Ek skryf op ‘n kleitablet, ‘n verhaaltjie van Piet, ons ‘pet’ Piet-my-vrou. As jy nog nie vir Piet ontmoet het nie kan jy gou “Ontmoet Piet!” lees.
Ek is nie seker of julle al gaste of familie gehad het wat kom kuier en vir ‘n feit nie die ‘feintest’ idee het wanneer om te vertrek nie. Nee jong, jou huis word hulle huis. Ek het nog “nooit” hierdie probleem gehad nie. Moet asseblief nie skoene aantrek nie.
Maar Piet ons genooide voël is nog steeds met ons en het besluit dat nie net die bure se boom groot genoeg is na sy smaak nie. Ons buurman se boom, wat ses dertiendes ook ons boom is, maak ‘n pragtige ‘stort’ vir Piet. Piet is ‘n voël wat dit geniet om in die stort te sing, uit volle borsie. Nou met die sagte reën stort Piet heel oggend lank en dit bring mee ‘n knaende, “Piet, my vrou!!”.
Julle sal begin dink ons kla nou bietjie te veel, so ek het die pragtige sang vir julle op video gesit. Mens geniet hierdie video die beste net na vier in die oggend. Piet-my-vrou video. Ek bid vanoggend, nadat ek terug gekom het van ons buurt patrollie, dat die Gees vir my moet wys wat die rede is vir ons nuwe intrekker, gelukkig nie ‘n dieseltrekker nie. Ek het nog nie ‘n antwoord nie en nou is ek skoon honger, terwyl ek vroeg oggend my kans vir ‘n laat slaap verruil om bietjie te skryf. Nie dat Piet waardering het vir slaap nie. Ek begin my sommetjies maak en as my skatting reg is, moet daar of vyf Piette wees of Piet slaap net ‘n half uur elke ses en ‘n half ure. Wiskunde is my minder goeie talent.
Julle sal nie glo nie, maar Piet het vir vroulief so uitgeput dat sy nou slaap deur die skril, aanhoudende roep van Piet. Seën vir vroulief met die soete sagte slaap van ‘n regverdige. So ek dank ons Vader vir die stukkie genade.
Tog wonder ek as God Sy natuur om ons ontvou, is dit natuurlik nog steeds dieselfde, konstante, ewige en liefdevolle God. Ons God wat ook altyd met volkome voorsienigheid dinge laat gebeur soos dit Sy wil verlang. God weet presies, reeds wat die rede en gevolg van elke dingetjie was, is en gaan wees, selfs die roep van Piet. En soos my oudste broer my geleer het, dat ‘Selfs as’ Piet aaneen roep vir die res van ons lewe, IS God goed en getrou. Wonderlik hoe sag Piet se roep in die agtergrond van God se goedheid klink.

