Ek skryf op ‘n kleitablet, ‘n verhaaltjie oor afwisselende vastery, of te wel ‘intermittent fasting’. Mense wat ken van vas in die oggend, terwyl meneer Kellogg’s ons breine al van vroeg geïndoktrineer het dat ontbyt die enigste maaltyd is, sal dalk saam met my kan gesels. Indien nie, probeer jouself indink. Jy het aandete die vorige dag vroeg geëet, want die kinders neul al ‘n uur na middagete vir iets. Somtyds is die beste manier om hulle stil te kry, om iets in hulle monde te sit. Moet my asseblief nie aangee nie, ons sit nie opgerolde rugbykouse in hulle monde nie, ons dink net daaraan. As jy nie skelm die leeu se gunsteling peuselhappie êrens voor slaap tyd ingewerk het nie, is jou maag so leeg soos ‘n papsak op ‘n Vrydagaand in die Kaap Kolonie.
Nou staan jy op, die volgende oggend. Die oggend mense, gewoonlik met ‘n sprankel in hulle oge. Die aand mense asof jy ‘n een miljoen kerslig flits in hulle oë skyn. Maar ek het dit nou al op vroulief, my patattige, oggend mens, getoets. Hierdie vastery maak van almal aand mense. Gelukkig stel die kenners ‘n koffetjie voor, dank die Almagtige Vader daarvoor. So ‘n koffetjie met ‘n homp botter om jou maag goed te olie, want daar gaan mos nou niks daar binne aan nie. Mens moet nou nie jou droë maag laat kraak nie.
Teen tienuur, lyk dit of die ganse wêreld teen, net, my gedraai het. Ek bly nou maar stil tussen opstaan en eerste proesel, want ek begin onwillekeurige ‘fights’ met mense, en soms ook met objekte wat nie eers kan terug baklei nie. Wat vir my die vreemdste is, is die snaakse ervaring van al die emosies sonder die hongerpyne in die maag. Daar moet iets meer as net ‘n geoliede, uitgesuigde papsak in jou maag wees om hongerpyne te ervaar.
Ek kan verseker ‘n ooreenkoms tref tussen hierdie ervaring van vas en die ontslae raak van wêreldse oortuigings, gelowe en gewoontes. Dit is verseker en vas (sien wat ek daar gemaak het), dat as God jou vrygemaak het, ís jy WAARLIK vry. Maar die liggaam wat jy mee saam lewe, vat tyd, en gaan jou gereeld herinner aan die ou maniere. Maar daarom het ons die Heilige Gees ontvang om ons te leer en te lei, en om vir ons die waarheid duidelik te wys. En wanneer jy deurgedruk het, is die prys groot en heerlik. ‘n Lewe vry van sonde en dood, IS LEWE.

