Table of contents
Share Post

Oppad kry mens daardie oomblikke wat jou in jou spore stop en twee keer maak kyk. Amper soos wat met my gebeur elke keer as vroulief verby loop. Of op die oop pad na ‘n uitspan plekkie en die vista van ‘n oopte ontvang jou soos ‘n lewensgrootte meesterstuk. Dit stop jou want jy voel so klein soos ‘n swaeltjie in die oopte van die hemelruim oor die oseaan. Dit is die rede hoekom daar uitkykpunte, strategies en sorgvuldig geskep is vir ‘n geleentheid om te stop en staar. Noem dit refleksie punte, noem dit wat ook al, ons het dit meer gereeld nodig om te stop en staar.

Nou die dag word ek in my spore gestop soos wanneer ‘n hartmonitor se lyn platval in die hospitaal. Dit was ‘n blik in die toekoms in – ek lees 2 Petrus 3:11-13 raak. Dit skud my kern en laat my stop en vra, ‘waarmee hou ek my besig?’. Ek kry toe eers koffie en doop hierdie verse in die teenwoordigheid van die Heilige Gees.

As al hierdie dinge so sal vergaan, watter besondere mense moet julle dan nie wees nie – mense wat ‘n heilige lewe lei en godvresend leef, wat na die aanbreek van die dag van God uitsien, en dit probeer bespoedig. Dit is die dag waarop die hemele, deurdat dit verbrand word, sal vergaan, en die elemente sal uitbrand en wegsmelt. Maar ons verwag, volgens sy belofte, nuwe hemele en ‘n nuwe aarde, waar geregtigheid woon. 2 PETRUS 3:11-13

Hierdie verse daag my uit om die nutteloosheid te besin oor waar en hoe ek my tyd, energie en geld spandeer. Waaraan is ek besig om te bou en sal dit die toets van alle toetse eendag weerstaan. Bou ek dalk aan iets wat gaan wegbrand in die teenwoordigheid van ‘n heilige God, maar meer, en ek sluk swaar aan hierdie een, dra ek by tot hoekom God talm?

‘n Goeie vriend vra my nou die dag, nogal baie ernstig, “waaroor gaan hierdie lewe dan nou eintlik?” Ek kon nie regtig antwoord in daardie oomblik nie. Fantasties hoe God mense lei om vrae te vra en dan die antwoord te bevestig uit die Woord. Die vriend antwoord toe self terwyl ek met ‘n bek vol tande sit. “Siele”, is sy antwoord, die lewe gaan oor siele.   

Dit is asof hierdie vriend ook al by hierdie uitkykpunt gestop het. Ek neem sy antwoord en daag myself uit om siele ‘n stappie verder te neem – die lewe gaan oor getransformeerde siele. Petrus verduidelik in sy brief dat wat belangrik is, is ‘n siel wat heilige toegewyd aan God lewe – die siel se leefstyl kan nie anders as om te skreeu van God se heerlikheid. Petrus gooi nog iets by, hierdie siel lewe met ‘n ewigheidsfokus en ‘n heilige ontsag vir wie God werklik is.  

Dink so daaraan, hoe tragies sal dit wees as jy jare en baie moeite spandeer om ‘n wonderlike sandkasteel op die strand te bou. Alles pragtig en in plek, met torings en ‘n diep, wye mout. Huisgenoot doen ‘n voorblad storie oor jou kasteel en die volgende dag kom ‘n springgety en slaan jou pragtige kasteel plat. Al daardie tyd, al daardie moeite, en al wat jy het is ‘n Huisgenoot wat verseker eendag gaan brand.  

Hierdie storie is waar, die hemel en die aarde gaan eendag vernietig word en alles daarin. Al ons aardse prestasies, besittings, toekennings, alles wat ons met soveel moeite bou, dit alles gaan eendag tot as gereduseer word.

“Nogal ontmoedigende storie wat jy hier skep Willem.” Moet nie bekommer nie, ek voel dieselfde, dit is hoekom ek eers moes stop en mooi dink, waarmee hou ek myself besig.

Dit laat my toe verder kyk, die verte in. Wat is dan ewig? Waaraan moet ons tyd en energie spandeer? Daar is 3 dinge wat ek vir ‘n feit weet gaan hou:

God se Woord:
“Gras verdor, blomme verwelk, maar die woord van ons God sal vir ewig staan” (Jesaja 40:8). God se Woord is ewig en onveranderlik. Dit is ‘n vaste fondasie waarop ons ons lewens kan bou.

Siele van Mense:
Elke mens het ‘n ewige siel. Jesus het gesê: “Want wat sal dit ‘n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly?” (Markus 8:36). Om in die geestelike welstand van ander te belê, het ewige betekenis.

God se Koninkryk:
Jesus het ons geleer om eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid te soek (Matteus 6:33). God se koninkryk is ewig, en ons pogings om dit te bevorder sal ‘n blywende impak hê.

(Ek wonder of julle nog goed kan byvoeg tot hierdie lys wat ewig sal bly staan?)

Anders as die wêreld se beoordeling, is Petrus nie bekommerd oor wat ons moet doen nie, maar eerder oor watter tipe mense ons behoort te wees terwyl ons wag vir die finale toets. Snaaks, dit is nie ‘n 7 stap plan, of ‘n powerpoint presentation nie, ‘n self-help boek van die nuutste skrywer nie. Nee dit is eenvoudig ‘n siel wat heilig en goddelik in  God lewe.

Getuig ons lewens van gedrag wat ons uitsonder as volgers van Jesus? Kan mense sien dat hierdie siel weet wat ewig is? Wys ons lewe dat ons in verhouding met God staan, in diepe vreugde want Hy bemin en gelief ons? Met eerbiedige ontsag vir Sy alwysheid, alomteenwoordigheid en onbegrensde krag. Kry God die eer of hou ons dit vir onsself? Word God verheerlik in alles wat ons doen? Wil vir my lyk hierdie siel het nog werk om te doen. Staan op siel, daar is ‘n ewigheid wat wag!

Terwyl ons wag op die nuwe hemel en die nuwe aarde, waar geregtigheid woon, kan ons uitsien na ‘n toekoms waar ons ‘n volmaakte, ononderbroke verhouding met God sal ervaar. Stel jou ‘n wêreld voor waar daar geen sonde meer is nie, geen pyn, en geen skeiding tussen ons en God nie. Dit sal ‘n plek wees van volmaakte vrede, vreugde en vervulling. Waar God self ons diepe vreugde gaan deel oor hoe ons toegelaat het dat God se Woord ons gevorm het. Daar waar hy ons gaan beloon vir die siele wat ons vir Hom versorg en toegerus het, en hoe ons sy Koninkryk in gehoorsaamheid help vestig het. Dit sal ‘n plek wees waar ons Hom met ons hele hart sal aanbid en in volmaakte harmonie met Hom en met mekaar sal leef.

Terwyl ons nadink oor die nutteloosheid daarvan om dinge te bou wat nie ewig is nie, laat ons herinner word aan die belangrikheid om ons lewens te belê in dit wat werklik saak maak. En laat ons met gretige verwagting uitsien na die nuwe hemel en die nuwe aarde, waar ons vir ewig in die teenwoordigheid van ons ontsagwekkende God sal woon. Mag hierdie ewige perspektief ons keuses lei en ons inspireer om lewens te lei wat die heerlikheid van ons opgestane Verlosser, Jesus Christus, weerspieël.

Indien jy KleiTablette se stories geniet, maak asb ‘n donasie!

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius