Table of contents
Share Post

Skryf op ‘n klein kleitabletjie. Nie ‘n kort storie nie en tog so haastig. Maak jy kinders groot, of het jy al daardie magtelose voorreg gehad om te sien hoe hulle rank en eendag oor die muur groei soos ‘n Klimop of ‘n Bougainvillea? My Ma het altyd gesê, “sit ‘n klip op hulle kop”, later eers besef ek, sy dink nie ek is ‘n klipkop nie. Ek is nie seker sy het geslaag nie, kyk nou hoe mooi, groot seun het ek geword.

Dalk kon sy nie ‘n swaar genoeg klip kry nie, of dalk het sy aanhou kook vir ses terwyl die res al uit die huis was. Eendag het ek in ‘n voorgeskrewe boek gelees dat as jy ‘n kalfie van kleins af om die stoor dra, word jy sterk genoeg om die volgroeide koei ook te dra. Wonder of dit geld vir eet en mens se pens?

Ons kinders is van ‘n ander generasie. Hulle weet hoe om ‘apps’ af te laai en ‘JouBinneband’ video’s te maak, terwyl hulle nog Saartjie en Trompie moet lees. Noudie dag glip ons uit die stad vir ‘n paar dae algehele rus in die bosveld. Ons neem ‘n oulike klein maatjie saam vir my klein dogtertjie. Kan iemand my asseblief stop met hierdie verkleinings, want ek maakies my naartjies. Maar sy is so klein en kostelik.

Terwyl ons afsit met ons ysterperd na die rusplek, in die kinders se koppe ‘n dagreis wat eintlik net drie ure is, haal die klein maatjie haar I-foon uit en kondig af dat hulle hul musiek gaan speel en dat ek vriendelik maar eerder RSG kan afsit. O, ek onthou soortgelyke dae toe my ouers in die oudeboks geleef het. Daar luister ons toe lekker doef-doef, liedjies wat ek nog nooit van gehoor het nie, terwyl die kinders woord vir woord saam sing, myne ook.

Hierdie is nie ‘n tjank-gesang nie. Verstaan, hierdie tablet is ten opbouing van alle generasies. Die rus is sag en die rus is soet, as kinders hulle eie boude kan afvee, ‘n sny brood in die rooster kan sit, ‘n pleister kan plak en weet wanneer om vir hulp te roep, maar belangriker, wanneer om nie. Al hierdie sonder om ‘n Hiroshima te veroorsaak. Soos kinders groot word en “wys” word, besef ons dat hulle meer leer as wat ons dink en sonder ophou ons gebruik as verwysing. Staar ons soms in die spieël en vra onsself “wat maak ons met hierdie kinders?”.

Maar vertroue word soos Rome gebou. ‘n Kind se vertroue ontkiem altyd in ‘n fisies en emosioneel veilige omgewing, deur strome liefde en aanvaarding, geen veroordeling, asook ruimte om te wees wat ons Skepper hulle gemaak het. Deel asseblief met my indien jou eie kindertyd so perfek was, dit sal fantasties wees om daardie resep te publiseer.

Ek weet in die land van konfyt, kaas en spek, woon daar ‘n Vader wat selfs die grillerigste kinderjare kan herontwerp in ‘n feestelike onthaal, met ‘n groot tafel, swaar van voorsienigheid en guns, onder ‘n groot skaduryke vrugteboom.

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius