Table of contents
Share Post

Ek skryf ‘n storietjie op ‘n nat kleitablet. Braai, boebies en rugby is van my groot passies. Ek is ‘n man en geniet die geur van ‘n sappige tjoppie en boerewors op die vuur, as dit sissend, saam gesels oor enige sport (jukskei ingesluit), vrou frustrasies, politiek, jag, bosveld en die mielieprys. Ek geniet die vorm van Vroulief, die manier hoe God haar so wonderlik gegiet en sagkens gepoleer het.

Hierdie jaar, vol verrassings, het ons gesin op die ingewing van ‘n stadige oogknip, by ‘n krans afgespring sonder dat ons geweet het wat vir ons onder wag. O ja (groot verbaasde emotikoon gesiggie hier), ons het besluit om aan ons kerk se kersproduksie deel te neem. Hou sosiale media dop om binnekort die beste produksie noord van Antarktika te aanskou.

Ons besluit toe om saam te dans, ja dans. Daar was ‘n tekort aan kleinmensies om die skou bietjie van ‘n ander tipe energie te gee. Persoonlik dink ek dit was ook om die oulikheid vlakke te lig. Ag en mag hierdie bul nou bietjie bulk oor sy eie kalfies; hoofletter O in ougatgeit. Toe ons opdaag om die kinders in te skryf by die eerste oefening – poef, toe vind ons, onsself op die verhoog besig om dans passies te oefen wat ek verlede jaar by die ‘Bulls-babes’ gesien het. Soos oorle oupa Greyvenstein gesê het, “Jy steek die vuur onder jou kinders se gatte aan met die vuur onder jou eie gat”. Ek dink wat hy probeer sê het is, stel ‘n voorbeeld in daad en nie net in praat.

Ons het geoefen en ‘gestêp’ en gedraai dat die vadoeke waai. Selfs hier by die huis ook, sodat ons nie soos daardie ‘JouBinneband’ videos lyk waar die professionele mense vergelyk word met die probeerders. Dit het my so vyf en ‘n half persent gehelp (soos ek sê, julle kan dit self beleef op BakkiesBlad en JouBinneband). Dit is wonderlik hoeveel makliker dinge gaan as jy jou selftrots laat gaan en dit net doen vir die saak en jou Skepper. Moet my nie verkeerd verstaan nie, soms kan perfeksie weg gesteek word in totale passie en toewyding.

Die ervaring om saam met die kinders aan iets besonders te werk was fantasties, maar wat ook nou vir Vroulief en my vreugde gebring het, is die nuwe vriendskappe met die jong klomp en hulle jeugdige manewales; of is dit eerder ‘young adult yoloness’. Mag hulle my vergewe as ek die verkeerde ‘taal’ gooi. Hulle het soos Redro af gesmeer, en terwyl ons halflewe-ontnugtering simptome begin beleef, wou ons natuurlik bybly by hierdie jong energie. Deur al die oefening het ons aanhou “smile and wave”, terwyl die rug en bene wou “cry and cave”.

Die regte DRAMA het gekom met die grimering. Onthou nou, ek het passies, en alhoewel grimering nie een van hulle is nie het ek, soos die kaart spelers sal sê, met alles in gegaan. Díe tipe ‘commitment’ sou my Pa gemengde gevoelens gegee het. Sy seun is so toegewyd, hy dra grimering. “Onthou Pa toe jy gesê het – ‘Pa sal my lief hê, maak nie saak wat nie’” – ek sê maar net.
Sonder om nou te probeer skerts, ek het baie respek vir Vroulief wat die meeste oggende haar beste kenmerke omlyn en inkleur.

Ek moet net vir die agter-die-verhoog span en Vroulief baie dankie sê met die geduld en deursettingsvermoë. My Skepper het my geseën met traan pompe, wat damme kan vol maak, en dan nog ook die mees sensitiewe gesig. As iemand iets wat soos ‘n knipper of ‘n ‘trimmer’ klink aanskakel dan begin my neus skeef trek en my oë traan. Nou die dag begin ek traan soos ‘n middeljarige dame wat ‘The Notebook’, vir die eerste keer kyk. Ek kan dit eers nie verstaan nie, toe tref dit my die buurman is besig om met sy ‘wheat-eater’ te werk. Met liefde en deernis is my grimering omtrent elke keer oor gedoen.

Met die tentoonstelling van ons pragtig geaksentueerde gesigte en ‘ruk’miese danspassies, die treffende woorde en akteurs wat nog Os-karre gaan lug, half miljoen ligte en ‘n band wat my hoendervleis, hoendervleis gee, kon Lewende Woord Midrand ‘n boodskap bring van hoop, van bevryding uit ons aardse “tronke”. Nou sien ons uit na wat ons Vader in-stoor het vir 2021. Sal moet begin om weekliks bietjie grimering aan te sit sodat ek reg is vir die volgende ‘Night of Light’.

Die krans het toe gelei na ‘n vars nuwe poel heerlike ervarings, groei, vriendskappe, en bemoediging en nou sit ek met trane van dankbaarheid.

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius