Table of contents
Share Post

Die klei is hard, maar die hart is sag. Dit is nie maklik om te begin griffel na ‘n lang sabbatsverlof. Of is ek nou net besig om myself te paai oor die feit dat ek net nie my boude op ‘n stoel gesit het en los gelaat het met die woorde nie? Daar is mos ander dinge waarmee ek besig. Ek dink dit is die paai. Nou is ek al weer honger en ek het nounet twee te veel van vroulief se beskuite geniet.

Ek sit toe op die troon en blaai deur sosiale media. En sien ‘n video met die titel – “Elke bietjie is meer as niks nie, hoe mens aan die gang kom om te oefen”. Dit kla my aan en ek besluit om los te laat met die woorde. Dalk is die paar woorde net die wind wat die stompe weer laat vlam vat. Los die paai en laat waai met daardie woorde.

Ek weet ek moet nie uit veroordeling skryf nie, wie kla my aan. Net ek self, want ek het geleer my Vader kla my nie aan nie. Nee genugtig, Hy het my die talent gegee om dinge op te maak en dit in woorde neer te lê op kleitablette. Ek onthou die dag toe hierdie blog gebore is baie goed. Ek het in my houthuis gesit en uitkyk by die venster. Anna was besig om die wasgoed op die draad vas te knip. Dit was in die tyd van Piet, ons Piet-my-vrou wat ‘n vol-lengte saga veroorsaak het met die bure. Jy kan bietjie meer gaan leer hier – Ontmoet Piet!

Maar wat ek meer onthou van daardie tyd, is die roep om iets op klei vas te vang van God se beloftes. Stories van hoop, geloof en liefde. Ons ontvang meeste van ons seën wanneer ons dit doen wat God ons voor gemaak het.

So nou dat die skryf-wiele geolie is, ek het vanoggend weer ‘n storie van hoop. Kan jy dit nou glo, net ‘n bietjie olie en ‘n draai en daar vat die storie. Soos ek sê, dinge het nie verander nie. Al het ek verlede jaar Desember laas geskryf, het ons Vader nie verander nie. Nee kyk, ek is seker, of dit nou donderweer of sonskyn, God bly goed. Ons is die veranderlike in die storie. Soms kruip ons in ons huise weg en is ons bang om uit te gaan en ons stories te vertel. Vir julle wat nie weet nie, ek skryf hierdie stories van hoop, geloof en liefde in ons houthuis buite in die tuin.

Iets trek my uit die bed vanoggend toe ek nog so ruk langer agter vroulief se rug wil lê. Dit is immers die lekkerste plek op die planeet. In plaas van houthuis toe, gaan sit ek in die studeerkamer met my notaboek en my pen. Woorde begin vloei en voor ek my kry is twee bladsye vol – dit is asof my hart en hand geolie is. Vir ‘n oomblik hou ek op en kyk uit by die venster om te sien hoe die wind pluk aan die ry populiere teen ons grens muur. Nogal ‘n winderige dag dink ek.

Ek hou weer aan skryf in die notaboek – die een wat ek persent gekry het van ‘n wonderlike vriend. Die een met die Leeu wat geëts is in die leer omslag. Die vers wat onder aan die bladsy vir my wink, roep my na ‘n gedagte wat God nou al ‘n rukkie by my laat maal. Ek wonder hoe ek die stem van ons Vader beter kan hoor.

Ek is nie altyd seker wie nou die praat werk doen en wie die luister werk doen. Want my eie stem is soms so indringerig en die ore wil net luister na my eie storie. Buite, kom die wind in een oomblik op en laat die populiere behoorlik buig. Met daardie nederige buiging ruk iets in my oop, dis asof daardie populiere dans voor ons skepper. Hulle doen presies wat die wind wil hê hulle moet doen. Ek kan dit hoor terwyl ek daar sit en staar.

Dit is my blare, dit is my stam, dit is my takke.
Doen dit boompie, doen dit. Doen dit boompie, doen dit.
Ek wil dans, dans voor my God.

Hierdie bome was deur my tuin-versorger geplant so 5 jaar terug. Hulle groei seker ‘n meter elke jaar, en as die wind waai dans hulle. Hoe groter hulle groei hoe meer dans hulle. Veral as die wind duidelik praat.

Ons is ook geplant met ‘n doel. In hierdie lewe is ons nie in ‘n gemaksone geplant nie, nee ons is geplant met ‘n passie en ‘n doel. ‘n Plek waar ons ‘n verskil kan maak. Soos ‘n slim man eendag gesê het, “die lewe is nie ‘n passasiersboot nie, dit is ‘n oorlogskip, alle hande aan boord is op die skip met ‘n doel”. Daarom is dit nodig om uit my gemaksone te klim en uit te gaan na daar waar die elemente waai, waar die Heilige Gees waai. Ek is sekerlik oortuig dat as ek uittree buite my eie gemak sal die Stem kom en deur my waai en dan sal ek dans vir my Koning.

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius