Table of contents
Share Post

Ek skryf vroegoggend, want as ‘n fantastiese droom jou wakker maak, maar al wat oorbly van die droom is die heerlike gevoel dat alles reg is in die wêreld, dan skryf jy. Hierdie is klein tablette, amper soos klein botteltjies.

Ons klein kannetjie en springhaas speel eergister, met soveel uitbundigheid, met ‘n sokkerbal hier op die grasperk voor my houthuis. Dit is ‘n aller groot seën as hulle in sonskyn speel en nie voor ‘n TV of elektriese tablet sit nie. Ek loof ook ons goeie Vader vir die klein dingetjies. Ek dink hulle het nou weer nodig om met ander kinders te speel, maar dit is ‘n storie vir ‘n ander dag.

Ek hou hierdie beentjies dop wat op en af teen die helling die bal vir mekaar skop. Houthuis onder, my meisiekind, wat mos nou al 10 geword het bo, my Yster staan voor die houthuis en mis elke tweede bal. DOEF teen die houthuis. Nie steurend nie, maar onnodig. Ek weet nie of julle ook al beleef het hoe ‘n speletjie oor tyd vervelig raak en dit begin groei in ‘n monster met tentakels. Nog voor hierdie speletjie tentakels kry besef ek dat, ek hierdie doef, doef, doef moet stop sit.

Sonder om die dom demper op hulle speletjie te wees, soos gewoonlik, roep ek vir Uys nader toe die bal, op ‘n keer, deer die houthuis se deur vlieg.

“Luister boeta, jy moet nou soos ‘n regte ‘goalkeeper’ seker maak dat die bal nie aan die houthuis raak nie”. Baie beïndruk met my wiele plan, maak ek reg om verder te werk in stille vrede.

Die klein karnallie hardloop toe uit en vertel vir sy sussie, die houthuis is ‘n ‘goal’ en hy moet die balle keer wat hierdie kant toe kom. Sy hoor die houthuis is ‘n ‘goal’ en soos ‘n regte Pretorius is dit haar enigste doel om soveel doele as moontlik te skop.

Dit was nie lank nie toe tref ‘n bal die houthuis met soveel fors dat ek amper my wors afskrik. En dit hou nie op nie want die klein dame vind toe haar inner Beckham en besluit om soveel doele in te kry as moontlik. Dit kos my ‘n halt roep, sodat ek die dom demper kan in roep. Ek voel soos ‘n groot partytjie-poeper. Gelukkig het ek en hierdie meisiekind so ‘n spesiale verhouding, (wat nou hemels is, mag dit so bly Vader) dat sy my na ‘n een-arm-sy-aan-sy-drukkie tog vergewe.

Maar nadat hulle ander vermaak gaan uitdink het, begin ek top oor hierdie haaihoei – Dit is nie die doel nie…

Ons lewe, in baie gevalle, met soveel oortuiging dat dit wat rondom ons gebeur, of met ons gebeur, die norm is. Asof dít die doel van die lewe is. Lyding, pyn, vreesagtigheid, haat, bedrog, huigelary, jaloesie, kwaadpratery, die lys gaan aan, so asof ons nie ‘n keuse het nie. ‘n Trein sonder brieke wat by ‘n afdraande rol. Ek weet daar is verseker pyn in hierdie wêreld, ek sien dit en beleef dit. Ek is hartlik oortuig dat dit wat ons so maklik aanvaar, dalk omdat dit so sterk verkondig word deur die media en mense rondom ons, is nie wat ons Skepper beplan het nie. Dit is nie die doel van die lewe hier op aarde nie. Luister wat fluister die skepper vir jou.

Ek weet wat Ek vir julle beplan het,” sê die Here. “Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê. – Jeremia 29:11

Hierdie tema van hoop is baie sterk op my hart. Mag dit by jou ook ‘n draai kom maak. Jy kan ook my vorige storie geniet oor iets nuut – “Rooting, vir jóú”

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius