Table of contents
Share Post

Ek skryf ‘n gedagte op ‘n kleitablet. Dit val my by dat mense sekere dinge glo en praat oor hulself, sonder dat hulle dit meet teen Waarheid. Met hierdie epifanie, gaan kyk ek gou in die spieël en sien ‘n balk. So hierdie gedagte is oor, “ons”.
Wanneer daar in ons huis iets gevra word soos, “Ons moet net gou die houthuis oor verf”, dan beteken dit die uwe. “Ons” doen dit ook binne ‘n onbepaalde tydperk, maar gedoen, sal dit word. Eendag.
So as dit vir julle klink of ek preek, ek sit in my houthuis en luister aandagtig soos die Gees praat.

Ons moet so versigtig wees wat ons dink en spreek oor onsself. Die tong het baie krag, soveel dat slim koning Salomo ons lank terug gewaarsku het oor die mag van die tong (Spreuke 18:21). Mag ons onmiddellik stop om dood te spreek oor onsself, ons kinders, ons land, ons gemeenskap, ons kerk (Lewende Woord Midrand is myne, as julle gewonder het), ons skole, ons wynklubs, ons lewensmaats, ons skoonma’s, ons base, ons besighede, ons weersomstandighede, ons huise, ons toekoms…

Spreek lewe soos God dit gedoen het toe Hy ons geskep het, en gespreek het dat dit baie goed is. Ons is goed, want ons Skepper sê dit. Dit is nét ons besluit, of ons daardie waarheid gaan kies en of ons dood gaan kies. “Kind van God, daar is lewe in jou woorde. Spreek dit.”

Die “leuens” wat ons, onsself oortuig die waarheid is, is net so veeltalig soos die onbeperkte potensiaal wat ons Skepper in ons gesit het. Maak nie saak waar die dooie gedagte, oortuiging, geloof vandaan kom nie, ons het nodig om seker te maak dat ons dit weeg op die enigste skaal wat reg meet. Die skaal se naam is W&G, amper soos WeeG. Dit staan vir Woord en Gees.

W&G is baie kompak. Ons kan dit orals saam met ons dra, soos ‘n rugsak. Ongelukkig moet ons dan eers die W&G uithaal en weeg. Terwyl ons weeg kan daar leuens verby glip en lewe kom steel. Die beste plek om dit te dra is in die middel van ons hart. Om dit in ons harte te pak, het ons nodig om dit op te breek, te laat week, en in te neem, op ‘n daagliks basis. Indien Woord en Gees in ons hart gepak is, weeg dit sommer ou-‘tamaties’ die dinge wat ons hoor en dink oor onsself. Dit weeg ook sommer wat ons oor ander mense sê, sodat dit ware lewe mag wees.

“Ons” het ook bewus geraak van hoe maklik dit is om nie-geweegde woorde te neem vir waarheid, en te spreek oor self en ander. Daarom spreek ek ware Lewe, Jesus Christus Lewe (Johannes 10:10), oor elke leser en oor elke woord wat vorentoe deur “ons” gespreek en geskryf gaan word. Geniet dit.

“Ons” moet nou gaan asblikke uitgooi, want môre kom die gemorswa. Seën die mooiste vrou in die wêreld, en die rede dat ek kan sê ek werk van ‘n “sanctuary” af en nie net ‘n huis nie.

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius