Table of contents
Share Post

Terwyl ons almal voort stoom op ons eie spoor, salig onbewus van die duisende besluite en aksie wat ander mense elke dag vorm en maak, torring ek nou al te lank aan ‘n storie. Ek laat weet almal, waar jy ook al uitspan, mag julle gemiddelde temperatuur gunstig wees vir rooiwyn en julle tande die sappige soet vleis van ‘n waatlemoen kou. As jy jouself in die noordelike halfrond bevind, hoop jy het hope hout om warm te bly.


Hierdie harige jaar is besig om vinnig einde se kant toe te staan. Ons dank die Vader vir die vakansietjie. Dit bring vreugde soos ‘n goeie sny en sjampoe by die fênsie haarkapper in die stad. Die een wat ‘n verniet drankie by jou ‘gesofistikeerde knip’ ingooi. Ek het nog net van hierdie besigheid gehoor, Vroulief trek ‘n Wahl, sonder kammetjie, elke tweede week deur my ronde kop-dop. Ai maar ek is gebless.


Ons vakansie hierdie jaar is ‘n in-stappie, want ons het besluit die huis kort regtig diep en deurdagte aandag. So ons werk aan daardie lys goete wat ons in 2022 opgestel het. Die lysie is so lank ek voel ons gaan nog ‘n maand vakansie nodig hê. Knipoog-knipoog, skimp-skimp, as my baas hierdie lees.


Almal vertel vir my hoe ‘n rowwe jaar hierdie was. Ons (dis nou Vroulief, ek selwers, die kinners en ons twee Staffies) stem saam, die laaste twee jaar voel soos ‘n dekade. Seker omdat ons dink dit is sjanana om die week se werk van 3 Sjinese fabriek werkers in ‘n dag te doen. Of dalk is dit omdat ons vergeet om te Shabbat – ‘n dag om fees te vier oor wat jy bereik het en te bid in rustigheid vir wat voorlê.


Ons het wel ‘n  besonderse voorreg ontvang om  ‘n naweek, net voor die vakansie, te gaan kuier op ‘n plaas in die Wes-Transvaal. Ons loseer langs ‘n dam. Die geriewe is 5 bosveld sterre. Dit is ‘n besonderse plek; 3 braaiplekke en ‘n stort onder die sterre. Maar wat hierdie kuier besonders maak is die mense. Dis die mense wat die grond bewerk sodat ons kos by Woolies kan koop. Aan al die kinders van die stad, kos kom nie in pakkies uit die grond nie. Daar is boere wat op hulle knieë bly vertrou vir reën en gunstige omstandighede om daardie braai hoender op ‘n Sondag in jou maag te sit, en al wat jy moet doen is kou. Ons leer op die plaas om ons kos te waardeer.


Ons ontmoet ‘n paar van hierdie boere en hulle laat my lag. Hulle praat van Sabbat-Suipers (mense wat op ‘n Maandag kan werk met ‘n babbelas) en Stof-Krokodille. Hulle beïndruk my met hulle kennis oor reënval patrone en hoe oud die aarde regtig is, dit is glo ‘n bietjie jonger as wat die wetenskaplikes beweer. Hulle het altyd ‘n plan, hulle is aanpasbaar se baas. Met hierdie hittegolf, wat kwepers in jellie aan die boom verander, verduidelik hulle hoe twee weke se werk in ‘n paar dae gedoen moet word, want een of ander profeet het gesê as die mielies nie 16 Desember in die grond is nie, is daar moeilikheid.


Ek lief hierdie mense meer as familie. Niks pretensieus nie. Van tyd tot tyd word hulle ook kwaad vir ander mense, maar net as hulle verkeerd opgevryf word. Dan word daar met bravade vertel hoe vuiste amper geswaai het. My lag borrel uit my maag wanneer een van die hoof karakters by die bar in stap, gereed om ‘n paar koppe te kraak en oë blou in te kleur. Sal daar wragties een van die dorp se onskuldige, tog gereelde besoekers, daar sit en om kyk. Daar makeer niks met die ou likkewaan, maar hy sal sonder om sy blik te verander vra, “Wat kyk jy?”


Ons het as kinders mekaar uitgedaag met “wat kyk jy?”. My broer het altyd terug geantwoord “kyk is vry”. Ek het lank later eers besef “vry” beteken dat kyk gratis is, en nie soen nie.


Lang storie kort, ons toets mekaar soms op die vreemdste maniere. So asof ons net wil seker maak dinge is reg tussen ons en ‘n ander. Ons toets of mense betroubaar is. Ons kyk of hulle gesigte ons sal oortuig van goedheid en gunstigheid. Of hulle ons nie dalk gaan skade aan doen, of dalk verwerp.
Ons doen hierdie “wat kyk jy?” toets, met en sonder bewustheid. Ons doen dit met nuwe en ou kennisse, mense van ander kulture en kerke. Ons doen dit met familie, koninklikes en bekendes. Ons toets want ons wil weet of ons veilig is van die sonde las wat ons almal treiter. Ons toets meestal uit vrees, want mense het ons al verkeerd opgevryf, verkeerd behandel, ons wag nog steeds op beloftes wat met ‘n eerlike êrens gemaak is. Ons toets want ons het al te veel seer gekry. Te veel keer kanse gegee en vir die een of ander rede het mense nie na ons verwagting, nee broer, selfs die verwagting van die Bybel gereageer nie.


Ek wonder of ek al ooit mense se verwagting van my skade aangedoen het. Seker nie. Hoe is dit moontlik. Ek is dan so ‘n goeie christen.


Hierdie, ‘wat kyk jy?’-toets, het Adam en Eva ook gedoen, toe hulle aangejaag het en gaan wegkruip het in die tuin. Terwyl God met reg kan kyk, tog altyd met liefde kyk en nie veroordeling nie. Ons toets God ook, want ons twyfel soms of God ons situasie verstaan en of Hy regtig omgee. Ons toets Hom as ons dink Hy is nie in staat om te help nie. Ons vergeet wie God werklik is en dan toets ons Hom met ‘n “wat kyk jy?” houding. Terwyl God ons toets met ‘n ‘waar is jy?’ vraag. Hy nooi ons altyd terug na Hom en Sy manier.


Hierdie storie is gebore uit my eie “wat kyk jy” houding teenoor God, toe ek myself opgehef het om vir God te vertel hoe my lewe eintlik moet lyk. God maak my bewus deur ‘n duidelike waarskuwing wat Hy aan die Israeliete gemaak het, nadat hulle dors was in die woestyn. God het hulle belowe dat Hy by hulle sal wees en vir hulle sal sorg, ja selfs deur die moeilikste, droogste, gevaarlikste en aakligste tye.


Daarom bely ek hardop dat ek kleingelowig was in 2024 en ek glo dit is die rede hoekom dit so ‘n harige jaar was. Maar ek loof die Here dat Sy belofte vir ons dieselfde bly – Hy sal elke oomblik saam met ons wees in 2025.


Geniet HOM!!!

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius