Table of contents
Share Post

Ek skryf op ‘n ‘kleitablet’, ‘n verhaaltjie van my liewe Moeder. Dinge mag dalk vir die res van die land lyk of COVID en inperking, ophok, insluit, grendel-wandel, winter-is-oppad, huisarres, kajuit-koors, bure-is-nou-vriende, maskerbal, verf-tyd, eggenoot-ontdekking of ‘lockdown’ oor mag wees tot ‘n meerdere of ‘n meerdere mate. Soos “rabbi” Zelvin altyd sê, ‘ons moet ons drome neerskryf’. Kan ek ‘n amen kry?

Maar vir ons ouer generasie, ons geliefde bejaardes, is dinge nie dieselfde nie. Die sleutel is weg gemoe… gooi, en hulle sit nog steeds binne hul huisies of tehuise sonder ‘n idee of hulle tyd gaan uitloop in eensaamheid. Mag elkeen van julle moeite doen om julle ouers te kontak, soveel as julle moontlik kan. Kan ek ‘n amen kry?

My moeder is nie van die normale tipe tannies nie.  Nee, haar ouma het die konsentrasie kamp oorleef, deur die genade van ons Vader. Sy het moontlik nog swanger, met aambeie, kaalvoet, sonder GPS, oor die Drakensberge gedraf, terwyl sy volksliedjies gesing het en die osse sweep gegee het. Daardie bloed vloei in my Ma se are. Iemand wat op amper agentagtig nog steeds yskaste en klaviere rond dra. Nou ja, genoeg ‘gebrag’.

Hulle sit ook in die ouetehuis, gehok soos stoute tieners. Maar my Ma is nie skeel nie en sy maak ‘n plan, sy het oppie plaas groot geword. Sy veroorsaak haar eie tand probleme sodat sy kan uitkom om tandarts toe te gaan, en dan gaan kuier sy die hele wêreld vol. Hoop nie hulle tronkbewaarder lees hierdie nie.

Haar opset is so dat sy nie self kan bak en brou nie, en sy kom gereeld by ons huis beskuit bak. Natuurlik ‘n wen-wen vir ons ook, want sy het ‘n wenresep. Niks wat kajuit-koors so gou laat daal soos boeretroos en ouma (regte ouma) se tuisgebakte beskuit. Ek is nie seker watter verskoning sy gemaak het om te ontsnap hierdie keer nie. Daar is moontlik ‘n snaakse “vergroeisel” op haar binneboud wat die vel-dokter moet ondersoek. Ai, hoekom het ek nie op skool aan hierdie goeie verskonings gedink nie.

Sy daag toe hier op, nadat sy eers winkel toe is, en met ‘n klomp drama – sy kon nie haar kaart se ‘pin’ onthou nie, om al die beskuitbestanddele te koop. Ons het natuurlik ook bestanddele gekry vir ons baksel. Terwyl ek dit uitpak laat weet sy my dis nie nodig nie, sy het alles wat nodig is. Ek raak toe so bietjie knorrig en laat weet haar dat ons nie sponse is nie, sy kan dit gebruik. As julle my ma ken, sy sal haar agterstewe ook weg gegee het as hy nie vas was nie. Ek deel toe ‘n stukkie waarheid met my liewe moeder, wat my groot gemaak het, “Om te kan ontvang is nodig, anders sou Jesus ons nie kon red van ons sonde nie”.

So mag julle in die Kerstyd terwyl daar gegee word ook weet julle kan ontvang, want die grootste geskenk is vir ons gegee sonder dat ons iets moes gee of doen. My liewe moeder het ons die wonderlike voorreg gegee om daardie dag vir hulle karretjie nuwe reënveërs te koop en aan te sit.

Mag julle mekaar seën met onvoorwaardelike liefde.

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius