulle sy stem ken.

JOHANNES 10:3-4

Hierdie skape op die plaas word meestal gestoot, met sweep en harde fluite, soms word ‘n stomp of iets in die rigting van stuitige skape gegooi, net om hulle terug op koers te kry. Hulle word hard aangehits omdat hierdie skape gejaag word en dit is nie hul ware natuur nie. Met baie geduld en ‘n sagte roep-fluit kon ons ‘n trop skape kry om tot in die kamp gelei te word. Ek is seker dit was omdat die skape hierdie pad geken het, en ook geweet het waar die groen gras en sagte water vir hulle wag.

Ek wonder terwyl die skape kou-kou hulle mae vol maak; daar is so baie “skape” onder ons wat glo dat die ware Herder met skel en sweep mense stoot om vir Hom te lewe. Dit is ‘n wolhaarstorie. Die ware Herder gebruik nooit vrees of manipulasie nie, maar smag om sy skape op hul name te roep en te lei na groen weiding. Mag ons na die Herder luister en Hom volg na elkeen se Beloofde land.

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius