Die soet salwing van ‘n opregte omhelsing as Jesus se liefde binne die arms van ‘n vriendelike hart jou omsnoer by ‘n lang verwagte ontmoeting. Die misterieuse ervaring as jy weer met passie en ‘purpose’ woord ontvang en dit sagkens in waardevolle klei vasvang – ‘n gladde, gepoleerde kleitablet. Nog nie blink nie, maar definitief ‘n klomp skurwe knoppe is geskuur in die vurige geregtigheid wat net ‘n verloste hart verstaan.
Die rede bly altyd die Seun van die hemelse Vader.
Ek kan nie anders om bollemakiesie blydskap te straal by die wete dat ons een kan wees met daardie een mens wat uit volmaakte gehoorsaamheid nooit gesondig het nie. Ja hierdie kleitablet gaan verseker net oor Hom.
Ons, dis nou Vroulief, haar geliefde man en ons rêkkende kroos, is besig om uit die boot van gemaklikheid te klim om ‘n nuwe pad deur die see te stap na ‘n ewige bestel. Die moeilikste ding wat ek nog ooit gedoen het – maar sonder twyfel so volledig. Bestem en bedoel, uit groot genade ‘n regverdige pad, ’n vars wyse van lewe. Ek is so opgewonde oor vele mense wat geïnspireer gaan word om te wees wat hulle bestem en bedoel was.
HOENDERVLEISIES agter my vlerkies.
Net nou die dag, rol ‘n alledaagse film. ‘n Laat aand wakker en vroeg oggend reeds houthuis toe gejaag, want sekere dinge kan net resolusie vind op jou knieë by perfekte Liefde se voete. Vind vrede en regverdigheid, met goeie versekering vir ‘n vrolike sonskyn dag. Stap ‘n paar trappe op en terug in die huis, daar vind ek my seun, self gewêkker, reeds aangetrek, besig om ‘n appel te eet. Ek dink hulle dieet hang af van die moeite wat hulle wil spandeer. Daar wag mos ‘n ingestampde kosblik vir eerste pouse – ja, vol gestamp van Vroulief se gesonde liefde. Hulle oorval my met drukkies en ek dank ons Vader dat hulle nog liefde so eerlik en openlik betoon.
Brou eers bruin bone tot ‘n romerige brousel van genot en gaan Bybel en bid saam met Vroulief. Ek doen my 5 minute stort en tanne roetine, terwyl daai kroos van ons, tasse pak, maskers en temperatuur kaartjies kry, honde kos gee, ons kriminele bevegting meganismes ontkoppel, tasse in die kar pak en vir my wag, alles met ‘n glimlag – wag so bietjie, dit klink te goed om waar te wees. Nee dit is waar en ek loof en prys ons Vader, want dit is waaragtig genade.
Nadat ek hulle afgooi met ‘n bevestiging van Jesus se liefde wat saam met hulle gaan, kom ek terug en loer op my foon voor ek die dag gryp in ‘n kopklem om te gooi in die naweek in. Ek sien ‘n video op Whatsapp wat vir my laat skatter soos ek lag – die tema is toepaslike, die aflewering bou verwagting en die ontknopping maak dat ek net vinnig weer wil kyk.
Die begeerte oorval my om dit vir baie mense te stuur, ja ek is oortuig dat hierdie te goed is om nie te ‘share’ nie. Ek begin aanstuur na groepe en vriende wat ek weet dit ook gaan waardeer. Van nêrens bons die woorde in my hart rond, maar dit hou nie op hop en hop nie. Soos my kroos by daai springmat parke.
“Dit is net te goed om nie te deel nie”
In daardie oomblik, terwyl my kop stadig op en af gaan, besef ek, ons het iets ontvang wat net te goed is om nie te deel nie. Ja ons het dit verniet ontvang, juis om te deel, om dit vir almal aan te stuur en te wys, te wees.
Dit is die duurste ‘video’ wat ooit geskiet is. James Cameron kan sy kleingeld begrotings laat sink saam met ‘n rampspoedige bootjie. Hierdie evangelie sit die E in epiese omvang. ‘n Gebeurtenis wat ‘n kalender herstel na nul. Die eerste lok voorskou is al vrygestel toe net twee daarna kon kyk. Die verwagting, die antisipasie was so groot dat dit in een van die beste verkopers opgeneem is, en mense al vir duisende jare oorweldig met verwondering en inspireer om plekke soos Egipte en Israel te gaan besoek. Totdat hulle die crescendo sien en smag na ‘n nuwe koninkryk, ‘n nuwe stad.
Dit is waarlik ‘n epiese storie, en elkeen wat dit sien word gevul met ‘n heilige ontsag. Dit is iets wat hierdie wêreld nie verstaan nie – dit word helder gefluister, “Onvoorwaardelike Liefde”. Die hoofkarakter se naam ego deur ewigheid, verby die grense van die heelal, terwyl hy op ‘n ere troon triomfantlik sit.
Jesus Christus.
Mag ons lewens ‘n greep gryp van daardie ontsaglike groot liefde. Mag mense oor en oor kyk, hoe die hoofkarakter ons perfek lief het.

