Hier is gou ‘n gedagte wat my gedoop het in heerlike HOOP, soos ‘n Ouma beskuit in stomende moerkoffie. Dit is aldag dat ek myself kan verknies oor dinge wat nie was nie of dat ek voel dinge is nie soos ek weet dit kan wees nie. Ek kyk terug op ‘n jaar wat lankal sy dinges gesien het en wonder, wat het nou eintlik gebeur tussen 1 Januarie en 31 Desember van die jaar van ons Heer, twintig, drie-en-twintig. Ek wonder sommer hier hardop voor ‘n oop houtraam venster wat uitkyk op die groen van Kikuyu gras, vyeblare, Teardrop populiere en ‘n Campher boom se baadjie, wat was nou die waarde van al die sweet wat oor my aangesig gestroom het?
Dalk moet ek nie so dramaties wees nie. Maar ek kom agter om terug te kyk en my te bekommer oor wat ek nie bereik het nie, gaan my meer mismoedig maak en laat verlang na die kospotte van Egipte, en voor ek my kry dan mor en kla ek soos ‘n stywe-nek Israeliet wat nooit tevrede is nie.
Net buite ons voordeur is daar ‘n interessante plant wat ek amper seker is, my Ma nog kom indruk het sonder dat ons geweet het. Sy laat geen oorvloedige stukkie plant mors nie, dit word op enige plek in die grond gesteek, om te groei. Ek weet wragtig nie wat die plant is nie, en sal graag julle kundiges se terugvoer waardeer?
Ek neem die blom van die plant af want dit staan uit soos ‘n pienk puisie op ‘n tiener seun se neus, sommer net hier in ons voortuin, maar net mooier. Ek hou hierdie blom vir ‘n ruk dop. Elke keer stap ek verby en sien hoe dit van helder pienk verander in ‘n valer pienk.
Vanoggend besluit ek om weer ‘n foto van naby te neem en bespeur iets heel onverwags. Binne die stekelrige pienk blom is daar iets wat soos pers bloeisels lyk. Wat kan hierdie wees?
Dit lyk of daar blomme ontwikkel binne die blom. En vir ‘n oomblik kraak daar ‘n stukkie harde kors in my binneste wat vars koel water deur my bekommerde woestyn gedagtes laat vloei. Dit laat weet ons:
Wag, dit wat kom is nog meer en mooier!!


