Dit het niks en tog alles gekos en daarom het Bismark geweet dat die prys nie bepaal word nie, maar net aanvaar word.
Waar grys-graniet bultagtig opwaarts skiet, vanuit die groen glans van swart donker grond, is daar ‘n verskuilde holte. ‘n Holte geslaan in die lang aanhoudend kliprug van ‘n tektoniese plaat, reg langs die see. Die swaar rots-reeks sny ‘n lyn reg langs die kus, en dan net, asof van nêrens, het daar iets magies gebeur. Iets wat jare gelede ‘n impak op die aardkors gelos het en afgeslote gebly het vir so lank, dat die kort geskiedenis van hierdie klein afgesonderde plekkie, vandag in een baie kort verhaal gestoor word.
Kus langs, en ook net met laaggety, is die enigste manier om by die skerp ruwe graniet riwwe verby te kom. Een pad in en uit. Dit is amper asof ‘n massiewe hamer ‘n duik in die ry haai tand op-hewels gefoeter het. Hierdie stukkie platterige helling was heelwat later ontdek na wesens van die kontinent kom voete neergesit en vlae geplant het. Die mis hang meeste van die tyd soos ‘n misterieuse doek oor die versteekte stuk grond. En die growwe rotse by die water kant gee geen geleentheid vir boot landings nie.
Dit was net ‘n paar jaar vantevore, met ‘n super laag gety, dat een skaap, met ‘n voortrekker hart, agter ‘n fladderende skoenlapper aan gehardloop het. Verby die rotse, wat halflyf in die water staan, sien skaap toe die pragtige welige groen gras. Skaap vergeet van skoenlapper, en gaan proe van hierdie ongerepte wyding. Skaap maak toe ‘n bruilofsfees van ‘n maaltyd en voor lank is die gety oppad terug. Met son wat gaan hang rondom waterdrink-tyd, wou skaap terugkeer na bekende krippe, net om teen luiperd-kruipende golwe vas te loop. Bekommerd het skaap begin roep, selfs terwyl daar net ‘n paar meter verder ‘n heerlike stroompie water in die see uitloop.
Setlo, die skaaphond, wat die ondankbare taak gehad het om die skape op te pas, was op eens bewus dat daar iets kort was in sy kudde. Een hele skaap was kort. En omdat Setlo die kosbare vermoë gehad het om skaap te tel, het hy dadelik geweet dat dit alweer Voortrekker was. ‘Daardie skaap kort ‘n goeie “skeer” van sy balhorigheid” het Setlo gedink op koers, neus in Voortrekker se spoor.
Setlo het by die plek gaan staan waar die skaap laaste keer spoor in droë grond gelos het. Met opeenvolgende golwe wat hom keer, het hy kort tjank blaffies in die rigting van die verlore skaap gegee. Ek praat nie skaaphond nie, maar dit het baie soos “kom terug” geklink. Voortrekker was glad nie lus vir nat word nie, en Setlo nog minder. Hoe meer hierdie afgeskeide skaap smag na nattigheid en die beskerming van sy kudde, hoe erger het die blêr geraak en hoe meer verbouereerd en hoër het Setlo begin tjank. Boer Bismark het die kabaal gaan ondersoek, en die verlore skaap se tjank aan die anderkant van die skerp rotse en die hoog gety gevind. Bismark het gou ou James, die ligtoring baas, oor gety hoogtes en laagtes gaan raadpleeg. Met geen ander keuse as om die tyd uit te wag het hy heel rustig op ‘n rots naby die waterkant gaan sit en vir Setlo belet om verder te roep. Voortrekker het elke nou en dan ‘n blêr vir die wis en onwis geuiter, en dit was genoeg om Bismark aan die slaap te sis. Setlo het gewaak oor die see se kom en gaan, en met die eerste teken van nat sand wat ‘n pad ontbloot, het die hond opgespring met ‘n blaf van blydskap. Bismark het opgestaan en nader gestap om sy skaap aan die oor te gaan haal.
Met aankoms by die plek waar hulle laas water op toon gehad het, het Bismark ervaar hoe die miswolke ewe skielik stywer rondom hulle getrek. Vanuit die see se kant het daar ‘n spook nader gewaggel gekom. Dit was Voortrekker. In die wasige uitkyk het dit gelyk of die pionier skaap op water loop. Setlo het opgewonde begin blaf en dit het Bismark in rat gespring om nader te hardloop, gretig om sy verlore skaap te gaan haal. Hierdie ou skaap boer se blydskap was sonder perke, en hy het al vinniger in die rigting van die skaap gehardloop.
Die eerste paar tree was nog stewig sand. Met oë op Voortrekker het Bismark nie agtergekom hoe sy tree dieper in die sand wegsink nie. Na die tyd is ‘n ondersoek geloods oor die fenomeen van die dryfsand in die middel van hierdie kusstrook. Wetenskaplikes van die vasteland is ingeroep om hierdie hele onsmaaklik voorval te verklaar, net om te laat weet dat hulle nie waarlik weet of dit die unieke weer of die skerp rotse of die onreëlmatige temperatuur van die water is nie. Tant Slaai sous het haar eie teorie. Volgens haar is dit paling piepie, wat die sand so jellierig maak. Meeste mense stem maar net saam. Die wat probeer dat sy dit staaf met boeke oortuiging, is nie meer welkom anderkant die skerp rotse nie.
“O vadertjie” het Bismark geroep. Setlo wat nog op die kant droog voet gestaan het, was nie lus om sy pragtige swart en wit pels nat te maak nie. Die hond het verskrik begin blaf, toe baas in vrees begin spartel en roep, kuite wat in die sliksand weg geraak het. Skaap was oppad terug toe hy gestop het op die geroep van Bismark.
Vir ‘n wyle kon Bismark nie meer vorentoe of agter toe nie, maak nie saak hoe hard hy probeer het nie. Inteendeel hoe meer hy op sy eie probeer uit worstel het, hoe vaster het hy homself verstrengel. Terwyl tyd aanstorm en vrees groei, het gety al gedraai, oppad terug. Dinge het meer mismoedig geraak, toe die mis digter begin dikker trek en die boonste wolke ook begin water uitgiet op die gevange boer, sy skaap en skaaphond.
Bismark, die klein dorpie bestaan vandag nog, in die inham waar ‘n handvol huisies staan, met een kerktoring wat uitsteek en elke dag ‘n klokgesang klink. ‘n Dorpie wat ontdek is deur ‘n boer en sy soeke na ‘n skaap. ‘n Skaap wat altyd naby almal se hart bly.
Die mis kom steeds sonder genade en vul elke hoekie en krakie in elke rots, en tog staan al die rotse steeds daar in prag en glorie, goed gesmeer met groengrys mos, net sodat rots se skerp kante bietjie sagter voorkom. Dit is een van hierdie rotse en ‘n sagte offer wat vir Bismark gered het daardie ontdekkings dag.
Vandag staan daar ‘n graniet standbeeld op die einste plek waar Bismark vasgesteek het in die sagte kleiagtige sand. Met laag gety word mens bewus van ‘n sement skaap onder die standbeeld se hande. Die beeld is opgerig om te dui op die rots waarop redding gekom het op daardie dag. Ja onder daardie sliksand, ‘n meter of so, lê daar ‘n ou rotsbank wat afgebreek het van die rotsreeks. Bespiegelinge lê verstrooi in die area, oor of die afbreek van hierdie einste rots te doen het met die magiese geboorte van die inham, so lank gelede.
Terwyl die dorp se paar skape ‘n geblêrte sing, vertel tant Slaaisous die storie vir my. Sy sit op ‘n ou ysterhout bankie wat uitkyk oor die golwe wat wit skuim rondom die skerp rotse losskud. Haar hare is klam met mis druppels wat mekaar opsoek en een vir een val na onder. Sy vertel van die dag toe Bismark se lewe gered is deur die rots. Die rots wat juis op daardie plek onder die sand gaan lê het. Sy vertel van ‘n skaap wat bereid was om homself vir sy baas te gee.
“Dit was grys en aaklig daardie dag”, begin sy om die atmosfeer op te roep.
“Die mis was donker asof dit die pyn van hierdie gebeurtenis wou verberg, maar dit kon nie daardie getjank blaf van Setlo, ook nie die geroep van Bismark oorskadu nie. Die see was haastig oppad om Bismark te omvou in die aanhoudende golwe. Dit was in daardie menslike gespartel dat ‘n skaap dit goed gedink het om nader te kom, nader aan sy roepende baas. Bismark was halflyf in die sand gesak, water wat al by sy skouers begin raak het. Daar het die skaap iets onnatuurlik gedoen, iets wat nie eers die brawe Setlo wou doen nie”, sy gee ‘n verbaasde glimlag, al het sy hierdie storie al vele keer ingekleur vir enige beskikbare stel ore.
“Hoe vreemd moes dit nie wees toe hierdie skaap na Bismark toe aangeswem kom, pote wat net hier en daar sand tref. Bismark kon die skaap gegryp en begin druk op skaap se kop en rug. Al sy gewig. Ja alles. En met daardie laaste krag en skop van sy voete het my ou man iets stewig vasgetrap.”
Tant Slaaisous hou pouse, net om die trane kans te gee om uit haar siel te pars.
“Die einste rots waarop sy standbeeld vandag staan. Dit is wat hy raak getrap het in daardie laaste oorgee van sy eie spartel aan die bereidwillige wolle.” Die tannie draai om en kyk na die wit skape wat so rustig voort vreet.
“Ons het nog nie weer so ‘n skaap hier gehad nie. Ja, sonder om teen te stu, het daardie skaap sy baas se vrees geneem en vir hom gewys om dieper te gaan. Om rots te vind.” Sy blaas haar longe stadig uit.
“Het jy al diep genoeg gesink?” wil die tannie van my weet.
Ek kyk na die rotse en wonder hoekom hierdie plek soveel vrede het, hier tussen al hierdie skerp riwwe en skuimende see.

