Table of contents
Share Post

Daar is vier, nee vyf goed wat ek net nie kan gryp met my menslike verstand. Dit sweef op plekke waar ek net met die hulp van ander kan kom. Met die hulp van die Allerhoogste kry ek ‘n oomblik se aanskouing van die Waarheid soos Hy dit gespreek het.

Die eerste is die skaamte van een wat anders doen as wat sy doel of ontwerp is.

Die tweede is die vermoë van ‘n klein mannetjie om die limiete van die lewe en alles daarin te toets.

Die derde is die geloof van sekere vroue dat haar prag in grimering, juwele, kleure en die perfekte figuur lê.

Die vierde is die vermoë wat in die hart van ‘n mens lê om te neem dit wat hom of haar nie toekom nie.

Maar die vyfde is die onvoorwaardelike liefde en genade van die Vader, wat Sy Seun gestuur het om alles te vernuwe.

Ek sê dit sommer prontuit sonder ‘n kleitablet of ‘n seepboks, ek sien uit na die nuwe hemel, maar ek geniet, in diepe dankbaarheid, die vernuwing wat Jesus elke dag in ons lewe maak.

Of ek hierdie dinge verstaan of nie, ek weet daar is Een wat dit alles gemaak het. As ek deel wil hê in die dinge wat ons Skepper gemaak het en dit so doen soos hy dit bedoel het, moet ek myself onderwerp aan Sy WAARHEID en verstaan wat Hy sê – én dit LEWE. ‘n Oorvloedige lewe.

Ek luister na ‘n boek.

Ja oupa sou met groot bewondering gestaar het na wat gebeur nou se dae. Die omwentelinge wat gebeur het vandat hy gaan rus het. Ons luister na boeke, laai ons sigarette en tandeborsels, maar aan in die ander hand, soos Naas sou sê, gaan ons weer na inry restaurante en luister musiek op ‘vinyl’ of te wel langspeelplate.

Maar die kort storie lank, is dat oupa lekker sou saam luister na hierdie boek van ‘n Sjinese evangelis wat in die tronk beland het omdat die regering nie daarvan hou dat enige iemand anders glo as wat hulle sê. In daardie tronk gaan hy deur hel en word hy gelyk aan sy verlosser, Jesus Christus. Die leiding kan nie verduidelik word nie, maar met die tyd wat hierdie hemelse man het, besef hy tog steeds dat hy meer tyd saam met God moet spandeer en nader aan Hom moet groei, terwyl hy nie vaskyk na al die sleg wat rondom hom gebeur nie. Hy moet lewe in die nabyheid van die een op wie ons HOOP om dinge te verander vir Sy heerlikheid.

Hierdie gedeelte uit die boek ruk my soos ‘n ‘ankle-tap’, hier aan die stert kant van twintig een en twintig.

As ek terug kyk op hierdie jaar wat gevolg het op ‘n ander ‘fantastiese’ unieke jaar, mag ons dalk nie verstaan hoekom die regering doen wat hulle gedoen het nie. Ons begryp nie hoekom die wêreld liries raak oor ismes en mense verheffing nie. Wie is reg en wie is nie reg nie? Wat is die waarheid en wat is nie die waarheid nie? Alles vrae wat mens kan knel en kan laat verdrink, as ons dalk mag dink dat ons, as skepsele, die vermoë het om reguit te antwoord.

‘n Arrogansie wat die vrome Job op ‘n harde manier moes leer, toe alles oor homself gegaan het. Ek myself en kiepie.

“Waar was jy toe ek alles gemaak het?”

Ek verwonder my dat baie van die aanbiddingsliedjies vra – “HOE GROOT IS GOD?”

Kan ons verstaan, wanneer ons die nuwe jaar in die gesig staar? ‘n Jaar wat ook nog baie uniek en interessant kan wees. Sal ons verstaan as ons probeer staan, met ons self, en probeer verduidelik uit ons Whatsapp, Facebook, selfhelp boeke en slim teorieë hoe alles gemaak is en wat die doel daarmee is?

Ek sing sommer sonder skroom uit volle bors hier in die genade van ‘n houthuisie, “HOE GROOT IS GOD?”

Ons kan nie aanhou om vir God te vertel hoe sy skepping werk nie, ons kan nie aanhou volg wat óns glo is God se wil, of regverdig wat ons doen want ons het gebid daaroor, as ons oor die horison na twee-en-twintig tuur nie.

Daardie hemelse man, in die pratende boek, het bely dat hy meer tyd sal neem om by die Vader uit te kom om te luister na wat die Een sê. Die EEN wat IS, die EEN wat sê en dan is dit soos Hy gesê het.

Julle het al die tyd in die wêreld, want Hy het al die tyd reeds gekoop sodat ons Hom kan dien uit dankbaarheid en in volkome nederigheid.

Die Vader wat met oop arms, vol liefde en vergifnis, smag om jou te omring met Sy heerlike teenwoordigheid, elke lieflike dag. Hy het reeds in SY WOORD oor jou gesê wat jy IS.

Dan maak dit nie saak hoe uniek of interessant die volgende twaalf maande gaan wees nie, want al mag jy in die tronk wees, maar binne die Wil van God, sal jy vreugde en vrede ervaar. Altyd ‘n geleentheid om Sy krag en liefde te beleef.

Dankie vir almal wat ‘n paar van hierdie stories raak gelees het. Mag julle Sy stem hoor, en verstaan hoe onvoorwaardelik lief Hy julle het.

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius