Table of contents
Share Post

Het jy al gevlieg? Nie van jou fiets af, soos Marelize nie. Of dalk soos ‘n sweefstokarties nadat jy deur die gang haas met ‘n mandjie vol wasgoed in jou hande en jy vergeet van die honde-hekkie aan die einde. Nee, die vlieg met ‘n vliegmasjien. Vanaf die lughawe, Kaap toe, Johannesburg toe, of sommer oor die groot water na Brisbane, Londen of Atlanta. Net daar waar jou hart begeer, want ons almal wil soms weg kom van waar ons vasgepen word. Maak nie saak of ons vlieg, fiets trap of haas deur die huis, ons is almal oppad êrens heen.

Maar gepraat van vlieg, sekere mense vlieg so baie hulle prop nie die sitplek gordels meer vas tydens die vlug nie. O nee, hierdie koei seuns en dogters vlieg los hande. Behalwe as hulle al gevlieg het met ‘n vliegtuig wat soos ‘n besete bul begin rond spring asof ‘n eskader perdebye dit aanval. Daardie groepering mense vlieg met gordel vas, vandat hulle gaan sit totdat die lug waardinne hulle vriendelik kom vra om te disembark. Ek verstaan dit. Ek hou ook nie daarvan as my tong bloei wanneer turbulensie my rond ruk soos ‘n Meksikaanse rofstoeier.

Dit is inderdaad so dat daar lank laas ‘n kleitablet gegiet is. Ons weet julle sit op die punte van julle stoele reg vir iets vars uit die klei-oond. Vir 50 randjies, wie kan die laaste kleitablet se titel onthou? Jy is reg, dit is “’n Harige jaar”. Vandag giggel ek lekker oor die drama van laas jaar. Die begin van hierdie jaar laat verlede jaar, sommer heel jaar soos ‘n Olimpiese swemmer se bene en arms laat lyk – nie ‘n haar in sig nie. Hierdie jaar het ons permanent die sitplek gordel vas gemaak, TURBULENSIE was die norm.

Die frase wat by my opkom vir 2025 – “perfekte storm”

Dit is nie perfek omdat dit goed is nie, dit is net alles wat op dieselfde tyd, een na die ander ons lewe kom oorstroom met soveel chaos en onsekerheid. Al wat ons kan doen is, vas hou.

Vashou aan wat? Die sitplekgordel? Nee, hierdie jaar het soos ‘n brandende vliegtuig in ‘n stormsee geval. As ek aan die “sitplek gordel” van my eie krag gaan vas hou, sal dit my saam met die wrak onder neem. Ons eie krag, verstand en moeite kan nie ‘n wrak laat vlieg nie – nee ons het iets anders nodig.

Na 2024, die einste harige jaar, is daar iets nuut besig om te gebeur. Terloops, ek bely my dramatiese uiting aan ons lewensomstandighede hier aan die suidpunt van Afrika as enig in sy soort. Niemand kan so diep in die kalk wees en steeds grappe maak nie. Die les wat ek leer is oud, maar hoe dieper die kalk hoe ryker die les. Om God sonder skroom of skaamte te bely en te getuig van Jesus wat red, is nie vir sussies nie. Nee dit is ook nie vir opregte, vrome boere nie, nog minder die wat gereformeerd, protestants, charismaties, pinkster of net plain religieus is nie. Om te bedien met een oog op my eie eer en die ander op God, maak dat ons binne ‘n storm sal beland wat ruk en pluk tot jy laat gaan van wat eers belangrik was en swem met alles na die Een wat altyd red. Vandag weet ek en hierdie bewustheid ruk my steeds; ek gaan oor my eie voete val wanneer ek meer vertrou op mense of die formules van mense as die Een wat alles bymekaar gebring het en sal bring.

Nederig sing ek hardop oor die goeie gawes wat God ryklik aan al sy mense uitdeel. Hy wag opgewonde vir ons om dit uit te lewe. Terwyl ek in hierdie perfekte storm swem, sien ek meer mense wat red as mense wat verdrink. Ek sien hulle wat al opgestaan het en begin loop op die water, maar maak nie saak hoe hard hulle roep nie, daar is die wat nie laat gaan van die sitplek gordel wat hulle glo kan red.

Maar hier swem ek, binne ‘n perfekte storm. Waar sal my hulp vandaan kom? ‘n Stem roep, ‘n stem wat ek ken, ‘n helder klinkende stem, sonder verwyt of veroordeling. “Waar is jy?” roep die stem. Ek weet nie, is my antwoord. My binneste breek oop en ek roep vir hulp? Waar moet ek wees? Die storm is hard, die branders slaan harder en die wind skree oor my roep. Dan hoor ek die stem weer duidelik, “Laat gaan”. Dit is die laaste ding wat ek wil doen. “Laat gaan!” Ek kan nie. “Laat gaan!!” Dit is nie reg nie.

In daardie oomblik sien ek ‘n stuk dryfhout langs my dryf, sommer so nonchalant asof dit nog altyd daar was. Ek los en neem die dryf hout vas. Vir ‘n oomblik spartel ek nog want hierdie stuk hout sal my nie kan dra in hiérdie storm nie. Maar dit dra my al met die regte stroom deur die perfekte storm.

Ons word uitgespoel aan die einde van my krag. Vir die eerste keer sien ons ‘n nuwe horison, ‘n nuwe prentjie wat ons nog net van gehoor het. Die verligting is groot en vir die eerste keer is perspektief soos die son op die see se blou. Ons staan op en neem mekaar se hande. Hierdie plek is waarlik besonders mooi. Ons stap na waar ‘n plek op ons wag, waar ‘n braaivleis vuur se rook hemelwaarts vaar. Dan wys sy my die stuk hout wat op die strand lê. Dit is ‘n houtkruis. Daar is ‘n diep en ryk wete van die Een wat daardie kruis gedra het. Dankbaar vir die Een wat beter planne en voorsiening maak, beter as ons hardste moeite en vertroue in mense en formules. Hy is die Een wat ons ken, wat ons eerste na Hom geroep het. Vandag braai ons saam met Hom.

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius