Table of contents
Share Post

Daar is ‘n storie geskryf op ‘n kos-tablet. Lank terug, baie lank terug, nadat die Egiptenare piramides gebou het; op die rûens van ‘n ‘appelkoos’ volk. Toe ‘n brandende bos met ‘n man en sy kierie versmelt is en ‘n belofte gemaak word, van ‘n land waar die melk en heuning loop soos rooibokke in die wildtuin.

Die stroperige kuns van konfyt-kook is iets wat stadig verval, soos die gebruik van CD’s sny. Dalk is dit net hierdie stadsjapie wat gewoond geraak het aan Sodom se groot store. Tog is daar iets diep in my DNA wat hunker na die versuikerde, klam vrugte van ‘n goeie konfyt. Die gebruik van vars appelkose, kwepers, bessies, nastergal, perskes, druiwe, koemkwat en natuurlik my gunsteling, waatlemoen. Wanneer laas het jy ‘n goeie waatlemoen konfyt geproe op vars gebotterde plaas brood. Wag net, laat ek gou ‘n jammer-lappie gaan kry om die kwyl van my sleutelbordjie af te vee.

Wanneer daar ‘n ekstra muntstuk in die bank lê en ‘n besonderse gedoente ons oorval, soos die Bulle wat ‘n beker lig of Vroulief verjaar, word die gesin bederf met ‘n konfyt en kaas aand. Dit behels ‘n allegaartjie van verskillende goete wat ingelê en gepreserveer is. Konfyte, kase, biltong, ham, salami, mossels… alles natuurlik op ‘n verskeidenheid van sout beskuitjies. Ons probeer elke keer ‘n troefkaart, net om die okkasie interessant te hou. My laaste poging om krap vleis by te sit, was skeef-skeef met opgetrekte neuse ontvang.

As kaas en konfyt ‘n resies na my hart moes hou, sou hulle presies gelyk op my tong beland het. ‘n Millimeter agterna sal ‘n ‘krispie’ stuk spek hulle aangejaag het op ‘n romerige perd, met ‘n vetterige sweep. Ek is seker die Jode sou al vroeër die varkie-wet gelig het as hulle net geweet het hoe om varkvleis met sout te laat trou in ‘n ewige smaaklike versoening. Sout ontsluit soveel taboes. Mag ons meer ‘sout’ wees hier op aarde en dinge smaaklik maak vir ‘n HONGER wêreld.

Ek ken ‘n groep mense, Harts mense, aangenome familie wat die laaste paar weke, hier aan die einde van ‘n baie rowwe jaar, vir ons konfyt, kaas en spek was. Nie net in die verloop van ‘n paar weke nie, maar goed gepreserveerde, blywende, onverdunde, salig en versterkende goedheid en guns – JA, dis wat julle is. Julle het uit julle harte gesaai en julle gaan meer terug ontvang. Woorde is min en trane skryf dit ewig in my hart – “Dankie”.

Daardie ‘appelkoos’ volk, van lank terug, het hulle land van melk en heuning ontvang en dit ook in ‘n oomblik, deur eie belang, laat gaan. Kerstyd is ‘n tyd van gee en ontvang, die oes inbring van ‘n lang jaar, die geniet van menswees en saamwees. Maar meer, dit is om te lewe in die beloofde land, wat ook vir jou en my belowe is en bekom is deur ‘n Kindjie wat groot geword het en die dood verewig oorwin het. Vir my is die beloofde land, ‘n land van konfyt, kaas en spek.

As jy reeds daar is, bly daar…

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius