Table of contents
Share Post

Ek skryf op ‘n kleitablet, ‘n verhaaltjie, plus ‘n ekstra paar woorde, oor Piet, ja alweer Piet die ‘pet’ Piet-my-vrou. Piet het al ‘n rukkie terug kom nes skrop. So, as jy nie geweet het van ons liefde-haat verhouding met ‘n Piet-my-vrou nie, kan jy gerus gaan loer by “Ontmoet Piet!”, en ook sy vervolgverhaal by “Piet hou aan roep!” 

Ek vermoed, met gehange hoof, die laaste storie oor Piet. O wee, die dag toe ons kinders ons kom roep met ekstra uitbundigheid. Ek was nog iets aan te skryf en vroulief om haar werk se geld te tel, toe hulle instorm en laat weet daar is ‘n groot voël dood op die gras. Eers maak ek dit af as net nog ‘n duif wat te haastig geteel het en nie na haar kuiken gekyk het nie. Maar hulle vertel my hy is groot met ‘n breë langerige stert. Ek laat weet toe met ‘n laaaang sug, ek sal kom kyk. Ek is iemand wat regtig min hou van stoornisse, hulle kan al te bly wees ek het ‘n bietjie kos in my maag gehad. 

Ek rammel ‘n paragraaf gou af en gaan soek na die voël, terwyl die kinders klaar weer iets anders gaan speel het. Ek soek. Bietjie ongeduldig, wens die kinders het my die dooie voël se koördinate gegee voor hulle haastig weg is. Ek stap om die huis na die agtererf en soos ek begin afstap van ons lapa teen die helling, gewaar ek ‘n verelyk onder die wasgoeddraad. ‘n Paar hangende stukke klere gooi skaduwee oor die morbiede aarde waar ‘n Piet-my-vrou tjoepstil lê. Ek haas nader om seker te maak. Ons het nou al vir Google al ‘n paar keer gevra oor Piet. Wat eet Piet, wat EET HY NIE, wat is sy gunsteling habitat, WAT IS NIE SY GUNSTELING HABITAT. Watter diere leef hy in vrede saam, WATTER DIERE VERDRA HOM GLAD NIE. Jy weet, sulke tipe goed wat maak dat sy verblyf so ‘lekker’ as moontlik kan wees. So toe ek die vere-lykie onder die wasgoed draad sien, toe weet ek, Piet het tydsone verruil. Die verganklike met die ewigheid. Piet moes ‘n Christen gewees het, want hy het sy pak aangehad, so asof hy op pad na ‘n biduur toe was. Die kinders is natuurlik toe nou weer op die toneel en verwittig my van bloed. Dit is toe dat ek my MTO (Misdaad Toneel Ondersoeker) baadjie uitruk en aantrek. Foonkamera in die hand. “Moet niks steur nie” roep ek uit. Rits ‘n paar fotos af, voor ek die lykie omdraai. Rits nog ‘n paar fotos. Bloed aan die agter ent. “Oooo die ellende…”, sluk ek my woorde, probeer ek my emosies stu en objektief bly. Merk die koeël gat, en weet moord is gepleeg. Draai weer terug. Dit is ‘n ‘deur en deur’. Min bloed aan die anderkant. Piet moes gelei het. Met jare se ervaring, en CSI kyk, vorm ek die laaste paar minute van Piet. 

Piet was nog heerlik besig om te roep vir Griet (ons het besef hy roep vir Griet, hy is ‘straight’). Ek het hom die oggend vir die eerste keer met die blote oog betrap, hoog in die Kamfer boom. ‘n Paar kiekies ook geneem. Daar moes iemand, kug kug buurman, kug kug, hom ook gewaar het en soos ‘n sluipskutter, besluit het om Piet ‘stil’ te maak. Dit moes met ‘n klein kaliber wapen gewees het. Piet het geval-vlieg tot op ons lapa, toe op die gras. O die drama. Hy het seker gekruip, met sy vlerke homself oor die lang gras getrek, verbete, verslane. Sy hart het al stadiger geklop, asem moeiliker, by die wasgoed se skadus het hy gerus en toe ‘gerus’. 

Waar sal ons Piet nou begrawe, was ‘n vraag. Ek het met gemengde gevoelens hom in ‘n plastieksak in die asblik begrawe. Selfs vroulief, is lelik omgekrap oor Piet se afsterwe, ons troetel voël, met die skreeubek. Sy is nie ‘n groot ‘fan’ van sluipskutters nie. Anna glimlag net.  

Dis die derde keer dat Piet vir ons ‘n les kom leer, bly weg uit die bure se boom. Tog is dìe dinge wat ons deel met mekaar, wat ons bepeins, oordink en praat, die dinge wat werklikheid word in ons lewens. Ek glo ons moet ook so met die ‘Goeie Nuus’ maak. 

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius