Table of contents
Share Post

Wat is kouer as ys? Want die ys in my yskoffie is besig om te smelt soos die klere aan my lyf besig is om in die sweet van my aangesig te smelt. Dit is warm hier in die houthuis. Ek is bekommerd hierdie huisie kan enige oomblik in ‘n groot braaivleis vuur ontbrand. Daarom bedank ek die ys in my yskoffie, vir die koue wat hulle offer saam met die romerige koffie en himalaja-sout karamel geursel. Verpak jou afkoel drankie netjies, het my oorle tant Soena altyd gesê. Die antie het styl gehad.  

Dit laat my dink aan die werker by die kerk wat bottels water vries in ons vrieskas en dan verkoop aan die mense daar by Rockfields Village. Entrepreneur duisend, daardie Willem.  

Ek dink ons kan ys gebruik vir ruilmiddel, juis nou in die middel van so ‘n hitte golf soos hierdie een. Ek sal nie omgee om in ys betaal te word nie. Mag dalk nie so prakties wees nie, maar dit help teen die hitte, maar net vir ‘n wyle.

Dit laat my weer dink aan die tipe dinge wat ons pastoor ons by die kerk leer. Soos dat grootmenslewe die vermoë is om kort termyn plesier uit te stel vir lang termyn waarde. Die man is waarlik slim. Maar ek wil so graag ‘n kind bly oom. Ek wil ysies eet en op my fiets weely. Basta met jou, jou klein karnallie! Dit is tyd om te groei en te word wat die hemelse Vader jou gemaak het.

Die lewe is so vlugtig soos ‘n blokkie ys in ‘n hittegolf of ‘n mikrogolfoond of ‘n glas coke langs die braaivleisvuur. Die een oomblik ys, die volgende oomblik ‘n plassie. Soos wat ek hierdie onderwerp van ys ondersoek, kom ek agter dat daar iets is wat die vreugde van my lewe ernstig verkort, nog meer as ‘n hittegolf of ‘n bakoond by ‘n staal smeltery.

Dit is ‘n slagoffer mentaliteit.

Ek weet, want ek probeer dit elke nou en dan. Ek word geaffronteer deur die belaglikste uitsprake van mense wat sukkel om Jesus se liefde en genade te verstaan en dan spin en top ek in die rondte soos ‘n mikrogolf oond se glas blad. En daar is die yskoel vreugde van my lewe net ‘n stoom walmpie in ‘n staalboks.

Dit is so maklik om die slagoffer te speel. Jy speel letterlik al die verskoning kaarte wat jy aan kan dink oor hoekom jou lewe nie lyk soos jy dink dit moet lyk of hoekom mense jou moet hanteer soos ‘n koninklike. Baie keer is dit omdat ek die standaard stel en verwag dat almal daarby moet hou. Maar ek weet mos ek kan nie eers by my eie standaard hou nie. Ek vou elke keer soos ‘n boks, ja ek maak ook foute. Tog voel ek soveel beter as ek ander se foute kan uit wys. Dit is makliker om die slagoffer te speel as om die verantwoordelikheid te neem om my ys koud te hou.

Ek het geleer dat daar werklike slagoffers is en dan is daar sla(n)goffers. Die regte slagoffers is daardie mense wat die gatkant van die lewe beleef het en nog steeds ‘n wonderlike yskoel sukses van hulle omstandighede maak. Dan kry jy sla(n)goffers, wat hulleself voorstel as die slagoffer van ‘n ‘onregverdige’ situasie. Dit is soms moeilik om te onderskei tussen hierdie twee offers, amper soos ‘n slang in die lang gras. Dit byt jou sonder dat jy weet en voor jy jou kry word jy die sla(n)goffer, vol aanstoot-gif en bitterheid.

Die gif van aanstoot neem, ken ek goed. Dit kontamineer meeste mense en die keuse hoe jy dit hanteer is wat waarlik saak maak. Ons gaan nooit-ooit weg kom van die seer en onreg van ‘n gebroke wêreld nie. As jy dink dat mense jou moet hanteer op ‘n sekere manier, net omdat jy reg lewe, mis jy reeds hoe genade werk. Ons almal jaag aan en nie een is perfek nie.

Aanstoot is ons manier om, wanneer ons plat is, ander mense  om te stoot met ons pyne en probleme. Die kern probleem is, ek kies om alles rondom my oor myself te maak. Ek, myne en myself. Dit is gagga-giffies, mense!!   

Wat maak ons met hierdie aanstoot en gevolge van ‘n gebroke wêreld en as jy in Suid-Afrika woon, sommer ook die munisipaliteit?

Eerstens, weet dat ons almal sit in dieselfde wêreld wat nie lekker werk nie. Al lyk dit op Facebook of daar net mense is wat opstaan met klaar gemaakte hare – dit is fake. Ons almal werk of hard om mense te beïndruk of ons werk hard om onsself te bewys. Maar eerlikwaar, beide is maar net vir myself. Snaaks hoe niemand op sosiale media wys wat dit kos om te ‘arrive’ nie. Ek stel voor moet nie vergelyk en begeer wat ‘n ander geniet nie. Niks in die lewe is verniet. Al wat wel ware, blywende seën bring, is om ‘n seën vir ander te wees.

Probeer dit, wees ‘n seën vir ander en kyk wat gebeur.

Tweedens, ons almal maak foute. Soos die dominee van De Aar altyd gesê het. Gebore en gelos in sonde. Die eerste stuk is waar, die tweede een is ‘n dik vet leuen. Ons maak foute en is alleen verantwoordbaar aan net een persoon, God. Mense kan baie goed oordeel en veroordeel. Soms veroordeel ons meer as wat ons oordeel, in die diepe hoop dat ons beter gaan voel oor onsself. Weereens, dit gaan nie oor my nie.

Daar is net een manier uit hierdie gemors van mense wat ons probeer omstoot met hulle eie seer en pyn en dit is om te doen wat Jesus gedoen het. Hoe oorwin ons die gif van aanstoot? Ons neem dit nie, ons pass dit aan vir die Een wat alle pyn en sonde klaar gedra het. Ons verklaar, met ons lippe, dat Jesus ons verlos en vergewe van sonde, en alleen dan kan ons ook vergewe.

MAAR, LUISTER NOU MOOI, dis alleen moontlik as ons erken en bely dat ons niks gedoen het om Jesus se vergifnis te verdien nie! Hy het dit vrylik en verniet vir almal gegee.

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius