Table of contents
Share Post

Mense van die aarde, dit is met ‘n blydskap wat borrel soos ‘n sjampanje fontein op ‘n koninklike troue, dat ek hierdie Kleitablet graveer in die goeie genade van ons Pottebakker. Ek verbeel my dat prins William of Harry so ‘n toring sjampanje stellasie tipe ding op hulle se troue gehad het. Ek was nou nog nie op so troue nie, maar ek sien uit na die feesmaal saam met ons Skepper eendag. Ek dink daar gaan meer borrels wees as wat ons kan gebruik.  

Maar hoekom wil ons nou sommer vandag fees vier? Laat ek jou vertel. Hierdie storie begin so jaar of wat terug, toe ek begin het om Kleitablette te skryf vir ‘n lekkerte. Dit was in daardie tyd wat ‘n virus ons in ons huise ingejaag het en ek sonder ‘n verdienste gesit het. Ek het dalk nie fondse gehad nie, maar ek het genade gehad wat met ‘n trop agtien-wiel trokke aangekarwy is en ‘n paar stories om te vertel. Sommer ‘n paar stories, want ek het besef hoe GOED ons Hemelse Vader werklik is. 

Ek skryf ‘n hele paar stories daardie klomp maande want ek het nie nodig gehad om met ‘n kar in die verkeer te sit nie. Een van hierdie stories word raak gelees deur een van my broer se dogters. Nou ja, laat ek jou vertel van hierdie dame. Sy lees ‘n boek ‘n dag, ses dae van die week sonder om op te gee op haar agt ure slaap. Alhoewel sy meestal net Ingels lees het sy die Kleitablet ‘n kans gegee. Haar kritiek was vir my die deurslag – “Hierdie storie sal maak dat sy begin Afrikaans lees”. As julle my ken was dit soet soos JJJHEUNING op die ore. Met daardie kwas om die bek begin ek verder werk aan ‘n paar soortgelyke stories. Ek skryf sommer nog drie hoofstukke en laat lê die Kleitablette op die rak vir eers.  

Ek vat toe weer ‘n werk en besef dat ons Vader my geroep het vir ‘n ander bediening. Verlede jaar skop ek op by die maatskappy en begin voltyds te werk in ons Koning se Koninkryk. Desember, terwyl ek die oggend in my toewyding gesels met ons Vader, laat weet Hy my om die boek klaar te maak en te versprei. Deur genade en baie liefde van Vroulief se ondersteuning, asook Driekie Grobler wat my help met die taal goete – ek moet bieg hulle het die hardste gewerk, kry ons ‘n manuskrip wat ons self kan publiseer. ‘n Boek word gebore en ons roep hom “Goue Skape”. 

Indien julle meer wil leer van hierdie enigmatiese storie, hou my Facebook blad dop – KleiTablette | Facebook Al die metodes om van hierdie boeke in die hande te kry sal daar gedeel word. 

Indien julle graag ‘n boek reeds wil bestel vir afhaal in Centurion omgewing, kan julle die volgende Google vorm voltooi en ek kom in verbinding met jou op epos – Goue Skape @R110 bestelling vorm. 

Vir elke persoon wat my deur die laaste amper twee jaar ondersteun het en elke nuwe leser wat by my aansluit op ‘n reis na die ewigheid, my dankbaarheid word in trane neergeskryf en ek glo dat die waarde van hierdie storie julle ook sal bemoedig tot ‘n goue lewe in diens van ons Koning. 

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius