Table of contents
Share Post

Natuurlik kan jy dit doen, my seun. My groot hand slaan moed teen sy vlerkies vas. Hy betree die slagveld met ‘n tree van vertroue. Hy weet sy pa, hier op kantlyn, het sy rug. Daardie tree versnel tot sy bekende draffie. ‘n Draffie wat jy sonder moeite tussen honderde landloop atlete kan uitken. Die regter wat hierdie stryd moet beslis wag in die middel van die plat vallei vol strepe, vir twee mannetjies van beide 15-man kommando’s. ‘n Muntstuk spin die lug op en besluit die rigting van inval, en wie die eerste skoot gaan afskop.

Ons ry magtige krygers wag vir hul leier om te hoor waar hulle gaan stelling inneem. Soos ek wegstap gee ek kneukels van motivering, en kry hoendervleis as ek die fokus in hulle oë sien. Van hulle snork soos gehokte resiesperde terwyl hulle voete skud en stamp. Ek sluit aan by vroulief agter die tou wat ‘n horde barbare terughou, om nie ook die slagveld te bestorm. Van die Pa’s lyk ook soos gehokte perde.

Nou kan ons nie meer veel sê of doen nie. Moeilik maar waar, nou kan ons laat vaar en vertrou hulle doen die werk wat hulle voorberei het. Elke seun staan alleen teenoor sy teenstander gereed om mekaar te duik, tackle, systap en af-stamp. ‘n Skril fluitjie begin die veertig minute se veldslag, waarin hierdie klein seuntjies gaan probeer om ‘n eiervormige bal oor die teenstanders se lyn te dra.

Die stryd is hard en die ouers kreun gereeld saam soos groot duikslae uitgevoer word. Gereeld word ‘n groot tannie met rooi oorpak langs die kant ingeroep om ‘n sakkie-ys op ‘n blou kol, knieg, skouer of enkel te sit. Maar die mannetjies staan op en gaan aan. Hulle wil nie een oomblik van hierdie skermutseling mis nie. Die fluitjie blaas weer, ‘n ry plaasvervangers en ou hardebaard afrigters kom opgehardloop. Hulle dra ‘n kas vol waterbottels en ‘n tupperbak met lemoenskywe. Die hardebaarde praat dat die spoeg spat terwyl die mannetjies kopskud en lemoenskille suig.

Nog ‘n helfte en daar is ‘n verligting op elke ouerhart as die laaste fluitjie blaas met die telbord wat aandui dat ons span die oorhand gekry het. Dit was net-net, maar dit was die sterkste vyand in die kontrei. Ons manne skud die opposisie hande en sê dankie dat hulle kom verloor het.

Dit laat my dink aan ‘n les wat ek nooit geleer het in my rugby-dae nie. Hoe hartseer. Dalk wou ek net nie luister nie, of dalk het dit te veel gegaan oor wen. Wen is lekker en ‘n volwaardige beloning vir harde samewerking op ‘n rugbyveld. Maar verloor is ‘n beter leermeester. Verloor het die vermoë om diep te soek in jou self.

Ons vra gereeld hoekom gaan dit so swaar in die lewe. Dit help ons om te leer, om te vra waar moet ons verander, of waar moet ons saamwerk en vertrou.

Maar verloor het ook die slegte manier om fout te soek by ander. Dit is makliker om te blameer as die resultate nie gaan soos wat ons verwag het nie. Dit het ‘n aaklige gevolg, as jy verwag dat jou eie kroos deel moet wees van ‘n wenspan, maar jy glo die ander kinders dra nie by tot die vermoë van die span nie. Ons kinders doen en speel soos wat hulle hoor langs die veld. Om kinders te blameer kweek onenigheid in ‘n span en dit is soos alge in ‘n swembad. Voor jy jou kry het jy ‘n groen span.

Ons is geregtig tot niks.

As ek kan leer by die cowboys van die wille weste sal ek my kinders die volgende wil leer. Daag elke dag konstant op en gee jou beste. Wen of verloor. Wees nederig en bly positief, selfs wanneer die anders span die oorwinning behaal. Jy kompeteer teen jouself, om elke dag beter te wees as gister.

Die doellyn in die lewe is bepaal deur die Een wat jou gemaak het. Alles wat jy het is gegee. Alles wat jy het is genade. Hier kan jy my dalk ‘teenvoeter’, “Maar, Willem, ek het hard gewerk om daardie dubbel-kajuit bakkie te verdien”. My goeie vriend en vriendin, jy het daardie bakkie gekry omdat God jou ‘n talent gegee het en iemand potensiaal in jou gesien het en jou ‘n geleentheid gebied het.

Die dag wat ons besef dat ons niks het om op te roem nie, wat het ons dan? Die geleentheid om dit wat ons het te gebruik vir die Een wat dit gegee en moontlik gemaak het. Deur om in nederigheid met dankbaarheid te lewe, in vertroue dat daar ‘n hoër roeping is as net die hier en nou. Want as die hier en nou alles afhang van genade, dan moet genade seker ons hoogste doelwit wees.

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius